Bezuidenhout breek eie rekord by Simola Hillclimb

Simola Hillclimb, 2021. (Foto: Verskaf)

Die twee vinnigste renjaers in die 2019-kompetisie, André Bezuidenhout en Franco Scribante, was vanjaar weer die vinnigste in hul onderskeie klasse tydens die eerste drie kwalifiseringsrondes van die Simola Hillclimb.

André Bezuidenhout is die heersende baanrekordhouer. Hy het in 2018 teen die 1,9 km‑pad opgejaag in ʼn tyd van 35.528 sekondes. Gister het hy tot almal se verbasing hierdie verstommende tyd gebreek met ʼn nie-amptelike rekord van 35.449 sekondes. Dit beteken dat hy ʼn gemiddelde spoed van 193 km/h teen die heuwel op gehandhaaf het.

Ongelukkig tel hierdie rekord nie, aangesien ʼn rekord slegs geld as dit opgestel word in die finale klas-ren of Top‑10‑ren. Franco Scribante het op sy beurt ’n top-tyd van 39.942 sekondes opgestel in die tweede kwalifiseringsronde. Hy is die enigste jaer in die Gemodifiseerde Renmotor-klas in sy monsteragtige R35 Nissan GT-R.

Na bewering het sy GT-R meer as 2 000 perdekrag onder die enjinkap en dít verduidelik die reusevlerk op die stert en neus, wat nodig is om die motor op die pad te hou terwyl hy hard versnel om die skerp draaie. Scribante en Wilhelm Baard, sy grootste mededinger in nog ʼn GT-R, het albei heelwat tyd onder die enjinkap bestee om klein foutjies reg te stel. In Scribante se geval was die grootste probleem elektroniese foute, terwyl Baard gesukkel het met brandstoftoevoer op sy gemodifiseerde GT-R, genaamd Armageddon. Baard se vinnigste kwalifiseringstyd was 41.1 sekondes.

Die 2019‑Simola‑produksiemotorkampioen, Reghard Roets, het vanjaar sy Nissan GT-R verruil vir ʼn Mini Cooper John Cooper Works GP en hy het sy talent behoorlik gewys toe hy die derde vinnigste tyd in sy klas aangeteken het (48.622 sekondes). Roets, seun van die bekende skrywer en filmregisseur Katinka Heyns en filmmaker Koos Roets, was kort op die hakke van die twee voorlopers in hierdie klas, JP van der Walt in ʼn Porsche 911 GT3 en die Audi R8 V10 van Gordon Nicholson.

Simola Hillclimb, 2021. (Foto: Verskaf)

Die dag was nie sonder drama nie. Verskeie motors het in ongelukke beland, onder andere Janus Janse van Rensburg in ʼn 1991‑Nissan R32 wat beheer verloor het op ʼn nat kol op die pad en Geoff Mortimer wie se Porsche 924 se stuurwiel in een van die skerp draaie losgekom het. Die gewilde Franco di Matteo, wat gewoonlik bolle rook maak deur sy wiele by die wegtrekstreep te tol, het sy V8 Jaguar afgeskryf toe hy die pad byster geraak het. Sy span het egter die voertuig oornag oorgebou en hy veg weer vanoggend verder met die bult.

Só lyk die tye tot dusver:

Vinnigste oopwiel-renmotor

André Bezuidenhout – Gould R55 – 35.499 s

Vinnigste gemodifiseerde renmotor

Franco Scribante – Nissan GT-R – 39.581 s

Vinnigste produksieklasmotor

JP van der Walt  – Porsche 911 GT3 RS – 45.336 s.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.