Naelstringbloed skaars in Suid-Afrika

Foto ter illustrasie. (Foto: Fé Ngô/Unsplash)

Stamselle uit naelstringbloed word tans gebruik om kwale soos bloedkanker, oorgeërfde bloedafwykings en sekere metaboliese en immuunafwykings wat prominent in Suid-Afrika is, te behandel. Toegang tot dié soort bloed is egter beperk.

Bewusmaking vir die berging van naelstringbloed vind jaarliks in Julie plaas. Netcells, een van die grootste private naelstringbloedbanke in Afrika, het ʼn veldtog van stapel gestuur om mense te leer van die belangrikheid van die stoor van die soort bloed en hoe dit kan help om lewens te red.

Dr. Yvonne Holt, mediese hoof van Netcells, meen dat hoewel daar groot internasionale vordering gemaak is met naelstring-bloedbankdienste en stamselbehandeling, die gebruik daarvan steeds nie ten volle toeganklik in Suid-Afrika is nie.

Holt verduidelik dat dié soort bloed ʼn belangrike bron van stamselle is, waarmee talle lewensgevaarlike siektes behandel kan word. Dié siektes sluit verskeie kankersoorte en immuunafwykings in.

“Naelstringbloed se stamselle kan internasionaal by openbare banke wat koordbloed van vrywillige skenkings insamel, verkry word. Aangesien daar nie ʼn plaaslike, openbare stamselbank in Suid-Afrika is nie, word pasiënte op tuisbodem benadeel. Dit is buitensporig duur om naelstringbloedeenhede in te voer.”

Die bekendstelling van Netcells se gemeenskapstamselbank in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) bied egter die geleentheid vir ouers om hul baba se naelstringbloed teen ʼn aansienlik verlaagde tarief te stoor.

Die naelstringbloedeenheid kan dan óf self gebruik word óf deur iemand anders in die gemeenskap wat dalk ʼn lewensreddende oorplanting nodig het.

Indien die naelstringbloedeenhede deur iemand anders gebruik word, word alle koste verbonde aan die berging daarvan aan die gesin terugbetaal.

“Dit sal oorplantingsopsies vir Suid-Afrika se omvattende demografie aansienlik verbeter, aangesien dit moeilik kan wees om ʼn beenburg-stamsel-pasmaat vir pasiënte van Afrika-oorsprong te vind, gegewe die gebrek aan skenkers uit hierdie gemeenskappe. Dit is belangrik om alle Suid-Afrikaners op te voed oor die belangrikheid daarvan om ʼn skenkerbasis op te bou wat alle lede van ons gemeenskap dien,” het Holt verduidelik.

As alternatief kan ouers kies om die private koordbloedbankroete te volg en die volle prys te betaal om sodoende hul baba se koord-eenheid uitsluitlik vir hul kind of gesin se gebruik te laat stoor.

Holt verduidelik dat die proses om bloed uit ʼn pasgebore baba se naelstring te onttrek, maklik en pynloos is. Sodra dit onttrek en afgehaal is, word dit getoets, gevries en in die naelstring-bloedbank gestoor.

“Stamselle uit naelstringbloed word gebruik om disfunksionele bloedproduserende selle in beenmurg met gesonde nuwe selle te vervang. Sodra siek selle deur chemoterapie en bestraling vernietig is, word nuwe stamselle in die pasiënt oorgeplant om die normale werking van die beenmurg te herstel.”

Netcells bedryf ook ʼn bloedskenkerprogram vir broers en susters, genaamd Families of Hope. Dit is daarop gemik om benadeelde gesinne se toegang tot stamselbankdienste te verbeter indien hulle ʼn kind met ʼn stamselbehandelbare siekte het.

“Indien ʼn minderbevoorregte kind ʼn beenmurg-stamseloorplanting nodig het en sy of haar ma verwag ʼn kind van dieselfde pa, sal ons die oes van die naelstringbloed fasiliteer, dit verwerk, toets en stoor totdat dit benodig word vir oorplanting in die siek broer of suster.”

Sedert die eerste naelstringbloed-oorplanting in die laat 1980’s gedoen is, was daar merkwaardige vordering met meer as 40 000 naelstringbloed-oorplantings wat wêreldwyd gedoen is.

“Stamselle uit naelstringbloed blyk ook nuttig te wees in nuwe velde van medisyne om moontlik serebrale gestremdheid, outisme en tipe 1‑diabetes te behandel. As die potensiaal van stamselnavorsing verwesenlik word, kan dit tot talle deurbrake lei.”

Naelstringbloed word geensins as ʼn wondermiddel beskou nie, maar verskaf ʼn belangrike bron van stamselle om verskeie lewensbedreigende siektes te behandel.

  • Vir meer inligting oor naelstringbloed-bankdienste, besoek dié webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Jy is veronderstel om die naelstring aan te los totdat al daai bloed teruggaan na die kind se liggaam. Maar oukei.

VaalDonkie ·

Die afduimpie-brigade se kinders is seker almal anemies en “klein vir hul ouderdom”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.