Bekendstelling: BMW R 12 nineT en R 12

Toe BMW in 2014 die R nineT-model bekendgestel het, het die verkoopsyfers sy wildste drome oortref. Die R nineT is ’n eenvoudige motorfiets met die bewese BMW-bokserenjin as vertrekpunt, maar die ware aantrekking van hierdie fiets was dat jy hom baie maklik kon pasmaak vir jou eie styl. Natuurlik wou BMW munt slaan uit hierdie platform, en oor die jare is daar heelparty variante van die nineT bekendgestel. My heel eerste kennismaking met dié fiets was in 2016 tydens die R nineT Scrambler-bekendstelling. Ek was mal oor die eenvoud van die ontwerp en sou glad nie omgee om ’n R nineT in my motorhuis te hê nie.

Nou het BMW die platform verder uitgebrei en ’n nuwe benaming die lig laat sien. Daar is nou twee modelle beskikbaar, naamlik die R 12 nineT en die R 12. Eersgenoemde sit die nineT-bloedlyn voort, maar die R 12 word bemark as ’n “cruiser”. Dit blyk dat hulle die kleiner Harley-Davidsons soos die Sportster in hul visier het.

In die persverklaring maak BMW dit duidelik dat die R 12 nineT die spirituele opvolger vir die R nineT is, en die R 12 word bemark as ’n fiets waarmee jy heel gemaklik kan rondry. Die ontwerp is ook verder vereenvoudig sodat jy jou R 12 maklik kan omskep in iets unieks. So, byvoorbeeld, is die raam heeltemal herontwerp sodat dele maklik af- of aangeskroef kan word.

Die enjin is die bekende 1170 cc-bokserenjin wat in ander BMW-modelle diens doen. BMW het egter die enjin onder hande gekry en vir elke model ’n unieke karakter geskep. In die R 12 nineT lewer die enjin 109 pk, maar in die R 12-model ’n meer besadigde 95 pk, en dit boonop teen laer omwentelinge. Die luginlaat is nou onder die sitplek en dit het ’n klein kosmetiese verandering aan die syaansig van die fiets teweeg gebring. Die uitlaatpype dra ook by tot die klassieke voorkoms.

BMW het die analooginstrumente behou, maar daar is nou ook die opsie van ’n uiters minimalistiese TFT-skerm. Ek raai dit is om meer jonger ryers na hierdie model te lok. Daar is ook ’n USB- en ’n 12 V-sok in die instrumentasie ingebou.

Die ergonomie op die R 12 nineT is subtiel aangepas deur die brandstoftenk korter en nouer te maak. Dit plaas die ryer verder vorentoe op die fiets en weerspieël die manier hoe jy hierdie fiets sal ry. Die R 12, daarenteen, het ’n groot 19″-voorwiel en klein 16″-agterwiel wat die ryer weer in ’n ontspanne ryposisie plaas.

Uit ondervinding kan ek beaam dat hierdie fietse uiters hoë vlakke van afwerking het, en die nuwe kleurskemas is ook vars en nuut. Die R 12 nineT en R 12 sal beslis bydra tot BMW se volgehoue sukses in hierdie segment.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.