Poliobewustheidsweek gevier

(Foto: iStock)

Poliobewustheidsweek word vandeesweek in Suid-Afrika gevier om meer lig op dié verlammende en lewensgevaarlike siekte, wat deur die poliovirus veroorsaak word, te werp. Ofskoon die siekte tot groot mate in sy spore gestuit is, het dit allermins van die gesondheidstoneel af verdwyn.

Gevalle van poliomiëlitis, of kortweg polio, het die afgelope paar dekades drasties afgeneem, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie, maar raak steeds talle kinders onder die ouderdom van vyf jaar wêreldwyd. Trouens, dié siekte kan jare ná skynbare genesing wéér kop uitsteek en skielike spierpyn, swakheid, verlamming en selfs die dood tot gevolg hê.

Die geskiedenis van polio

Polio is ’n hoogs aansteeklike virus wat van persoon tot persoon oorgedra word, die rugmurg aantas en verlamming tot gevolg kan hê. Die siekte bestaan reeds sedert die antieke tye, met talle bewyse hiervan wat op verskeie Egiptiese grafskilderye aangeteken is.

Die internasionale Rotariërbeweging het in 1985 ’n projek begin om kinders teen polio te immuniseer, gevolg deur die stigting van die wêreldwye polio-uitwissingsinisiatief (Global Polio Eradication Initiative oftewel GPEI) in 1988.

Met die aanvang van die GPEI het polio daagliks nog meer as 1 000 kinders wêreldwyd verlam gelaat. Sedertdien is meer as 2,5 miljard kinders teen polio geïmmuniseer danksy die samewerking van sowat 20 miljoen vrywilligers in 200 lande.

Simptome

(Foto: iStock)

Die meeste mense wat met die poliovirus besmet word (ongeveer 72%) sal geen sigbare simptome hê nie, sê die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (Centers for Disease Control and Prevention, CDC). Ongeveer 1 uit elke 4 mense (of 25%) sal griepagtige simptome hê wat gewoonlik tussen 2 en 5 dae duur en dan vanself opklaar. Dié simptome sluit ’n seer keel, koors, moegheid, naarheid, hoofpyn en maagpyn in.

Sowat 1% van mense wat met die virus gediagnoseer word (of tussen 1 en 5 uit elke 1 000 mense) sal ander, meer ernstige simptome ontwikkel wat die brein en rugmurg raak. Dit sluit in:

  • Parestesie (paresthesia) is ’n gevoel van spelde en naalde in die hande, voete en/of bene.
  • Meningitis (breinvliesontsteking) is ’n infeksie van die bedekking van die rugmurg en/of brein, wat by ongeveer 1 uit 25 mense met die poliovirus voorkom.
  • Verlamming of swakheid in die arms, bene, of albei, kom by ongeveer 1 uit elke 200 mense met polio voor.

Verlamming is die ernstigste simptoom wat met polio verbind word, want dit kan tot permanente ongeskiktheid en selfs die dood lei. Tussen 2 en 10 uit elke 100 mense wat verlamming weens poliovirusinfeksie ervaar, sterf omdat die virus ook die spiere aantas wat met asemhaling help.

Verspreiding en risiko

Die poliovirus versprei wanneer iemand met besmette kos, water of die hande van ’n besmette persoon in aanraking kom. Simptome ontwikkel binne 3 tot 21 dae nadat jy met die virus in aanraking was en is die aansteeklikste tussen 7 en 10 dae voor en ná die aanvang van die simptome. Mense bly aansteeklik so lank as wat die virus in hul ontlasting uitgeskei word, wat tot 6 weke kan duur. Die virus bly tipies vir 1 tot 2 weke in die keel.

Mense wat ’n verhoogde risiko vir infeksie het, sluit in swanger vroue, bejaardes, kinders en diegene met ’n verswakte immuunstelsel, soos MIV-lyers. Dit is veral die geval in dele van die wêreld waar sanitasie gebrekkig is en immuniseringsprogramme nie behoorlik op dreef is nie.

Ander risikofaktore sluit in om na gebiede te reis waar polio algemeen voorkom of waar ’n uitbreking onlangs plaasgevind het; om saam met iemand te woon of ’n persoon te versorg wat met die poliovirus besmet is; en indien jy nie teen polio ingeënt is nie.

Diagnose en behandeling

(Foto: iStock)

Om polio te diagnoseer, sal jou dokter jou mediese geskiedenis nagaan en tydens ’n fisieke ondersoek veral op die uitkyk wees vir simptome soos nek- en rugstyfheid, abnormale reflekse, en sluk- en asemhalingsprobleme. ’n Diagnose kan ook gemaak word deur ontlasting en serebrospinale vloeistof (die vloeistof wat die brein en rugmurg omring) te toets.

Daar is geen geneesmiddel vir polio nie en behandeling is daarop gemik om die uitwerking van die siekte te bestuur. Ondersteunende behandelingsopsies sluit in:

  • antibiotika vir sekondêre infeksies;
  • pynmedikasie;
  • ’n draagbare ventilator om met asemhaling te help;
  • medikasie om spierspasmas te verminder;
  • matige oefening;
  • massering;
  • fisioterapie;
  • hittebehandeling; en
  • ’n gebalanseerde dieet.

Post-poliosindroom

Selfs kinders wat lyk of hulle ten volle herstel, kan 15 tot 40 jaar later nuwe spierpyn, swakheid of verlamming as volwassenes ontwikkel. Dit word post-poliosindroom (PPS) genoem.

PPS word nie veroorsaak deur herbesmetting met die poliovirus nie, maar deur ’n reeks faktore wat met die oorspronklike polio-infeksie verband hou. Dit sluit in:

  • spiertamheid en pyn weens verminderde spierweefsel;
  • pyn, slaap- of asemhalingsprobleme weens posturale abnormaliteite (soos skoliose of kifose);
  • verhoogde spanning op gewrigte, wat lei tot artritis en pyn (dit kan vererger word deur gewigstoename);
  • verminderde beendigtheid vanweë te min gewigdraende aktiwiteit weens verswakte ledemate; en
  • toenemende spierswakheid weens ’n groter verlies aan motorneurone as in die normale proses van veroudering.

Medici meen dat PPS veroorsaak word deur die afbreek van “spruite” (ekstra senuweevertakkings wat gevorm het om te vergoed vir senuwees wat deur die poliovirus vernietig of beskadig is). Hoewel PPS enige tyd kan voorkom, word geglo dat dit veroorsaak kan word deur onaktiwiteit, trauma, chirurgie of inflammasie.

Bykomende bronne: Better Health, Gates Foundation, Mayo Clinic, New York Times en Cleveland Clinic.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.