Aitsa Mahindra

Mahindra is nie onbekend in Suid-Afrika nie. Produkte soos die Pik Up geniet ʼn groot markaandeel in die enkelkajuitbakkiesegment terwyl die XUV 500 een van die eerste meer luukse produkte was wat die handelsmerk aan Suid-Afrika bekendgestel en wat ons laat regop sit het.

Vir my behoeftes, ʼn gesin van vyf wat gereeld woonwa sleep, is ʼn leerraamsportnutsvoertuig met sewe sitplekke ideaal. Indien ʼn mens ʼn 4×4-dryfstelsel daarby kan voeg, het jy moontlik ʼn wenner. Die enigste jammerte is dat sulke voertuie gewoonlik ʼn plaas se prys kos. Die vorige Scorpio het soms my aandag getrek, maar gebrekkige veiligheid het my afgeskrik.

Toe Mahindra ons nooi vir die plaaslike bekendstelling van die splinternuwe Scorpio, was ek gretig om dit te ervaar. Die 2.2 mHawk-enjin in die huidige Scorpio en Pik up is lekker sterk!

Niks kon my voorberei vir die transformasie wat die Scorpio ondergaan het nie. Die ontwerp is netjies. Uit sekere hoeke kan ʼn mens Volvo se XC90 in die ontwerp sien, en dis beslis nie ʼn slegte ding nie.

Die binneruim is nou eintlik luuks. Ja, doelgerig ook, maar beslis luuks eerder as rudimentêr soos met die voorganger. Ek is steeds nie heeltemal oortuig deur die swart-en-bruin-kombinasie nie – maar ʼn mens raak dit vinnig gewoond. Die bestuurdersitplek is elektries verstelbaar, en ʼn mens is vinnig gemaklik. Ek sou graag ʼn reikafstandverstelbare stuurkolom wou hê, maar die voertuig is beslis nie ongemaklik daarsonder nie.

Daar is ʼn raakskerminligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied, en ʼn lekker sterk Sony-klankstelsel met 13 luidsprekers. Die klimaatbeheerstelsel vind sy wortels in Indië, en dáár skrik lugreëling vir niks. Spoedkontrole maak langafstandreise lekker gemaklik – én die nuwe Scorpio spog met 5-ster NCAP- veiligheidsgradering.

Onder die kap sit ʼn groot verrassing. Mahindra se 2.2 mHawk-viersilinderturbodieselenjin is puik. Lig op brandstof, én die 129 kW en 400 Nm wringkrag voel voorwaar sterk. Die enjin gaan gepaard met ʼn 6-spoed wringkragomsitter outomatiese raktas met laestrek. Daar is ʼn elektroniese ewenaarslot op die agterste dryfas, en voor is daar ʼn elektroniese stelsel wat gebruik maak van die sluitweerremme om wieltol te bekamp.

Op die teerpad kan ʼn mens voel dat daar ʼn leerraamonderstel is, maar dit is beslis bekwaam en nie ongemaklik nie. Die Scorpio toer maklik teen 120 km/h en selfs ʼn stukkie meer. Dis egter waar die teerpad eindig waar die nuwe Scorpio N my uitgeboul het. Die 4×4-weergawe van dié Mahindra is uiters bekwaam. By Klein Tafelberg se 4×4-roete kon nie een hindernis in die sagte sand teen die berg op die Mahindra flous nie.

Ek sal die Mahindra Scorpio N só opsom: Dit is ʼn mooi voertuig, met goeie bougehalte. Mahindra word geken aan sy betroubaarheid en goeie waarde vir geld. Die toevoeging van ʼn 5-ster veiligheidsgradering is ʼn groot aanwins vir diegene wat hul gesinne in só motor wil laai. Die 2,5 ton-sleepkapasiteit is ook 1 200 kg beter as wat GWM se P-reeks mee kan spog. Indrukwekkend.

Die reeks lyk só:

Mahindra Scorpio N 2.2 Z4 6-spd outo 4×2R465 000
Mahindra Scorpio N 2.2 Z8 6-spd outo 4×2R510 000
Mahindra Scorpio N 2.2 Z8 6-spd outo 4×4R560 000
Mahindra Scorpio N 2.2 Z8L 6-spod outo 4×4R590 000

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/150 000 km-waarborg en vyf jaar/100 000 km-diensplan.

Ons beoog om April met die Scorpio die woonwa te hak en kus toe te sleep. Ons sal dán meer oor sy sleepvermoë berig en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Baie goeie waarde vir geld. Op die oog af goeie gehalte ook… hier kom dalk moeilikheid vir die al hoe duurder Europese produkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.