Tikkende hipertensietydbom: Tyd om te toets

(Foto: iStock)

As die telefoon se geskree ’n mens op ’n sekere tyd van die nag uit jou slaapnewels skeur, is dit asof ’n mens instinktief weet iets skort. Dié keer was dit ’n goeie vriend wat ’n ernstige beroerte gehad het. Skielik, soos die spreekwoordelike dief in die nag. Die oorsaak: hoë bloeddruk. Die prognose: vir nou buite lewensgevaar, maar die langtermynvooruitsigte (soos om weer te kan werk en vir sy gesin te kan sorg) nog onberekenbaar.

Dit is in tye soos dié dat ’n mens die meer as 50% van die wêreldbevolking – wat nalaat om gereeld ’n eenvoudige en dikwels gratis bloeddrukmeting te laat doen (dit neem minder tyd as om jou tande te borsel!), salig onbewus van die sluimerende sluipmoordenaar in hul are – wil wakker skud!

Daar word só gereeld oor hoë bloeddruk (of hipertensie) geskryf en gewaarsku, en tog vee baie steeds hul stertvere af aan statistieke, soos dat nagenoeg 1,3 miljard mense hieraan ly en dat meer as die helfte van álle volwassenes ouer as 25 jaar met hoë bloeddruk te kampe het. In Suid-Afrika is die syfers selfs skrikwekkender, met sowat 45% van mans en 48% van vroue ouer as (net) 15 jaar wat hoë bloeddruk het, en 1 uit elke 5 sterftes wat hipertensie as verwante oorsaak lys.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) eis die tikkende hipertensietydbom jaarliks 7,5 miljoen lewens (dit is meer as 13% van alle sterftes wêreldwyd), terwyl die Suid-Afrikaanse hart- en beroerte-stigting hipertensie as die oorsaak van 1 uit elke 2 beroertes en meer as 2 uit elke 5 hartaanvalle aanmeld.

Ofskoon die WGO se mikpunt is om hipertensiegevalle teen 2030 met 33% te laat afneem (as deel van sy breër strategie om nieoordraagbare siektes in hul spore te stuit), gaan ons nooit die gesondheidskaal gunstig kan laat kantel sonder om grootskaalse bewustheid te skep en ons raak-my-nie-traak-my-nie hande uit ons broeksakke te haal en letterlik moue op te rol vir ’n gereelde (lewensreddende) bloeddruktoets nie. Juis om dié rede word Wêreldhipertensiedag jaarliks op 17 Mei gevier.

Wat jy moet weet

Gemorskos verhoog jou kanse van hipertensie. (Foto: iStock)

Hoewel sommige mense simptome soos hoofpyn, duiseligheid, kortasem, neusbloeding, dowwe visie en borspyn aanmeld (wat met talle ander siektetoestande strook), skuil die sluheid van hipertensie juis in die feit dat dit nie vooraf waarskuwend aan jou deur kom klop nie. Deur nie minstens een keer per jaar of tweejaarliks jou bloeddruk na te gaan nie, is wanneer hoë bloeddruk as beroerte, hartsiekte en selfs nierversaking die deur kom afbreek.

Of jy nou ’n miljardêr of tuisblymoeder is, die hoëbloeddrukbeker gaan nie sommerso verby nie. Waarom word dit toenemend as epidemies beskou?

  • Verouderende bevolking: Soos lewensverwagting toeneem, groei die aantal ouer volwassenes. Ouderdomverwante veranderings in bloedvate en ander fisiologiese faktore dra tot ’n hoër voorkoms van hipertensie by.
  • Verstedeliking: Die vinnige groei van stedelike bevolkings het gelei tot ingrypende lewenstylveranderinge, soos uitermatig lang onaktiewe ure voor die rekenaar, ongesonde eetgewoontes en hoër stresvlakke.
  • Vetsug: Die wêreldwye toename in vetsug, veral by kinders, aangevuur deur die verhoogde verorbering van kitskos en verwerkte voedsel, tesame met ’n onaktiewe lewenstyl, laat hipertensie die hoogte in skiet.
  • Gebrek aan bewustheid en behandeling: In baie wêrelddele, veral in lae- en middelinkomstelande, is daar ’n gebrek aan bewustheid oor hipertensie en die potensieel dodelike gevolge daarvan. Daarbenewens is toegang tot gesondheidsorgdienste vir vroeë diagnose en behandeling dikwels beperk, wat lei tot ’n groot aantal mense met ongediagnoseerde of swak bestuurde hipertensie.

Wat jy moet doen

(Foto: iStock)

Die enigste manier om hoë bloeddruk hok te slaan, is om proaktief te wees. Sodra gediagnoseer, kan medikasie wondere verrig, maar daar’s baie wat ons sélf kan doen, om te keer dat dinge handuit ruk:

  • Handhaaf ’n gesonde gewig: Om oortollige gewig af te skud, kan help om bloeddruk te verlaag en die risiko vir verwante gesondheidskomplikasies te verminder.
  • Volg ’n gebalanseerde dieet: ’n Dieet wat ryk is aan vrugte, groente, volgraan, maer proteïene en laevetsuiwelprodukte is ’n bewese bloeddrukbeheermaatreël.
  • Verminder jou soutinname: Die beperking van die hoeveelheid sout in jou dieet kan ’n beduidende impak op jou bloeddrukvlak hê.
  • Lig jou bas: Soms kan die baas maar ’n bietjie wag vir daardie dringende e-pos! Deur matige oefening vir ten minste 30 minute per dag te doen, het ’n noemenswaardige positiewe uitwerking op ons kardiovaskulêre gesondheid.
  • Trap rem met sopies: Matige alkoholgebruik (nie meer as een drankie per dag vir vroue en twee drankies per dag vir mans nie) kan help om hoë bloeddruk te voorkom.
  • Druk dood daardie stompie: Deur op te hou rook, sal jou algehele gesondheid drasties verbeter.
  • Slaan stres vir ’n ses: Of dit nou is om ’n boek te lees, in ’n skuimbad te talm, rustige musiek te luister, of meditasie, diep asemhalingsoefeninge of joga te beoefen – bloeddruksnellers soos beurtkrag en geldkommer is ’n gegewe, jou (geestes)gesondheid nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.