Só kan groente en vrugte sooibrand genees

Spinasie kan help om probleme met sooibrand hok te slaan. Foto: Elianna Friedman/Unsplash.com

Spinasie, blaarslaai, blomkool en pietersielie – eet meer hiervan en jou sooibrand behoort iets van die verlede te wees. Is dit so maklik? Arina Badenhorst, tuinboukundige en eienaar van die Eden Tuinskool, het onlangs ’n praatjie by die NG kerk Elarduspark in Pretoria aangebied waarin sy die rol wat ons leefstyl in die behandeling van sooibrand kan speel,verduidelik het. Sy glo in die geneeskragtige waarde van organiese groentetuine en bestuur ook ’n gewilde Facebook-bladsy waar sy verskeie wenke rakende die gesondheidsvoordele van groente en vrugte deel.

Arina meen sooibrand kan veroorsaak word deur ’n wanbalans van sure in jou maag.  Volgens dr. Joseph Mercola, ’n voorstander van alternatiewe behandelinge, is sooibrand hoofsaaklik die opstoot van maagsappe in die slukderm. Hy sê sooibrand kan ook veroorsaak word deur ’n bakteriële infeksie in die maagwand. Mercola meen die inflammasie kan deur antibiotika behandel word, maar die behandeling is soms ondoeltreffend weens die verskillende organismes wat die probleem kan veroorsaak. Volgens hom is die beperking van suur nie die mees doeltreffende oplossing nie aangesien dié strategie net die simptome kan verminder, maar die maag dan ontneem van die nodige sure om wel infeksie te beveg.

Badenhorst raai mense wat aan sooibrand ly aan om sekere kosse soos alkohol, swart peper, knoffel, rou uie, sitrusvrugte, koffie en peperment te vermy. Mense moet ook meer blaarslaai, spinasie, enige kool, pietersielie, koljander, aspersies, avokado, appels, pere en kiwivrugte eet. “Groen blaargroentes bevat gewoonlik baie antioksidante wat inflammasie beveg. Die blare van blomkool en beet is ook baie gesond en ’n mens kan maklik ’n gladdejantjie van hierdie kossoorte maak.”

Te vinnig

Volgens haar eet Suid-Afrikaners ook hopeloos te vinnig. “Die Franse het ’n gewoonte om vir ure om ’n tafel te sit en ’n vyfgangmaaltyd te geniet. Die geheim is dat hulle begin met iets soos ’n groenslaai wat jou maag smeer, gevolg deur kleiner etes met meer natuurlike vette.” Sy meen die Mediterreense eetplan is ’n goeie opsie aangesien dit ook baie natuurlike vette soos avokado, olywe en olyfolie insluit. “Die vette voorsien jou liggaam van omega 3 wat weer help om jou insulienvlakke te stabiliseer en jou pankreas se funksies te ondersteun.”

Mercola stem saam. Hy meen die eerste stap is om voedselallergieë uit te skakel en uit te vind vir watter kossoorte jou liggaam sensitief is. “Vermy alkohol, koffie en nikotien.” Hy glo organiese groente en vrugte, verkieslik vanaf plaaslike boere of vars uit jou tuin, is beslis deel van die oplossing. Volgens hom is dit ook om gereeld te oefen. Oortollige gewig en slegte gewoontes soos om te rook kan ook bydra tot die probleem.

‘n Daaglikse groen gesondheidsdrankie kan ook in ‘n japtrap met sooibrand klaar speel. Foto: Jan Sedivy/Unsplash.com

Begin jou eie groentetuin

Badenhorst moedig mense aan om hul eie basiese groentetuin te begin. “Dit is nie moeilik om spinasie, blaarslaai en groen groentes te kweek nie. Jy het ook nie ’n groot stuk grond nodig om dit te doen nie.” Sy sê weens die grondgehalte waarin groente en vrugte verbou word, is dit nie altyd moontlik om die voedingswaarde wat vrugte en groente inhou, te benut nie. “Nie al die produkte in die winkels bevat die nodige voedingswaarde soos wat moeder natuur beplan het nie.” Daarom spoor sy mense aan om self te plant. “Dit is die enigste manier hoe jy kan verseker die voedingswaarde van die groente en vrugte wat jy eet, is van goeie gehalte.”

Volgens haar is dit uiters belangrik om die grond of pot waarin jy jou tuin wil begin, goed voor te berei met lewenskragtige kompos (wat erdwurms bevat) en ook genoeg organiese materiale soos skille. “Die erdwurms en bakterieë breek die voedingstowwe in die grond af sodat die plant dit beter kan opneem. Dit stel die plant in staat om die voedingstowwe om te skakel in komplekse proteïene, antioksidante en vette.”

Sy sê ons liggame word daagliks gebombardeer met ongesonde, verwerkte kosse wat te veel suiker en sout bevat en ons neem nie genoeg kossoorte met die nodige antioksidante, natuurlike vette, vitamiene en minerale in om die gepaardgaande skade te verhoed nie. “Die beste manier om al hierdie dinge teen te werk is om elke dag, ten minste vir een ete, genoeg vars blaargroente vanuit jou tuin te eet.” Sy stel voor mense maak ’n gesondheidsdrankie van spinasie, seldery, beetblare, blomkoolblare, ment, komkommer, suurlemoensap en skil, gemmer en vinkel. “As jy daagliks dié drankie geniet, sal jy sommer in ’n japtrap beter voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jp ·

Parsley is die beste om sooibrand dadelik te stop,en om dit vir n lang tydperk te gebruik gee dst jy nie sommer sooibrand kry nie,ook suurlemoen sap is n wenner.

Rissiepit ·

JP eet ‘n mens die Pietersielie net so, en stel jy voor ‘n mens eet dit voor of na ‘n ete?
Ek wil graag jou raad volg, gee bietjie meer inligting asseblief!

VannieBaai ·

Die probleem is egter net om die grond voor te berei vir die kweek van gesonde groente. Die kompos raak te duur, tyd is te min en water is beperk……….sou so graag so projek wou aanpak, maar geld is te skraps……..

Mieke ·

Mens kan maklik potplant houers gebruik vir jou plantjies. Hulle sal ook minder water gebruik.

Shady ·

Vandat ek gereeld Rum en Coke drink kry ek glad nie meer soiibrand nie!

Rissiepit ·

Baie snaaks Shady…… hoop nie dit help regtig nie!!!! Want dan gaan ek bly sit met my sooibrand. Ek drink nie Rum nie, maar is nogal lief vir my Coke!!

Debbie ·

Mens het ook nie ‘n groot stuk grond nodig nie. Begin sommer kruie en groentes te plant in potplante. Kan later dit uitplant na bietjie groter potte of maak ‘n vertikale tuin uit 2 liter koeldrankbottels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.