Belastingbult te steil vir Q3

Die nuwe Audi Q3. Foto: Verskaf

Audi het verlede jaar sy Q3 bekendgestel. Ons het nou weer tyd met hom deurgebring – en ek moet sê, dit is ʼn lekker motor. Die meer aggressiewe ontwerp van die nuwe Q3 is beslis mooier as sy voorganger s’n. Die nuwe Q3 voel vir my groter ook, asof dit die lyne tussen Q3 en Q5 begin vervaag.

Nietemin, Audi is besig om uit ʼn periode te kom waar hul ontwerpe bietjie verbeeldingloos was. Elke Audi het eenders gelyk; iets wat hulle nou besig is om reg te stel. ʼn Mens kan beslis sien dis ʼn Audi, maar hy het dinge wat hom uniek maak.

Die binneruim, soos met enige Audi, is uit die boonste rakke. Die bougehalte en materiale is ook uit die boonste rakke.

Die nuwe Audi Q3. Foto: Verskaf

Ons toetseenheid het ʼn stratosferiese spesifikasievlak gehad, maar dis iets wat nog altyd ʼn probleem was by Audi. Jare terug, toe ek by Top Car gewerk het, het hulle ʼn langtermyn‑ Audi A3 3.2 gespesifiseer met elke moontlik opsionele ekstra. Die motor se prys het verdubbel.

Daar is elke truuk wat ʼn mens sou kon begeer, teen ʼn prys. Standaardtoerusting sluit in: Dubbelsone-klimaatbeheer, luimbeligting, spoedbeheer, digitale instrumente, parkeerhulp en dan is daar verskeie opsionele pakkette wat ekstra bykomstighede bevat. Die pakkette is: Comfort, Technology, Sport, Parking, S line interior en Black Styling.

Die nuwe Audi Q3. Foto: Verskaf

Die Q3 is slegs met een tipe enjin beskikbaar. Dit is ʼn Q3 35 TFSI. Dit word aangedryf deur ʼn 1.4 TFSI enjin met ʼn 6-spoed S-tronic-dubbelkoppelaarratkas. Die enjin bied 110 kW en 250 Nm. Audi maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 5,8 ℓ/100 km. Ons het tydens die toets 8,2 ℓ/100 km gehandhaaf. Die 1.4 TFSI is vir my ʼn gladder enjin as die nuwe 1.5 wat in van die Audi‑ en VW‑produkte beskikbaar is.

Soos mens sal verwag van ʼn luukse handelsmerk het die Q3 ʼn indrukwekkende veiligheidspesifikasievlak. Daar is ABS met EBD, stabiliteit en vastrapbeheer, afdraandebeheer en ses lugsakke met ISOFIX op elke sitplek. Op die pad voel die Q3 lekker luuks. Die rit is sag genoeg en die padhouvermoë in die kol. Die bestuursposisie is pure Audi – perfek vir my, en Audi se sitplekke is van die beste in die bedryf.

Dit is hier by die opsomming waar dinge egter ʼn bietjie begin skeefloop. Die Q3 is regtig ʼn lekker motor. Dis mooi, en luuks. Maar met sy opsionele ekstras het ons toetsmotor naby R700 000 gedraai. Dit is verskriklik. Die invoerbelasting van omtrent 42% maak dit vir Audi onmoontlik om die Q3 billik te prys. R700 000 vir ʼn 1.4, voorwielaangedrewe klein na mediumgrootte sportnuts is te erg, al is dit mededingend in sy segment.

Die reeks lyk só:

Audi Q3 35TFSIR582 000
Audi Q3 35TFSI Advanced lineR602 000
Audi Q3 35TFSI S lineR616 000

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Citroën C5 Aircross 1.6T Shine121 kW/240 Nm7,9 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR514 900
BMW X1 sDrive18i103 kW/220 Nm6,3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R570 934
Ford Kuga 2.0T AWD ST Line177 kW/340 Nm8,6 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R582 900
Mercedes-Benz GLA200 AMG Line120 kW/250 Nm6,0 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R583 040
Volvo XC40 T3 Inscription outo110 kW/265 Nm6,7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR597 642
Jeep Compass 2.4 4×4 Trailhawk129 kW/229 Nm9,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR604 705
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 4Motion Highline162 kW/350 Nm7,8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R611 500
Lexus UX 200 EX126 kW/205 Nm6,1 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR641 900

Die segment is massief. Daar is mededingers van elke smaak om uit te kies en te keur. In die prysklas kan die Tiguan en Kuga se reeksleiers met hul bomklapper 2.0-turboenjins nie misgekyk word nie. Die Jeep Compass is ʼn ware 4×4 teen die prys ook. Alles dinge om te oorweeg, maar R700 000 vir die Audi is eenvoudig té veel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.