Nuwejaars­voor­nemens wat jou goed sal laat voel

Jaar ná jaar volg baie mense dieselfde Nuwejaarsvoorneme as dié wat hulle die vorige jaar gestel het en nie bereik het nie – soos om gewig te verloor, op te hou rook, meer geld te spaar en meer oefening te doen.

Nou begin mense al meer voornemens begin stel om beter selfsorg in hul lewens toe te pas. Die goeie ding van selfsorg-voornemens is dat dit jou lewe kan verryk, sonder om ekstra geld te kos of om jouself van lekkertes te ontneem.

Selfsorg is ʼn belangrik aspek van die lewe, maar baie mense skeep dit steeds af. Selfsorg beteken nie altyd komkommerskyfies op jou oë in ʼn borrelbad nie. Dit kan iets eenvoudiger wees soos om meer tyd te bestee aan dinge wat jou gelukkig maak, om tyd vir jouself af te sonder en om jou seëninge te tel.

Hier is ʼn paar selfsorg-gebaseerde Nuwejaarsvoornemens wat jy vir 2021 kan oorweeg:

Skakel af in aftyd

(Foto: Pixabay)

Probeer om meer gedissiplineerd met jou elektroniese toestelle om te gaan. Wanneer jy ʼn naweek weggaan, ʼn familiebraai het, of selfs net een uur vir jouself het voordat jy moet gaan werk, probeer om weg te bly van jou selfoon en ander elektroniese toestelle.

Dié toestelle is deel van ons alledaagse lewe, maar dit is belangrik om dit somtyds af te sit sodat jy net met jou eie gedagtes kan sit, of aandag aan geselskap kan gee.

Praktiese maniere om hierdie voorneme toe te pas is om nie voor 08:00 na jou toestelle te kyk nie, om jou selfoon in die kar te los wanneer jy by jou naweekbestemming aankom of om jou toestelle af te skakel wanneer jy tuis kom ná werk.

Praat mooi met jouself

(Foto: Unsplash)

Daar is nie verniet die gesegde “wat die hart van vol is loop die mond van oor” nie. Wat jy van jouself dink, is hoe jy met jouself praat, en dit dra by tot jou siening van jou selfwaarde en selfbeeld.

ʼn Eenvoudige manier om vanjaar jou dae op ʼn positiewe voet te begin, is om elke oggend jouself ʼn kompliment in die spieël te gee. Staan voor die spieël, kyk jouself in die oë, glimlag en sê hardop: “Jou hare lyk mooi vandag”, “Jy is talentvol en spesiaal”, of, as jy nie aan ʼn kompliment kan dink nie, sê bloot “Vandag gaan ʼn goeie dag wees”.

Wat jy vir jouself sê het ʼn groot impak op hoe jou dag verloop, en dit kos jou niks!

Tel jou seëninge

(Foto: Pixabay)

Gelukkige mense is dankbare mense. As jy elke dag vir jouself ʼn paar goed kan opnoem waarvoor jy dankbaar is, sal jy sien hoe gelukkig jou lewe eintlik is.

Begin ʼn dankbaarheidsjoernaal waarin jy daagliks minstens vyf goed neerskryf waarvoor jy dankbaar is. As jy nie van die idee van ʼn joernaal hou nie, kan jy die vyf goed opnoem op pad werk toe in jou kar. Jy kan selfs in die aande voor slaaptyd saam met jou kinders vyf goed opnoem waarvoor julle dankbaar is.

Skaal af voor bedtyd

(Foto: Unsplash)

Sonder genoeg, goeie slaap kan mense nie sommer optimaal funksioneer nie. Hoewel elkeen ʼn eie hoeveelheid slaap snags nodig het, is die kwaliteit van daardie slaap baie belangrik.

ʼn Maklike manier om jou slaap vanjaar te verbeter is om een uur voor slaaptyd te begin afskakel – jou selfoon, die televisie, jou rekenaar en die radio.

Jy kan hierdie tyd gebruik om ʼn boek te lees, met jou kinders te gesels of om aan jou dankbaarheidsjoernaal te werk.

Strek soggens

(Foto: Pixabay)

Behalwe daarvoor dat oefening goed vir jou liggaam, is strek ook heerlik om jou liggaam aan die beweeg te kry nadat jy ʼn nag lank geslaap het.

Omdat baie van ons agter rekenaars werk en ʼn sittende leefstyl lei, is die uiters belangrik om nou en dan lekker te strek.

Jy kan vanjaar beplan om elke oggend met strekoefeninge te begin. Dit hoef nie lank te vat nie, dit gaan jou nie moeg maak nie, en jy het nie baie spasie nodig om dit te doen nie.

Begin by jou nek en beweeg na jou arms, rug en bene. Doen enige strekoefening wat jy ken en hou die betrokke posisie vir sowat tien sekondes voordat jy na die volgende beweeg. Daar is ook duisende video’s op YouTube om jou te help as jy glad nie weet waar om te begin nie.

Fokus op water

(Foto: Pixabay)

Fokus vanjaar daarop om meer water as enige ander vloeistof in te neem. Dit is maklike maatreël om te volg om seker te maak jou liggaam kry goeie gehalte vloeistof in.

ʼn Maklike manier om dit toe te pas is om tussen elke ander drankie wat jy drink ʼn glas water te drink. So drink jy tussen elke koppie koffie of tee of bier of wyn ʼn glas water om ʼn gesonde gewoonte aan te kweek en jou liggaam gesond te hou.

Doen meer van dié soort goed wat jou gelukkig maak

(Foto: Pixabay)

Skryf ʼn paar goed neer wat jou regtig gelukkig maak. Dit kan iets wees soos om op jou eie te gaan stap, saam met jou kinders fliek te kyk, kos te maak, te swem, met jou ma oor die foon te praat, in die aande te lees, na musiek te luister in die stort of saam met ʼn spesifieke vriendin tyd deur te bring om maar ʼn paar voorbeelde te noem.

Kies dinge wat eie aan jou is en met mense wat dit spesifiek vir jou lekker maak. Poog dan om vanjaar aandag te gee om meer daarvan te doen en jouself meer te omring met dié mense.

Ons bestee gereeld kosbare tyd aan mense en dinge wat ons nie eintlik geniet nie. Sommige van hierdie dinge kan ons nie vermy nie, maar baie keer kan ons, as ons net weet wat dit is wat ons eintlik wil doen.

Balanseer dus die tyd wat jy nié kan beheer nie, goed uit deur te doen wat jou hart gelukkig maak in die tye wanneer jy dit wél kan beheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.