Bekendstelling van Ducati se DesertX

Ducati DesertX (Foto: Verskaf deur ducati)

In my opinie is die Ducati Multistrada 950 een van die beste dubbeldoel fietse waarmee ek al gery het. Hierdie fiets is onlangs opgeknap en heet nou die Multistrada V2. Hoewel die V2 bedoel is om ewe tuis op teer as op grondpad te wees, moet ons eerlik wees: hy verkies die teerpad en doen dit uitermate goed. Nou het Ducati egter ’n hardebaard weergawe van die V2 uitgebring wat beslis lyk of hy jou sal verkwalik as jy nie langs die teerpad op die grond ry nie: Die Ducati DesertX.

Die DesertX het al in 2019 in konsepvorm verskyn en die reaksie van die publiek was baie positief. Dit het Ducati laat besluit om die DesertX ’n werklikheid te maak. Hoewel hy op die V2 geskoei is, is daar bitter min uiterlike ooreenkomste tussen die twee. Die fiets het ’n 21”-voorwiel en 18” agter en die skokbrekers gee die voorwiel 230 mm om in te beweeg. Die fiets het ’n reuse 250 mm grondvryhoogte, so jy kan maar met vrymoedigheid ver van die teerpad afdwaal.

Ducati DesertX (Foto: Verskaf deur ducati)

Die groot brandstoftenk en meegaande bakpanele gee die ryer baie kontakpunte in tegniese dele.  Onder al die bakpanele skuil die waterverkoelde 937 cc Testastretta- enjin wat ook diens doen in die  Multistrada V2. Die enjin lewer 110 pk teen 9 250 rpm en 82 Nm wringkrag. Die manier hoe die DesertX hierdie krag lewer is egter aangepas om hom tuis te laat voel op rowwe paaie. Die ratkas is ook aangepas met korter ratverhoudings om lae spoed tegniese terrein beter te hanteer. Daarenteen is die sesde rat ekstra lank gemaak om reise op die teerpad meer draaglik te maak.

Natuurlik is die fiets ook propvol van die jongste elektroniese hulpmiddels. Krag kan deur vier vlakke verstel word en daar is ’n totaal van ses ryprogramme. Twee van die programme is pasgemaak vir grondpad ry. As jy net grondpad ry, is daar ’n Rally-program, maar as die terrein baie rof raak kan jy die Enduro-program kies. Die Enduro-program verlaag die krag en maak die fiets makliker om te ry, selfs vir minder ervare ryers. As jy egter hou van ’n groot stofwolk agter jou, dan is die Rally-program vir jou. Dit lewer volle krag met minimale elektroniese inmenging sodat jy die fiets vrye teuels kan gee.

Die instrumentepaneel is ’n volkleur 5” TFT- skerm en is regop gemonteer om dit meer leesbaar te maak, sou jy staan en ry. Die treffende dubbele hoofligte rond die prentjie mooi af.

As jy dus een van daardie ryers is wat jou eie pad wil maak die boendoes in, dan het jou keuse van fietse pas uitgebrei. Ek kan nie wag om dié fiets in lewende lywe te sien nie!

Kry die produkblad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.