Vyf mites oor sonroom

Argieffoto. (Foto: chezbeate/Pixabay)

Daar is steeds ʼn handjievol mites oor hoe om strawwe sonstrale te vermy, veral gedurende die Desembervakansie wanneer sonsoekers in hul hordes afsit strande toe om in die son te bak.

Volgens Mario Correia, handelsmerkbestuurder by Everysun, is mense selektief oor hoe en wanneer om die regte maatreëls van sonbeskerming te volg, soos om ʼn hoed en sonroom te dra en die son tydens piektye te vermy.

Hy benadruk dat dit belangrik is om te onthou dat sonbeskerming regdeur die jaar ʼn prioriteit behoort te wees.

“Die aanwending van sonroom is ʼn stap in jou velsorgroetine wat nie oorgeslaan behoort te word nie, maak nie saak watter tyd van die jaar dit is nie,” sê Correia.

Wanneer jy ʼn sonroom kies, is dit belangrik dat dit jou vel van beide UVA- en UVB-strale beskerm. UVB-strale is verantwoordelik vir sonbrand en speel ʼn rol in die ontwikkeling van velkanker, terwyl UVA-strale die vel dieper penetreer en dan die verlies van elastisiteit, toename in pigmentasie en plooie en die ontwikkeling van kankerselle tot gevolg kan hê.

Correia identifiseer die topvyf-wanopvattings oor sonskerm en hoekom dit uit die weg geruim moet word:

  • Sonroom is nie altyd nodig nie. Talle mense glo dat sonroom slegs op warm dae nodig is wanneer die hele lyf aan die son blootgestel word. Dit is onwaar. UV-strale kan die vel beskadig ongeag hoeveel daarvan blootgestel word. Selfs op bewolkte dae kan jou vel deur die son beskadig word, maak nie saak hoeveel sonlig daar is nie. Jou gesig, arms en hande word deurlopend aan die son blootgestel en behoort daagliks deur sonroom beskerm te word.
  • Mense met donker velle hoef nie sonroom te gebruik nie. Ondanks die verhoogde melanienvlakke wat UVB-strale in donker velle bestry, word donkerder velle steeds beïnvloed deur UVA-strale. Alle velkleure kan velkanker ontwikkel en dit is bewys dat mense met donker velle ʼn kleiner kans op oorlewing het wanneer kanker gediagnoseer is, aangesien die kanker dikwels te laat bespeur word.
  • Grimering met ʼn SPF is genoeg beskerming vir die dag. Dit is waar vir ʼn kort gedeelte van die dag, maar grimering is nie ʼn goeie plaasvervanger vir sonroom nie. Gebruik ʼn velbevogtiger wat ook ʼn SPF-faktor van 50 het. Dit word aanbeveel dat sonroom as die laaste stap van jou roetine aangewend word. Lees meer hier vir wenke oor hoe om SPF aan te wend terwyl jy grimering dra.
  • Jy kan nie verbruin terwyl jy sonroom dra nie. Sonroom help om jou vel te beskerm teen UVA- en UVB-strale, maar dit is steeds moontlik om te verbruin, selfs al wend jy meer as een keer per dag sonroom aan.
  • Een aanwending van sonroom per dag is genoeg. Sonroom behoort elke tweeuurliks weer aangewend te word, veral wanneer jy swem en sweet. As jy binnenshuis werk, kan jy dit minder gereeld aanwend. Onthou, die son se strale kan steeds jou vel deur glas penetreer en jy word aan die son blootgestel in jou motor op pad werk toe en terug. ʼn SPF-faktor van 30 word regdeur die jaar aanbeveel.

“Dit is ʼn eenvoudige stap in jou oggendroetine wat onnodige skade aan jou gesondheid kan verhoed. As dit van ʼn jong ouderdom af aangeleer word, sal dit regdeur ʼn leeftyd volgehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.