Amarok se hart klop steeds Volkswagen

(Foto: Verskaf)

Die wêreld is deesdae vol gedeelde platforms en verskeie voertuie wat naamplaatjies deel. Die bekendste in hierdie stadium is seker die ooreenkoms tussen Toyota en Suzuki. Die Starlet en Urban Cruiser is albei Suzuki‑voertuie wat as Toyotas hier verkoop word. Ander waarvan mense nie altyd weet nie, is dat ons Daihatsu Terios as ʼn Toyota in ander markte verkoop word. ʼn Klomp voertuie loop ook deesdae met ʼn Renault‑viersilinderturbopetrolenjin – selfs ʼn Mercedes-Benz! Ford se vorige Ranger was altyd ʼn Mazda… en nou is die Volkswagen se Amarok ʼn Ford Ranger onder die vel.

Die rede hiervoor is eenvoudig. Met die enorme regulasies en vereistes waaraan moderne motorvervaardigers moet voldoen, is dit eenvoudig net té duur om ʼn splinternuwe model te vervaardig indien daar nie derduisende van die voertuig gaan verkoop nie. Volkswagen het ʼn keuse gehad: Skrap die Amarok of soek ʼn nuwe vennoot om die voertuig saam mee te bou. Deel koste en almal wen.

Ek sal dit só stel. Die nuwe Volkswagen Amarok is uniek genoeg om sy eie naam te dra. Ek weet dit is ʼn Ranger, bloot omdat ek die voertuie met my eie oë van die lyn sien afrol het, maar ʼn leek sal nie van beter weet nie. Daar is net twee dinge wat jy vinnig sal opmerk – dit is die rathefboompie en die nuwe posisie van die aan‑ en afskakelaartjie wat sit waar ʼn mens ʼn sleutel sou indruk. Dis omtrent dit. O, en die groot raakskerm in die middel.

(Foto: Verskaf)

By die Ford Ranger se bekendstelling het die ontwerphoof vir my gesê hy het glad nie die Amarok se ontwerp gesien totdat die publiek dit gesien het nie. Ford en Volkswagen het dit só gedoen om die twee produkte so uniek moontlik te hou. Die Amarok is ʼn uiters aantreklike meneer. En indien die bakkies langs mekaar staan, sal jy nie ʼn idee hê van wat onder die vel aangaan nie.

Die binneruim se materiale is luuks en die bougehalte voorwaar sterk. Soos ʼn mens in die kajuit rondkyk, is dit eenvoudig: Dit is ʼn Volkswagen. En hy is baie gemaklik. Die ergonomie in die Amarok is puik, en ʼn mens pluis alle funksies vinnig uit. ʼn Groot voordeel is die fisieke knoppies vir die waaier en volume sodat jy nie heeltyd in die raakskerm moet rondkrap nie.

(Foto: Verskaf)

Onder die kap van die voertuie sit ʼn romerige 3.0 V6‑turbodiesel. Hy bied 184 kW en 600 Nm. Krag word deur ʼn 10-spoed‑ outomatiese ratkas aan al vier wiele gestoot. Die Aventura en PanAmericana is met viertrek en ʼn laestrekratkas toegerus. Die laestrekratkas is ʼn groot verbetering vir die Amarok vergeleke met sy voorganger.

Die 10-spoed‑outo in die Amarok en Ranger is nou voorwaar fantasties. Ek het ʼn teorie: Die ratkas in die vorige Ranger was nie lekker nie. Dit het altyd geklink of hy sukkel om op te wen in eerste en tweede rat voor die wringkragomsitter mooi vasskop in derde rat. Die wringkragomsitter het te veel glip gehad. Ek is oortuig daarvan toe die samewerkingsooreenkoms begin het, het Ford vir Volkswagen ʼn enjin en ratkas gestuur om te programmeer soos hulle dink die beste is. Ek dink Volkswagen het die 10-spoed amper presies soos hul ou 8-spoed‑ZF‑ratkas gekalibreer. Die resultaat is uitmuntend. Ek dink Ford het die ratkas terugontvang en net só gehou – ʼn wen-wen‑situasie vir almal.

Die nuwe Amarok geniet ʼn magdom nuwe stelsels. Intelligente veiligheidstelsels en funksionaliteit soos aanpasbare spoedkontrole is lekker. Tussen die veiligheidstelsels is botsingwaarskuwing met noodremhulp en agter kruisverkeerwaarskuwing werklik indrukwekkend. Die Amarok mag 3.5 ton sleep en sy blindekolwaarskuwing kan gestel word om die sleepwa in ag te neem, met baandwaal‑ en blindekolwaarskuwing.

(Foto: Verskaf)

Plaaslik sal daar drie enjins beskikbaar wees: ʼn Enkelturbo 2.0‑viersilinderturbodiesel met 125 kW, ʼn dubbelturbo met 154 kW en ʼn V6 met 184 kW. In Europa is van dié enjins se spesifikasie effens laer weens emissie-regulasies, en Europa kry ʼn 2.3‑viersilinderturbopetrolenjin by wat 222 kW bied. Plaaslik sal daar ook ʼn 125 kW‑enkelkajuit werkesel wees met ʼn 5-spoed‑handratkas.

Na ʼn kort voorsmakie sal ek die nuwe Volkswagen Amarok só opsom: Dit is ʼn bitter mooi bakkie en die gehalte lyk fantasties. Daar is ʼn breë reeks om van te kies, én die ontwerp is voorwaar netjies. Die Amarok sal amptelik vroeg 2023 in Suid-Afrika bekendgestel word, en dán sal ons meer oor pryse weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

kolonel ·

Ek voorspel dat die eintlik-‘n-Ranger ‘n lekker vet premie gaan hef vir die Volkswagen kenteken. Het ons nie juis onlangs dieselfde storie sien uitspeel nie ?

JohanR ·

Daai skerm word net grooter en grooter. Sal soort teen soort meen die Ranger is dierder of die VW?

Vonkprop ·

Iets aan die voorkant werk nie vir my nie. Die ontwerp lyk vreemd. As jy met die oog koop wen die Ranger beslis. Selfs die vorige Ranger en Amarok model lyk beter. Hy is in elk geval nie beter as die Ranger nie en sal duurder wees oor daardie VW kenteken so sal verby hou. Dit is hoekom hy nie ‘n topverkoper soos die Hilux en Ranger is nie.

Kokerboom ·

Dit bly ‘n pragvoertuig. Raak net buite bereik vir Jan Alleman

koos ·

Belaglik – die nuwe Amarok is eenvoudig net ‘n Ford met lipstiek en vals wimpers aan. Koop maar eerder die oorspronklike Ranger. Bye-bye VW vir my :-(

Grens ·

Gaan hy nou ook elk 90k km ‘n nuwe enjin moet kry soos ‘n Ford?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.