BMW knap sy K 1600-reeks op

(Foto: Richard Harper)

Die oorspronklike K 1600 GTL is in 2011 bekend gestel as regstreekse kompetisie vir die groot toerfietse soos die Honda Goldwing. Dit moes eenvoudig die toppunt van luuksheid en rygemak wees. Daar is sedertdien ook drie bykomende modelle tot die K-reeks gevoeg: die GT, die B en die Grand America. Die hele reeks is verlede jaar opgeknap, en BMW het ons genooi om die nuwe reeks fietse hier in Gauteng en omgewing te kom ry.

Vir 2022 het BMW verskeie tegniese opgraderings na die reeks gebring. Die rol en stilering van die fietse het meestal onveranderd gebly. Die GT is steeds die meer dinamiese een, terwyl die GTL se fokus op gerief is vir ryer en passasier. Die B is vir die soloryer en beskik oor groot voetplate wat vorentoe gemonteer is vir gerief. Die Grand America neem die B-konsep net nog ’n trappie verder en maak ruim voorsiening vir ’n passasier.

(Foto: Richard Harper)

Om aan Euro 5-emissiereëls te voldoen, is die enjin toegerus met meer elektroniese sensors vir beter enjinbeheer. Dié aanpassings het daartoe gelei dat die enjin steeds 118 kW lewer, maar teen laer toere. Die enjin lewer ook 5 Nm wringkrag meer as die vorige weergawe. Die vering is opgegradeer na BMW se nuutste elektroniese weergawe en verstel self na gelang van die gewig op die fiets.

BMW se nuwe, aanpasbare kopligte is ten volle LED-eenhede. Die hele koplig beweeg soos die fiets kantel in draaie, wat verseker dat die pad die hele tyd verlig is. Dit kan ook op- en afkantel sodat die lig op dieselfde plek skyn, selfs al rem of versnel jy hoe hard.

(Foto: Richard Harper)

Die grootste, sigbare verandering is egter BMW se nuwe 10.25″-TFT-skerm. Navigasie word deur die nuwe skerm gehanteer, so die spasie bo die instrumente, wat voorheen die GPS gehuisves het, is nou omskep in ’n handige paneelkissie. Dit is toegerus met ’n USB-C-sok sodat jy jou foon kan laai terwyl jy ry.

Ons het in Midrand bymekaargekom om die nuwe fietse te sien. Een van die B-modelle was afgewerk in ’n uiters treffende nuwe “Midnight”-afwerking. BMW beskryf die verfkleur as “Meateoric Dust metallic”.

(Foto: Brian Cheyne)

En asof die verfkleur nie al eksoties genoeg klink nie, word daar verder ’n “Galaxy”-tema per hand op die panele aangebring. Dit verseker dat geen twee modelle dieselfde lyk nie. Dit is uiters aantreklik, en het oral aandag getrek. Omdat daar ’n beperkte aantal K-reeks-fietse beskikbaar was, het BMW ook die R 18 B en R 18 Transcontinental beskikbaar gehad.

Van Midrand is ons op die N3 in die rigting van Parys. Ek het weggespring op die K 1600 B, en die fiets het sommer dadelik ’n indruk op my gemaak. Omdat ek feitlik altyd alleen toer, sal ek verkies om die GT of die B te ry. Die B het egter net soveel meer “houding”. Met die voetplate wat vorentoe gemonteer is, is die B uiters gemaklik. Die kontroles vir ratte en remme is egter steeds op die tradisionele plek, so as jy skielik moet rem, sal jy maar op die voorremme alleen moet staatmaak.

Halfpad na ons middagete-afspraak het ek my B verruil vir die GT. Die GT is meer regop met ’n yslike skerm om jou te beskerm teen die elemente. Die ses-silinder-enjin op die K 1600 bly een van daardie enjins waarvan die gladheid my altyd beïndruk. Ek wens net BMW kan ’n ratkas bou wat so glad is soos die enjin. Die snelskakeling is steeds ’n rukkerige affêre. Maar as jy eers in sesde rat is, kan jy hom maar daar los, die enjin is sterk genoeg. Om voertuie verby te gaan, verg net ’n vinnige draai van die versneller, en jy is weg.

(Foto: Richard Harper)

Ná middagete het ons met die R 18’s teruggery, maar ek het alreeds breedvoerig oor hulle verslag gedoen. Tydens die aand se verrigtinge by die luukse Westcliff-hotel kon ons ook die GTL van nader bekyk. As jy dus ernstig daaroor is om baie lang afstande in ’n kort tydjie af te lê, sal jy nie verkeerd kan kies met enige van die K 1600 modelle nie. Ek glo daar sal een wees wat met jou binneste praat.

Pryse is soos volg:

K 1600 GTVanaf R353 300
K 1600 GTLVanaf R361 950
K 1600 BVanaf R400 400
K 1600 Grand AmericaVanaf R463 500

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.