Vroue se beengroei in brein beheer

Foto: Pixabay

ʼn Handvol selle diep in die brein speel ʼn rol in hoe vroue se beendigtheid beheer word, wys nuwe navorsing.

Dié werk is onlangs in die vakjoernaal Nature Communications gepubliseer toe kenners gewys het dat deur ʼn spesifieke klompie seine van dié senuweeselle te blokkeer, tot gevolg het dat wyfiemuise buitengewone sterk bene bou en dit behou wanneer hulle oud is. Dié navorsing bring nou hoop vir die behandeling van osteoporose in ouer vroue.

Soveel as een uit elke drie ouer vroue, en een uit elke vyf ouer mans, kan osteoporose ontwikkel.

Volgens die Nasionale Osteoporose Stigting van Suid-Afrika, is dit ʼn siekte wat die digtheid en kwaliteit van bene aantas. Talle mense weet nie hulle het dit nie totdat hulle ʼn been in die liggaam breek; selfs net ʼn geringe stamp kan ʼn fraktuur veroorsaak. Ongelukkig begin die verlies aan beendigtheid so vroeg as 25 jaar.

Prof. Holly Ingraham, die studieleier van die navorsing, verbonde aan die Universiteit van Kalifornië in San Francisco, het gesê: “Ons huidige begrip van hoe die liggaam beengroei beheer, kan dit [wat pas bevind is] nie verduidelik nie. Die werk kan beteken dat ons ʼn heeltemal nuwe weg gevind het wat gebruik kan word om ouer vroue se bene te versterk.”

Vroue het veral ʼn hoë risiko om osteoporose te ontwikkel ná menopouse omdat die hormoon estrogeen, wat beengroei aanhelp, verminder. Die funksie van estrogeen in die brein is nog nie heeltemal ontrafel nie.

Ingraham doen navorsing oor hoe estrogeen se seine na die brein die vrou se metabolisme op verskillende stadia in die lewe beïnvloed. Nadat ʼn kollega dr. Stephanie Correa, die estrogeen-reseptor-proteïen in senuweeselle (in die hipotalamus) in muise uitgewis het, het hulle effens gewig aangesit en ook minder aktief geraak.

Toe sy wou vasstel of dit ekstra vet of spiere was wat die gewigstoename veroorsaak het, het sy na die beendigtheid gekyk en iets verrassend gesien: Die muise se beendigtheid het met 800% toegeneem, én was baie sterk.

Nog navorsing is gedoen en daar is gesien net ʼn paar honderd breinselle wat sensitief vir estrogeen is, is verantwoordelik vir dié dramatiese vermeerdering van beendigtheid. Dus, estrogeen stuur uiteindelik seine vir die senuweeselle om energie weg te neem van beengroei. En, deur die betrokke estrogeen-reseptore uit te wis, het toe die teenoorgestelde effek gehad.

Dit is nog nie voorheen opgemerk nie omdat mannetjiesmuise gewoonlik gebruik word. (Mans het estrogeen – hulle vervaardig dit deur ʼn ensiem en dit vorm estradiol.) Die tegniek het egter geen effek op die mannetjies gehad nie.

Die muise het ook die verbeterde beendigtheid behou wanneer hulle bejaard was. In ander muise kon die proses van beendigtheidsverlies omgekeer word, met soveel as 50% binne weke.

Die kenners dink die estrogeenstelsel skuif ná puberteit aktief weg van beengroei na onder meer reproduksie. Maar later hou dit negatiewe gevolge in. Navorsing word nou gedoen oor hoe die breinkommunikasie gedoen word, en of middels ontwikkel kan word om beendigtheid te verbeter in post-menopousale vroue, sonder die potensieel gevaarlike effekte van estrogeenvervangingsterapie.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riena ·

`n Tekort aan Vitamien D gee sagtebeen-siekte oftewel Ragitis. Ek is verbaas dat dokters bykans nooit die eenvoudige bloedtoets vir Vitamien D aanvra en nog minder dit behandel indien dit nie op die gewensde waarde (50 – 70) is nie. Terwyl dit so groot effek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.