Hierna sal jy leuens kan bespeur

Lizette Volkwyn. (Foto: Lizette Volkwyn/Facebook)

Diegene wat hul persoonlike en professionele kommunikasievaardighede wil opskerp, kan die datum van een van Suid-Afrika se menslike leuenverklikkers se eksklusiewe werkswinkel in hul dagboeke neerpen.

Lizette Volkwyn bied op 11 en 12 November dié werkswinkel, genaamd I can see you lie, by die Centurion Golf Club Country Estate aan.

Volkwyn, wat een van slegs twee PEI-leuenverklikkers in Suid-Afrika is, gaan tydens die tweedaggeleentheid deelnemers metodes leer om hulle te help om hul emosies te beheer, leuens te identifiseer en oor die algemeen beter te kommunikeer deur die basiese beginsels van leuenverklikking oor te dra.

Dié kursus gaan nie net die kollig op liggaamstaal laat val nie, maar gaan ook in die bewussyn en onderbewussyn delf. Die snellers (triggers) van leuens gaan ook bespreek word.

“Daar is ’n groot behoeftes vir waarheid en deursigtigheid in ons lewens. Ons is egter geneig om goedgelowig te wees en te glo wat ons hoor, eerder as wat ons sien. Dit kan nadelig wees in ons persoonlike en professionele verhoudings,” sê Volkwyn.

“Die werkswinkel poog om hierdie behoefte te bespreek deur deelnemers te leer om die basiese beginsels van nieverbale kommunikasie, lyftaal en leuenverklikking te verstaan.”

Marcus Coetzee, die enigste ander gesertifiseerde PEI-leuenverklikker in die land, wat spesialiseer in persoonlike beskerming in die intelligensie diens (AI), sal ook as gasspreker tydens dié geleentheid optree.

“Marcus sal op ʼn ander aspek van leuenverklikking fokus. Deur kragte saam te span, bied ons omvattende inhoud vanuit verskillende oogpunte.”

Maroela Media het vroeër berig dat Volkwyn na 25 jaar in die korporatiewe wêreld besluit het om ’n beroepsverandering aan te pak deur ’n meesterlewensafrigter te word.

“Ek het mense begin oplei, ek het hulle gehelp om van punt A tot B te kom. Met dit het ek begin besef dat ons almal jok.”

Sy het ’n passie na die vraagstuk van leuens ontdek en in 2013 die pad na Manchester in Engeland gevind om formele opleiding in leuenverklikking te ontvang.

Ná die streng keuringsproses en strawwe opleiding is sy terug Suid-Afrika toe, reg om dié kennis en vaardighede met die mense in haar tuisland te deel.

  • Volkwyn bied op 11 en 12 November vanjaar ʼn werkswinkel by die Centurion Club Country Estate aan. Vir meer inligting of om te bespreek, stuur ’n e-pos na [email protected] of besoek www.lizettevolkwyn.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Witbaard ·

Kursus nie nodig as jy die regering se leuens wil verklik nie. Basies alles wat hulle sê, is n leuen.

Bertie ·

Hoe weet jy wanneer ‘n kader lieg? Wanneer sy lippe beweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.