Ken jy die verskil tussen ontsmetting en sanitasie?

(Foto: Unsplash

Elkeen is nou al bekend met die idee om jou hande te saniteer en om oppervlakke waaraan jy geraak het te ontsmet. Maar hoeveel mense gebruik dieselfde middel vir albei take?

Burt Rodrigues, uitvoerende hoof van Biodx, ʼn biotegnologie-maatskappy wat die samelewing se afhanklikheid van sintetiese chemikalieë ondersoek, sê dit is in die huidige tyd uiters belangrik dat mense sal besef hulle kan nie dieselfde skoonmaakmiddels op hul hande én oppervlakke gebruik nie.

“Voordat Covid-19 getref het, was die terme sanitasie, ontsmet en steriliseer net woorde. Mense het die woorde geken, maar dalk nie die verskil tussen elkeen verstaan nie.”

Rodrigues sê die meeste saniteerders bevat gewoonlik ʼn groot hoeveelheid alkohol (70% word aanbeveel). Dié saniteerders sal vinnig verdamp wanneer dit op ʼn oppervlak gebruik word, wat dit binne sekondes nutteloos maak.

(Foto: Biodx)

Geregistreerde ontsmettingsmiddels moet ook nooit direk op die vel gebruik word nie, maar dit is baie meer doeltreffend op oppervlakke en in produkte as enige saniteerder.

“Dit is uiters belangrik dat mense hulself opvoed oor die verskille, veral wanneer dit kom by die voorkoming van virusse soos die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Elke produk moet 100% doeltreffend wees in wat dit beloof om te kan doen.”

Ontsmetting

Ontsmetting is die proses waarin skadelike bakterieë, virusse en ander mikro-organismes met verskeie chemikalieë doodgemaak, verwyder en verminder word.

Ontsmetting word gebruik op hoërisiko-oppervlakke soos tafels waarop kos voorberei word, oppervlakke in gesondheidsentrums, deurhandvatsels, ligskakelaars, ablusiegeriewe, elektronika, vensters en mure.

Skoonmaak

Skoonmaak is die verwydering van stof of iets wat vuil is. Die vuilheid kan ʼn vaste stof of ʼn vloeistof wees en kan maklik geïdentifiseer word omdat dit ʼn aparte entiteit is van die voorwerp wat vuil is.

Deur die voorwerp of oppervlak skoon te maak, verwyder jy bloot die stof of vuilheid daarvan af, wat beteken dit voel skoon as jy daaraan vat en daarna kyk.

Laerisiko-oppervlakke soos vloere en vensters kan so skoongemaak word.

Sanitasie

Die proses om die voorkoms en groei van bakterieë, virusse en fungi te verminder, maar nie dood te maak nie, word sanitasie genoem.

Sanitasie is beter as om slegs iets skoon te maak, maar ontsmetting is selfs beter in terme van die verwydering van bakterieë en virusse op oppervlakke. Saniteerders bied nie 100% antivirale aansprake nie, en is daarom minder doeltreffend om virusse, soos dié wat griep veroorsaak, op oppervlakke dood te maak.

Rekenaartoerusting, tablette en selfone kan met saniteermiddels skoongemaak word. Wanneer seep en water nie beskikbaar is nie, kan jy ook jou hande saniteer, maar was dit steeds met seep en water sodra jy weer kan. Maak ook seker alle saniteermiddels bevat minstens 70% alkohol om doeltreffend te wees.

Steriliseer

Sterilisasie verwys na die verwydering en doodmaak van enige vorm van mikro-organisme wat bakterieë, fungi en virusse insluit.

Oppervlakke met uiters hoë risiko’s soos by hospitale, mediese toerusting en operasieteaters sal gewoonlik gesteriliseer word.

Antisepties

Antiseptiese middels is antimikrobiese stowwe wat aan die vel of weefsel gewend word om die moontlikheid van infeksie, sepsis of verguising te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.