BMW R18 B en Transcontinental – uitnemende toerfietse

(Foto: Brian Cheyne)

Die wonderlike ding van ’n opinie is dat dit kan verander sodra jy nuwe inligting inwin. Die BMW R18 Pure het my nie beïndruk nie, maar die R18 Classic het my laat wonder of BMW tog iets beethet.

Maar noudat ek die R18 B en die R18 Transcontinental gery het, het my opinie van die R18-motorfietse heeltemal verander. BMW het steeds nie ’n maklike taak om die patriotiese Amerikaners te oortuig van die R18 se vermoëns nie, maar BMW lyk reg vir die stryd.

(Foto: Brian Cheyne)

Die huidige modelreeks bestaan uit die R18 Pure, R18 Classic, R18 B en R18 Transcontinental. Die eerste twee is die eenvoud vanself. Hulle beskik slegs oor ’n enkele ronde instrumentepaneel en die Classic kry kanttasse, kolligte en ’n klein skermpie. Hoewel die R18 B dieselfde onderstel deel met die ander fietse, beskik hy oor ’n uitgebreide instrumentepaneel en ’n groot skerm met ingeboude luidsprekers. Die harde kanttasse bevat ekstra luidsprekers en kan sluit. Hierdie model het ook heelwat minder chroom en vertoon net baie beter.

(Foto: Brian Cheyne)

Daar is ’n yslike 10,25″-TFT-skerm wat elke brokkie inligting van die fiets kan vertoon. Tog het BMW dit goed geag om nog vier analoogwysers bo dit aan te bring. Daar is wysers vir brandstofvlak, toere, spoed en dan ’n vreemde kragmeter. Dit wys vir jou hoeveel krag die R18 nog in reserwe het.

Hoewel ek ’n groot voorstander van volkleur-TFT-skerms is, beteken dit dat sommige van die eenvoudigste funksies ver en diep versteek is. Byvoorbeeld, net om die verhitte grepe aan te sit, het 11 aksies benodig. BMW het wel ’n wiel op die handvatsel wat dinge behoort te vergemaklik, maar hierdie soort funksies moet eenvoudig wees.

(Foto: Brian Cheyne)

Die radio verg die vindingrykheid van ’n tiener en kan eenvoudig nie onthou waarna jy laas geluister het nie. Jy kan die fiets met BMW se toepassing aan jou selfoon koppel wat sekere funksies makliker behoort te maak. Dan is daar nog een laaste ding om oor te kla, en dit is die bagasie. Hoewel die volumesyfer aangegee word as 26 l kan ek nie sien hoe hulle by daardie syfer uitgekom het nie. Die tasse is piepklein met ’n onpraktiese vorm.

Die R18 Transcontinental het nog ’n bykomende tas agterop. Hier is nog twee luidsprekers ingebou wat die beskikbare ruimte verder beperk. Die fiets beskik ook oor ’n heelwat groter windskerm, hoewel hierdie skerm nie verstelbaar is nie. Daar is ook twee panele om jou bene teen die elemente te beskerm.

Om hierdie fietse in hulle natuurlike habitat te ervaar, het ek my vriend, Wes Reyneke, in Kaapstad gevra om vir ons ’n lekker roete uit te werk. BMW Suid-Afrika het vir ons ’n R18 B afgestuur Kaap toe. Ons rit het by Donford BMW in Kaapstad se middestad begin en omdat ek my kamerasak saamgeneem het, het ek die Transcontinental geannekseer. Die fiets weeg oor die 400 kg en omdat die meeste van die ekstras op die fiets hoog sit, is dit nogal moeite om die fiets regop te kry. Die R18 B is effens makliker. Deur Kaapstad se middestad is ons na Clarence Drive. Hier reeds het die groot fietse hulle staal gewys. Hulle gewig ten spyt is albei fietse verbasend lig om te hanteer. In Hermanus het ons by ’n Harley-Davidson-saamtrek stilgehou en die twee groot Duitsers het goed ingepas.

Van Hermanus is ons op na Bredasdorp waar ons oornag het. Die volgende oggend moes ons die fietse onder die afdak uitkry, maar gelukkig beskik albei fietse oor ’n trurat. Ons het op Swellendam stilgehou vir roosterkoek en fietse geruil. Ek het tot in Mosselbaai met die B gery. Dit was genoeg om my te oortuig dat die R18 B vir my persoonlik die ideale toerfiets is. Die ekstra gewig wat die B nie hoef saam te dra nie, maak die wêreld se verskil. Wes het egter dieselfde gevoel en hy wou “sy” fiets terughê op Hartenbos!

Van daar af is ons oor Robinsonpas, deur Oudtshoorn, tot in Calitzdorp. Hoe verder ons gery het, hoe meer het ek van hierdie fietse gehou. Op die oop pad kon ek gebruik maak van die aanpasbare spoedbeheer. Dit werk wonderlik. Die fietse is gemaak vir lang reguit paaie, maar jy hoef darem nie te skrik vir ’n draai nie. Ek sal maklik een van hierdie fietse in my eie motorhuis wil parkeer. Teen R429 150 vir die Transcontinental en R399 700 vir die R18 B is dit nie juis kleingeld nie. Maar gegewe die prys van ’n soortgelyke Harley-Davidson, of Honda se GoldWing wat nou al R500 000 kos, is dit ’n winskoop dié.

Klik hier vir die produkblad vir die R18 B en hier vir die R18 Transcontinental.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Pragtige artikel oor ‘n meesterstuk met interessante bykomende illustrerende videos. Lekker gelees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.