1922-mynstaking: Die dag toe drie broers gesterf het

Die Hanekom-broers se massagraf in die begraafplaas naby die treinspoor. (Foto: Verskaf)

Op 16 Maart 1922 is drie broers, Petrus, Johannes en Barend Hanekom, deur soldate in hulle ma se huis in Rosettenville, Johannesburg, in wat nog destyds as die Transvaal bekend gestaan het, oorval.

Kort tevore het 16 soldate wat deel was van die sogenaamde Rand Rebellie, oftewel 1922-mynstaking, dié drie broers en hulle ma, Nonnie Hanekom, in hul huis gedreig op soek na vuurwapens.

Nonnie het geweier om die huis te verlaat en die soldate het haar drie oudste seuns weggeneem. Hulle is na ʼn vallei nie ver van die huis nie geneem en ten aanskoue van ooggetuies koelbloedig doodgeskiet.

Nonnie se buurman, ene mnr. Dowse, asook nog ʼn buurman, ʼn mnr. Smith, is ook deur die soldate vermoor.

ʼn Bekommerde Nonnie, wat nie geweet het wat van haar drie seuns geword het nie, het aangebied om Dowse se vrou by te staan om haar man se lyk uit te ken en het afgesit na die melkstal, waar die lyke gelê het.

Min het Nonnie geweet dat wanneer sy die lakens oor die vyf lyke in die melkstal sou oplig, sy haar eie drie seuns daar sou aantref. Elkeen in die rug geskiet. Morsdood.

Geskiedenis van die mynstaking

‘n Buitelandse berig oor die mynstaking. (Foto: Verskaf)

Dit is vanjaar 100 jaar sedert die haglike werkstoestande waarin mynwerkers aan die Witwatersrand moes werk tot ʼn gewelddadige staking gelei het.

Nie net het die mynwerkers gesukkel met mynverwante siektes soos myntering, sonder enige mediese hulp nie, maar is hulle ook deurgaans gedreig om met goedkoper arbeiders, meestal swart en Chinese mans, vervang te word.

Die mynbedryf was sedert die einde van die Tweede Vryheidsoorlog in die hande van die Engelse. Die Engelse het blatant teen Afrikaners gediskrimineer en hulle is in die laagste poste met swak vergoeding geplaas.

ʼn Tekort aan geskoolde arbeid het op die myne ontstaan. Afrikaners is ook in die poste aangestel, maar hul salarisse was baie laer as dié van die Engelse.

Om beter werksvoorwaardes te beding het die Afrikaner-mynwerkers aangesluit by die Mynwerkersunie, die grootste mynvakbond van daardie tyd.

Aan die begin van die 1920’s het die Afrikaners selfs die meerderheid lede van die Mynwerkersunie gevorm, hoewel die bestuur nog steeds merendeels Engelse was. Die mynwerkers was steeds ontevrede met hulle werksomstandighede.

Die Kamer van Mynwese het gedreig om sekere myne wat op winsgrens gewerk het, te sluit. Die vakbonde het voorgestel dat die regering, onder leiding van Jan Smuts, sekere myne sou subsidieer tot die goudprys, wat ná die Eerste Wêreldoorlog verswak het, weer sou stabiliseer. Die regering het egter die voorstel van die hand gewys en die kant van die mynbase gekies.

Die Kamer van Mynwese, wat uiters onbuigsaam was, het gedreig om nog meer myne te sluit as die vakbonde nie tot loonverlagings sou instem nie. In Oktober 1921 het die mynhuise ongeag die teenkanting van die vakbondfederasie South African Industrial Federation (SAIF), waarvan die Mynwerkersunie deel was, voortgegaan met ingrypende maatreëls om koste te bespaar, sonder winsverlaging.

In Desember 1921 het sake kookpunt begin bereik. Die Kamer van Mynwese het besluit om 2 000 wit werkers af te dank en met baie goedkoper swart werkers te vervang. Vir die vakbonde was dit die laaste strooi.

Op 10 Januarie 1922 het alle arbeiders wat deel van die SAIF was, waaronder ook die Mynwerkersunie, gestaak. Toe dié 24 000 werkers staak, is die ekonomie van die Witwatersrand lamgelê.

Onderhandelinge tussen die vakbonde en die Kamer van Mynwese het op niks uitgeloop nie. Om sake te vererger het die Kamer van Mynwese ook die besluit geneem om betaalde verlof op 16 Desember en 1 Mei – wat destyds belangrike vakansiedae vir die Afrikaners geag is – af te skaf.

‘n Berig oor die mynstaking. (Foto: Verskaf)

Die stakers was woedend en staker-kommando’s is op die been gebring met die oog op beter organisasie van die staking en selfverdediging indien die weermag en polisie gewelddadig sou raak.

Die Smuts-regering het die mynwerkers gevra om terug te keer werk toe en het polisiebeskerming vir stakingverbrekers aangebied. Dit het tot verdere konflik gelei en polisie, stakers en stakingverbrekers het handgemeen geraak.

Op 28 Februarie het stakers en polisie in Boksburg gebots tydens ’n optog deur die myners. Die polisie het op die stakers geskiet en drie mense het gesterf. Dit het die gemoedere hoog laat loop en het tot verdere konfrontasies op dorpe soos Benoni en Germiston gelei.

Die mynmaatskappye het die regering versoek om ʼn staat van beleg af te kondig. Dit het beteken dat ʼn noodtoestand afgekondig is en die Grondwet en alle ander wetgewing tydelik opgeskort is en dat die land deur die weermag regeer is.

Op 6 Maart het die stakers ’n optog na die middestad van Johannesburg gehou om hul eise te stel. Dit het weer tot ’n botsing met die polisie gelei.

Vir Smuts was dit genoeg rede om nou met alle mag die stakers aan te val. Die weermagreserwe is gemobiliseer en vrywilligers gewerf. Op 10 Maart is die staat van beleg afgekondig en Smuts het persoonlik beheer oorgeneem. Hy het ’n veldtog teen sy eie mense van stapel gestuur, wat onverbiddelik en genadeloos uitgevoer is.

Die gevolge van die mynstaking

Nog ‘n berig oor die mynstaking. Die staking het wêreldwyd die nuus gehaal. (Foto: Verskaf)

Die gevolge van die regeringsoptrede was katastrofies. Altesaam 214 mense gesterf, die meeste van hulle stakers.

Van dié wat gesterf het, was 42 onskuldige omstanders – onder meer die drie Hanekom-broers.

“Ironies genoeg het my drie ooms niks met die stakings te doen gehad nie,” vertel Johnny Hanekom, seun van Abram Carel Hanekom. Abram was die jongste broer van Petrus, Johannes en Barend, wat al drie hulle lewens verloor het aan die hand van ongenaakbare soldate tydens die mynstaking.

“Petrus was die oudste, hy was 27 jaar oud en ʼn kleremaker. Die ander twee was onderskeidelik 20 en 17 jaar oud – so te sê nog kinders,” sê Johnny aan Maroela Media.

“Ouma Nonnie en haar man, oupa Petrus, het agt kinders gehad, waarvan hulle drie tydens die mynstaking verloor het. Die grootste skok het gekom die dag toe ouma haar vriendin en buurvrou die pyn wou spaar deur haar te help om haar man te identifiseer in die melkstal en op die een na die ander van haar eie kinders se lyke afkom.”

Johnny vertel Nonnie het tot aan die einde van haar lewe baklei vir geregtigheid vir haar drie seuns – wat onskuldig moes boet met hulle lewens. Sy het egter nooit die geregtigheid gekry waarna sy gesoek het nie.

“Ooggetuies wat gesien het hoe die drie broers vermoor is, se getuienis is verwerp. Ouma Nonnie het voor sy bewind aan JBM Hertzog geskryf en gevra vir geregtigheid, waarna hy haar per brief belowe het hy sal geregtigheid laat geskied sodra hy president van die land is. Dit het nooit gebeur nie en toe ouma hom jare later herinner aan sy belofte aan haar, het hy vir haar in Engels teruggeskryf: “Let sleeping dogs lie,” vertel Johnny.

“Die dag toe ouma haar drie oudste seuns se lyke gevind het, het haar hele lewe handomkeer verander. Sy het daar aan die bewe gegaan, soos iemand wat aan Parkinson se siekte ly. Die skok het haar lyf deurtrek. En sy het nooit weer, tot die dag van haar dood, ophou bewe nie.”

Bykomende bronne: Wikipedia, dokumente verskaf deur die Hanekom-familie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leonie Bezuidenhout ·

Dagsê Rudolf, baie dankie vir jou kommentaar. Jy is heeltemal reg – dit moet Vryheidsoorlog wees. Die berig is gewysig en vra om verskoning vir die oorsig. Groetnis. Leonie Bezuidenhout namens Maroela Media.

Leonie Bezuidenhout ·

Dagsê Buks, baie dankie vir jou kommentaar. Jy is heeltemal reg – dit moet Vryheidsoorlog wees. Die berig is gewysig en vra om verskoning vir die oorsig. Groetnis. Leonie Bezuidenhout namens Maroela Media.

MT ·

Afrikanerbelange is nog altyd vanuit die binnekring ondergrawe en ondermyn.

Smuts, ‘n Brit in murg en been, en in die sakke van die Britse mynhuise; nie veel anders as vandag nie.

Manie ·

Korrek MT, ons moes deur geslagte deurgaans veg vir eie behoud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.