Kremetartvrug superkos vir maag én vel in wintermaande

Kremetartvrugte is ‘n superkos wat goed is vir die maag én vel. (Foto: Shutterstock)

Daar word soms na die spysverteringstelsel as die liggaam se “tweede brein” verwys omdat dit ʼn sleutelrol in die gesondheid van ons liggame, asook ons geestesgesondheid én veral vel speel.

Daarom meen kenners dat dermgesondheid, oftewel “gut health”, iets is waarop ons onsself veral gedurende wintermaande moet toespits.

Een manier waarop dít gedoen kan word, is met behulp van ʼn superbestanddeel wat aan ʼn ikoniese Suid-Afrikaanse boom hang, naamlik die kremetartvrug.

Die lang, ovaalvormige vrugte van hierdie reusagtige bome, wat soms beskou word as “Afrika se boom van die lewe”,  is propvol gesondheidsvoordele en word reeds jarelank deur inheemse gemeenskappe vir sy medisinale waardes aangewend.

Deesdae is dié vrug ʼn gunstelingbestanddeel vir alles van smoothies en gesondheidstafies, tot velsorgprodukte soos gesigserums.

Hier is twee redes waarom jy dié supervrug deel van jou winterwelstandsplan moet maak:

1. Veselrykheid voordelig vir dermgesondheid

Kremetartvrugte word in ‘n poeierformaat fyngemaal. (Foto: Shutterstock)

Kremetartvrugpoeier is veselryk, voed die bestaande probiotiese bakterieë in die ingewande en bevorder ’n dermmikrobioom vir optimale funksionering. Die dermmikrobioom verwys dus na verskillende mikrobes of mikroörganismes wat in die dermkanaal voorkom.

“Dié mikrobes spel ʼn groot rol in die manier waarop die liggaam siektes beveg, en is daarom veral belangrik vir algehele gesondheid en welstand gedurende die kouer maande, asook vir die vervaardiging van noodsaaklike voedingstowwe en die regulering van die metabolisme,” verduidelik Ruan Winter, bemarkingsbestuurder vir Vitaderm, wat onlangs ook ʼn kremetartpoeier-oplossing bekendgestel het.

Winter sê faktore soos stres, ʼn swak dieet en blootstelling aan gifstowwe kan egter die balans van jou dermmikrobioom versteur, wat tot ‘n reeks gesondheidskwessies lei.

Daarmee saam kan ’n gesonde dermmikrobioom help om gewig te reguleer deur eetlus te beheer, bloedsuikervlakke te balanseer en inflammasie te verminder.

Kremetartpoeier se veselrykheid bevorder egter die groei van gesonde bakterieë in jou derms en kan dus ook help om die immuunstelsel te versterk, voedselallergieë te verminder en selfs die risiko van sekere siektes te verminder.

Een eetlepel kremetartpoeier kan soveel as 4,5 gram vesel bevat, waarvan 75% probiotiese eienskappe het.

“In die winter fokus baie mense daarop om hul immuunstelsels te versterk om verkoue en griep af te weer, maar min besef egter dat die versorging van jou dermmikrobioom net so belangrik vir algehele gesondheid en welstand gedurende die kouer maande is,” meen Winter.

Kremetartpoeier bevat verder ook kalium, ‘n belangrike mineraal wat bloedvate wyer maak en kan help om hartspanning te verminder om bloeddruk te beheer.

2. Vitamien C en antioksidante voordelig vir vel

Kremetartolie kan aan die vel aangewend word. (Foto: Unsplash/Christine Hume)

Dit blyk dat die pad na ʼn gesonde vel dikwels deur ʼn mens se maag gaan, danksy die regstreekse verband tussen ʼn ongesonde spysverteringstelsel en velprobleme soos aknee en inflammasie.

Kremetartvrugte is kragtige antioksidante en bevat onder meer vitamien C, wat help om selskade te voorkom – en oksidatiewe stres te verminder – wat aan die ontwikkeling van kanker gekoppel is.

Dié supervrug is ook ryk aan vitamien B3 en B6, wat onderskeidelik help om die vel, senuweestelsel en spysverteringstelsel gesond te hou.

Sy sterk antioksidante speel ook ʼn groot rol om inflammasie te verminder, terwyl sy hoë omega 3-vlakke die vel bevogtig én beskerm.

Hoe moet ek dit gebruik?

Kremetartpoeier kan in smoothies geniet word. (Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

Anders as baie ander superkosse en aanvullings proe kremetartpoeier nie sleg nie danksy sy soet, sitrusagtige smaak, en word dit as ’n natuurlike sjerbet beskryf. Daarom kan dit maklik met sap, water, jogurt en selfs ontbytpap gemeng word of selfs in gebakte produkte soos plaatkoekies of muffins gebruik word.

Vir velsorg word kremetartvrugte in ʼn olie verwerk en dikwels voorgehou as een van die beste velsorgprodukte vir diegene wat op soek is na effektiewe, natuurlike velsorg. Produkte met dié olie is maklik bekombaar in produkte soos vogrome, maseringsolies en lipsalwe.

Bykomende bronne: Woman & Home, Beet.com, Vitaderm.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.