’n Ware oase vir boekvrate

Yolo Boeke het amptelik sy deure in Maart geopen saam met ‘n bekendstelling van Carla van der Spuy se boek “Gangster”. (Foto: Verskaf)

As jy gaan kuier by die Kookabella Kafé se boheemse troeteldiervriendelike teetuin, moet jy beslis minstens ʼn uur by jou kuiertjie inwerk sodat jy ook ʼn draai by Yolo Boeke kan maak. Dié klein, intieme boekwinkeltjie is enige boekwurm se droom en jy kan sommer maklik vir ure hier rondluier terwyl jy nuwe boekvriende uitsnuffel.

ʼn Boog van boeke begroet jou by die deur voor jy by ʼn rak van tweedehandse tydskrifte verbystap. Eerste staan die tafel met badnat- en hondhap-boeke wat jy vir ʼn appel en ei kan oppik. As kinderboeke jou keuse is, moet jy in Narnia se kas gaan snuffel vir ʼn keur van boeke wat daar wag. Volgende kom die amper nuut-boekrak aan die beurt terwyl jy ook sommer volledige fantasiereekse van die jongste jeugfiksie kan kry net ná die rak met ʼn verskeidenheid van Afrikaanse gunstelinge.

Eerste staan die tafel met badnat- en hondhap-boeke wat jy vir ʼn appel en ei kan oppik. (Foto: Verskaf)

Die boekwinkel is die droom van Yolanda (voorheen Barnard) Lemmer, wat vir langer as ʼn dekade een van die bekendste Afrikaanse poniejoernaliste in die land was. Sy is egter ook ʼn woord- en boekverslaafde en het oor ʼn tydperk van 30 jaar boeke gekoop, uitgesnuffel, present gekry en versamel.

“My eie versameling sluit bykans 4 000 boeke in en spog met eerste uitgawes uit die pen van André P. Brink.

“My man het begin mor oor die boekrak in ons huis wat nou selfs tot by die porseleintroon in die badkamer strek. Dit het my laat besluit om nie langer my droom van ʼn boekwinkel net in die lug te laat hang nie.”

Vir Lemmer was dit belangrik om ʼn boekwinkel in ʼn teetuin of plantpark te begin.

“Boekwinkels in groot winkelsentrums is vir my te onpersoonlik en kil. Dit is soms asof die heel boekkoopondervinding onder die buisligte en die geklik-klak van haastige voetstappe verdwyn.”

Kookabella Kafé in Clubview in die hartjie van Centurion het die ideale agtergrond verskaf, wat die boekwinkel aanvul.

“Sien, die vennoot in my boekwinkel is Pixie, ʼn tweejarige Russian Blue-kat, want wat is ʼn boekwinkel dan nou sonder ʼn kat. Pixie kuier egter nie elke dag by die boekwinkel nie, want sy het ʼn oubok-kêrel genaamd Frankie,” vertel Lemmer met ʼn knipoog.

Pixie, ʼn tweejarige Russian Blue-kat, is Lemmer se vennoot in die boekwinkel. (Foto: Verskaf)

Lemmer nooi jou in by die winkel, waar elke leser persoonlike aandag ontvang.

Hier vind jy klassieke Afrikaanse letterkunde soos Etienne le Roux se Isis Isis Isis, of selfs die eerste uitgawe van Jan Rabie se 21 stories, maar ook amper nuwe boeke soos Hans gee vir Herklaas horings deur Rudi van Rensburg en Sidney Gilroy se misdaadverhale, Middernag en Klikbek.

Alhoewel Yolo Boeke veral lesers aan Afrikaanse skrywers wil bekendstel, het die winkel ook ʼn magdom van Engelse fiksie, niefiksie, fantasieverhale, biografieë, selfhelpboeke, chic-lit, prulromans, jeugromans, kinderboeke, klassieke werke en digbundels in voorraad. Almal netjies uiteengesit en keurig op die boekrakke georden.

“Daar is ook juweeltjies soos Die groot Bybelse prenteboek wat in 1956 gepubliseer is en ʼn hele versamelreeks oor Totius,” sê Lemmer.

Sy deel die boeke hartstogtelik met ʼn mens, asof sy ʼn onontdekte skatkis saam met jou vir die eerste keer opbreek.

Die skrywer Sidney Gilroy kuier by Yolo Boeke in Kookabella Kafé se teetuin. (Foto: Verskaf)

Nog iets waarmee Lemmer graag help, is om boeke op te spoor vir mense wat na spesifieke titels of uitgawes van ʼn boek soek.

“Ek help lesers graag om ʼn spesifieke boek te vind.”

Vir haar is daar niks lekkerder om in ʼn medeboekwurm se vreugde te deel as hulle ʼn boek vind waarna hulle al lankal op soek was nie.

Buiten boekbekendstellings saam met skrywers, beplan Yolo Boeke ook talle opwindende projekte wat ʼn eksklusiewe biblioteek en kinderoggend saam met NB Uitgewers se Henk Viljoen, die uitgewers se streekverkoopbestuurder van NB-skole, insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Enige woordsmokkelaar se droom. Baie dankie hiervoor. Dit voed ‘n dimensie wat soveel afskeep, selfs ignoreer.
Mag hierdie inisiatief mildelik geseën word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.