Ken jou kantoorpartytjie-etiket

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer kollegas mekaar ʼn bietjie beter leer ken in die omgewing van ʼn kantoorpartytjie of ʼn jaareindfunksie.

Dié geleentheid vang baie mense onkant omdat hulle dan nie meer slegs ’n professionele  verhouding met kollegas het nie, maar in ʼn sosiale omgewing met hulle omgaan waar mense mekaar ʼn bietjie meer soos vriende hanteer.

Maak seker jy is nie die persoon wat met ʼn rooi gesig die volgende dag by die kantoor moet opdaag – net omdat jy iets skandaligs aangevang het nie.

Volg hierdie maklik moets en moenie om die meeste van jou jaareindfunksie te maak:

Moet

Praat met nuwe mense

Almal het kollegas by die werk met wie hulle nouer bande het as met van die ander, maar die kantoorpartytjie is die ideale geleentheid om jou vlerke bietjie te sprei en om met mense te gesels met wie jy min te doen kry.

Weet jy wat die nuwe ontvangsdame se seun se naam is? Kan jy raai watter sport die klerk in finansies oor die naweek speel? En weet jy waarheen jou baas volgende jaar op vakansie gaan?

By die kantoorpartytjie is almal meer op hul gemak en gewillig om geselsies aan te knoop, so gryp die oomblik aan!

Praat oor iets anders as werk

Niemand hoef weer ʼn keer te hoor hoe stadig die internet by die kantoor is, of dat die finansies druk vir die volgende jaar nie! Gesels eerder met jou kollegas oor goed wat jy nie van hulle weet nie.

Dit sal nie net ʼn gemakliker atmosfeer skep nie, maar dit sal julle ook iets gee om oor te gesels as julle mekaar volgende keer in die kombuis raakloop.

Trek gepas aan

Jy hoef nie werksdrag na ʼn kantoorpartytjie toe aan te trek nie, wees gerus meer op jou gemak as die funksie van so ʼn aard is, maar wees altyd versigtig om nie te gewaagd aan te trek nie.

Maak seker wat die geselligheid behels en trek gepas aan vir die geleentheid. Bly eerder weg van stywe rompies, lae hals toppies, help-my-sterk-lyk-hemde en sjoe-broekies.

As die geselligheid formeel is, trek ordentlik en stylvol aan. Moenie in ʼn kortbroek en plakkies opdaag as dit ʼn das-en-baadjie-geleentheid is nie.

Sê dankie

Hoewel jy mag dink jy verdien die blaaskans omdat jy so hard gewerk het die afgelope jaar, is dit altyd goeie maniere om dankie te sê voordat jy die geselligheid verlaat.

Vind uit wie dié reëlings gemaak het en wie almal betrokke was, en bedank hulle ordentlik – ʼn geskenk is nie nodig nie, maar ʼn paar mooi woorde sal beslis baie vir die organiseerders beteken.

Moenie

Die geleentheid misloop nie

Dit lyk dalk vir jou na die gulde geleentheid om ʼn dag vroeër huis toe te kan gaan, maar ʼn jaareindfunksie is belangrik vir die welstand van ʼn kantoor.

Om die partytjie mis te loop sal nie net veroorsaak dat die gevoel van ʼn “span” verlore gaan nie, maar dit skep ook geleentheid vir ander mense om dieselfde te doen.

Die kantoorpartytjie is veronderstel om ʼn lekker gesellige geleentheid te wees vir jou en jou kollegas om mekaar beter te leer ken en om julle te bedank vir die harde werk van die jaar, gryp dit aan en geniet dit eerder!

Moenie flankeer nie

As romanse en flankering in jou kantoor verbode is, hanteer dit ook so by die kantoorpartytjie.

Hanteer altyd al jou kollegas met respek en hoflikheid en moenie aanneem iemand het ʼn oog op jou nie. As jy onseker is oor hoe om seksuele teistering by die werk (en dit sluit die kantoorpartytjie in) te hanteer, lees hier.

Moet ook nie begin flankeer met iemand anders wat nie deel is van die geselligheid nie, want dan sal jy waarskynlik vir die duur van die geselligheid iewers anders wees. Gaan eerder met die ingesteldheid dat jy daar is vir jou kollegas, op ʼn vriendskaplike eerder as romantiese manier.

Moenie ʼn geskenk vergeet nie

Baie werksplekke het ʼn geheime Kersvader-stelsel wat hulle rondom hierdie tyd gebruik. Dit behels basies dat elke kollegas ʼn naam uit ʼn hoed trek en vir daardie persoon ʼn geskenk moet koop. Niemand weet dan tot op die dag van die partytjie, wanneer geskenke uitgedeel word, wie hul geheime Kersvader was nie.

Indien jy nie die geleentheid kan bywoon nie, reël dat iemand vir jou instaan met die geskenke sodat jy nie jou kollega teleurstel nie. En as jy wel die geleentheid kan bywoon, maak seker jy bring die geskenk saam!

Spreek ook vooraf af hoeveel elkeen op die geskenke gaan bestee, sodat almal se geskenke op dieselfde vlak is.

En laastens, reageer behoorlik op die geskenk wat jy ontvang, al hou jy nie so baie daarvan nie – dit is die idee wat tel!

Moenie te veel drink nie

Drink alkohol binne jou eie perke, maar moet jouself nie in die steek laat nie. Dit is ʼn groot verleentheid vir die baas of die organiseerder as hul werknemers besope raak by die partytjie.

Hoewel hierdie ’n feestelike affêre is, moet jy steeds onthou jy is in die geselskap van jou kollegas en werkgewers en dat jy jou so moet gedra.

Probeer om ʼn glas water tussen elke drankie te drink om te voorkom dat jy ʼn gek van jouself maak,  op die tafels begin dans, of die volgende dag met ʼn rooi gesig opdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Piet ·

Dis juis die tyd wat jy daai lekke girl van finance moet beter leer ken

Santie ·

Nee wat dankie – ek vermy kantoorpartytjies. As gevolg van vorige ondervindinge, stel ek glad nie belang in wat in hulle lewens aangaan nie en hulle hoef nie te weet wat in myne aangaan nie. Veroorsaak net ‘n klomp skinderstories en die helfte kan hulle in elk geval nie gedra nie. Baghus is ook altyd teenwoordig.
Ek hou my liewer besig met my eie dinge. Aan die einde van die jaar hou almal partytjie en in Januarie hoor jy die kantoor sluit sy deure finaal in Maart??? Nee wat dankie…

Devill ·

Nogals geskenke ook? Waar kry julle geld?
Geen manier dat ek nog saam met my kollegas partytjie ook hou nie, ek sien hulle meer as my eie gesin!
Spanbou gebeur in werksure, daar leer ken ek jou vir wie en wat jy is.
Daar is ook nie eintlik iets om oor partytjie te hou nie, laat ons liewer moue oprol en werk!

Devill ·

Vanaand by die partytjie is jy vriendelik en bedagsaam. More terug in die kantoor is jy weer ongeskik en groet my nie.
Nee dankie ek het nie tyd vir sulke nonsens nie!

lekker ·

Sal nogal wou weet wat verkeerd was met my pos dat dit maar uigevee is. Regtig? Maar ja so het ons almal maar ‘n job ne.

my opinie ·

ek was ‘n event planner by ‘n groot myn maatskappy en volgens etiket het mense gewoonlik gewag todat die eregaste eerste geskep het vandag druk hulle voor die CEO in en skep n berghoop kos in net om nie ‘n kwart daarvan te eet nie en net so op die tafel te los, en durf nie daaroor praat nie dan is jy ‘n rassis, ek stem partytjies saam werksmense is nou taboe – lekker tye is verby enige vorm van etiket is by die agterdeur uit al laaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaankal

Franje ·

Nou waardeer ek weer opnuut my werk! Ons word lekker bederf en kuier n hond uit n bos! Dis wat van ons n uitstekende instansie maak.

Anoniem ·

Ek het nie gedink daar IS nog maatskappye wat werkspartytjies hou nie? Ons werk het die afgelope 3 jaar al absoluut niks vir die werknemers nie. Als gaan mos net om Rand en sent. Vir hulle.

Party girl ·

Ek sal nooit vergeet nie, so paar jaar terug bespreek die kantoor ‘n restaurant vir die jaareindfunksie. Ons het almal rustig drinkgoed bestel en nog nie eers na die spyskaart gekyk nie, behalwe die een ou. Hy het ingestap, sy drinkgoed bestel en sy ete as ‘n take-away. Hy wou nie saam met die personeel kuier nie, maar was ook nie bereid om ‘n gratis bord kos te mis nie. Ek het gedink dis die ongeskikste ding wat ek ooit gesien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.