Vasektomievrae beantwoord, vrese besweer

(Foto: iStock)

Net soos die blote gedagte aan ʼn prostaatondersoek die meeste mans die hasepad laat kies, is ʼn vasektomie, oftewel manlike sterilisering, vir baie ʼn vreesaanjaende vooruitsig.

Suid-Afrika het ʼn baie lae vasektomiekoers, met min mans wat dié permanente voorbehoedingsroete kies. Met gelddruk wat al meer gesinne in ʼn wurggreep het, word gesinsbeplanning egter ʼn al groter prioriteit en is ʼn vasektomie nie meer die vergesogte gedagte van vroeër nie.

ʼn Vasektomie is egter nie ʼn langtermynoplossing vir korttermynprobleme nie. Gelddruk of druk deur jou lewensmaat, vriende of familie behoort nie die skaal namens jou na die knipkant toe te laat kantel nie. Jy moet doodseker wees dat jy nie in die toekoms (nog) ʼn biologiese kind wil hê nie.

Wat behels die prosedure presies?

ʼn Vasektomie is ʼn baie klein operasie, van sowat 30 minute, wat in ʼn uroloog se spreekkamer of ʼn dagkliniek gedoen word. Die pasiënt kan gewoonlik besluit tussen algemene narkose of plaaslike verdowing.

Daar is twee algemene soorte vasektomies: die konvensionele en die geen skalpel-metode.

Met ʼn konvensionele vasektomie word ʼn snytjie in die skrotum gemaak om twee buise te bereik. Dié buise staan as “vas deferens” bekend (vandaar die naam vasektomie), en daar is een vir elke testikel. ʼn Klein stukkie van elke buis word verwyder, wat ʼn klein spasie tussen die twee punte laat. Die punte van buise (waar dit gesny is) word geskroei of met steke toegewerk. Die snytjie in die skrotum word dan gewoonlik met oplosbare steke toegewerk om op sy eie te genees.

Die geen skalpel-vasektomie is presies soos die naam sê, sonder ʼn snyery. Die uroloog voel die vas deferens-buise deur die skrotum en hou dit met ʼn klamp of tangetjie vas. Klein gaatjies word in die skrotum gemaak sodat die buise uitgehaal en dan gesny of toegebind (geblokkeer) kan word. Daarna word elke vas deferens-buis teruggesit en die gaatjies in die skrotum, indien nodig, met ʼn steek of twee geseël.

Hoe doeltreffend is dit?

ʼn Vasektomie is ʼn uiters doeltreffende manier van voorbehoeding. Hoewel ʼn vasektomie een van die doeltreffendste maniere is om swangerskap te voorkom, is daar steeds ʼn geringe kans op swangerskap. Onthou ook dat ʼn vasektomie nie onmiddellik doeltreffend is nie, omdat dit tot drie maande kan neem vir semen om spermvry te word. Daarom is ʼn opvolgbesoek aan die uroloog nodig om jou spermtelling na te gaan. Totdat die dokter nie die groen lig gegee het dat die operasie 100% suksesvol was nie, moet alternatiewe voorbehoeding steeds gebruik word.

Hoe raak dit ʼn mens se seksuele funksionering?

Hoewel die meeste mans binne ʼn dag terug by die werk is en net matige pyn en swelling ervaar, moet slaapkamersake vir minstens 7 dae op ys gesit word. Sodra die dokter bevestig het dat jou swemmers se loopbaan vir goed verby is, kan dinge na normaal terugkeer.

Ná ʼn vasektomie produseer die liggaam steeds semen, maar sonder sperm. ʼn Vasektomie beskerm jou egter nie teen seksueel oordraagbare siektes nie. Hiervoor moet jy alternatiewe beskermings- of voorsorgmaatreëls tref.

Wat is die risiko’s?

Moontlike korttermynsimptome ná ʼn vasektomie sluit in swelling, kneusing en ʼn bietjie ongemak. Die meeste simptome klaar binne twee weke vanself op. Baie mans ondergaan die prosedure op ʼn Vrydag en is die Maandag weer terug by die werk. As jy egter een van die volgende simptome het, moet jy jou dokter gaan sien:

  • Infeksie – Koors en rooiheid of pyn in die skrotum kan op infeksie dui.
  • Hematoom – Dit is bloeding onder die vel wat soos ʼn donker kneusplek lyk. Dit kan ook tot swelling lei.

Seldsame gevolge sluit in:

  • Granuloom – Dit is ʼn knop in die skrotum wat veroorsaak word deur sperm wat uit die vas deferens-buise na die nabygeleë weefsel lek.
  • Postvasektomiepynsindroom – Dit is ʼn chroniese pyntoestand wat veroorsaak kan word deur senuwees wat vasgedruk word. Behandeling hiervan sluit in pynmedikasie en chirurgie.
  • Mislukte prosedure – Dit kan soms gebeur, maar is baie seldsaam. Daar word beraam dat 11 uit elke 1 000 vasektomies wat uitgevoer word misluk (in seldsame gevalle groei die vas deferens-buise terug of vas).
  • Spyt oor prosedure – Dit kom meer algemeen voor by mans wat ʼn vasektomie voor die ouderdom van 30 jaar ondergaan het.

Is dit omkeerbaar?

ʼn Vasektomie is ʼn permanente prosedure. Omkering is soms moontlik, maar dit is nie altyd ʼn opsie nie. Boonop is ʼn omkeeroperasie baie ingewikkelder as die aanvanklike prosedure. Omkeerbaarheid hang van verskeie faktore af, insluitend hoe lank gelede die operasie gedoen is, die soort vasektomie (sny of bind), en of die liggaam teenliggaampies teen sperm ontwikkel het of nie (wanneer jou immuunstelsel sperm aanval).

Wanneer jy oor ʼn vasektomie besluit, moet jy moontlike lewensveranderinge oorweeg wat jou in die toekoms kan raak, soos ʼn egskeiding, ʼn nuwe lewensmaat en die dood van ʼn kind. Hoewel jy niemand se toestemming nodig het nie, is dit wys om met jou lewensmaat, jou dokter en selfs ʼn sielkundige te gesels voordat jy dié groot stap neem.

Hoeveel kos dit en dek mediese fondse dit?

ʼn Vasektomie kos ongeveer R15 000, afhangend van die soort verdowing (algemene narkose of plaaslike verdowing) wat die pasiënt kies. Ook of dit in die spreekkamer of ʼn dagkliniek gedoen word. Die prosedure word deur die meeste mediese fondse gedek. Die operasie om die proses om te keer, word egter nie deur mediese fondse betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.