BMW M1000R – As jy ernstig is oor verrigting

(Foto: Brian Cheyne)

Ek is seker dat die M-kenteken op BMW se motors aan die meeste mense bekend is, of jy nou hou van motors of nie. Nou het BMW hierdie kenteken ook na sy motorfietse laat oorloop, en die resultaat is iets besonders. Dit het alles begin met die M1000RR, wat natuurlik gebaseer is op die S1000RR. Die S1000RR was vir my, naas die Honda Fireblade, seker een van die maklikste superfietse om te ry. Dit bly ’n absolute missiel, maar tog kan jy hom rustig ry ook.

Verloor jy egter een R en die meeste van die bakpanele, dan het jy BMW se S1000R. Dit is ’n kaalfiets met ’n meer ontspanne ryposisie, sonder om enige verrigting in te boet. Die 999 cc-enjin lewer 165 pk en behoort meer as genoeg te wees vir Jan Alleman.

(Foto: Brian Cheyne)

Die M1000R is egter nie vir Jan gebou nie. BMW se M-afdeling het onlangs die hele S-reeks onder hande gehad en het weggespring met die M1000RR. Dit is gevolg deur die M1000R en nou ook die M1000XR. So, as jy hou van die verrigting van die 999 cc-enjin, dan het BMW ’n M-model vir jou.

Die M1000R is by my afgelewer, en ek het eers ’n rukkie geneem om die fiets behoorlik te bekyk. Daar is geen twyfel oor die M-behandeling nie, want ek kon sonder om hard te probeer 24 M-kentekens op die fiets tel. Daar is ook koolvesel oral. Die voorste modderskerm, die windskerm, die skermpie oor die ketting en selfs die fiets se vellings is van koolvesel. Dit maak natuurlik die fiets baie ligter.

Ek het al koolvesel-vellings in my hande gehad, en die verpakking waarin dit gekom het, het amper meer geweeg as die velling self. Dit maak egter ’n baie groot verskil aan die prys. Die standaard-M1000R kos in die omgewing van R377 000, maar as jy begin om die opsionele bybehore by te tel, gaan jy baie vinnig meer as R500 000 uitgee. Die R in M-kleure lyk baie aggressief, en is selfs toegerus met twee klein drukvlerkies voor. Volgens BMW gee dit afwaartse drukking van 11 kg teen 220 km/h. Dit behoort handig te wees op ’n baan, eerder as op die N1.

Die M1000R is juis gebou om die ideale baanwapen te wees. In M-formaat het die R amper die perfekte krag-tot-gewig-verhouding. Die fiets weeg 199 kg, en die enjin lewer 210 pk. Daar is twee doelgemaakte ren-programme, en selfs ’n skakelaar op die handvatsel waarmee jy die tolbeheer kan reguleer namate jou bande begin warmer word. Die instrumentpaneel beskik oor ’n stophorlosie en selfs ’n aanduiding van jou leunhoek. Dit beklemtoon weereens dat hierdie fiets gebou is vir die baan, maar tog het hy ’n rustige kant ook.

En hier lê die wonder van hierdie fiets. Selfs al is die M uiters gefokus op baanry, is daar niks wat jou verhoed om gou winkels toe te gaan met hom nie. Selfs teen lae toere werk die snelskakeling seepglad en die fiets is uiters gemaklik om te ry. Daar is selfs spoedbeheer ingesluit. Ek daag egter enigiemand uit om die M1000R rustig te ry. Hierdie fiets smeek om hard gery te word. Die ratverhoudings en die ongelooflike kragbron sorg dat die M van 0 tot 200 kan versnel in slegs 7.2 sekondes. En dan is jy nog net in derde rat. Die vlerke behoort dan hul werk te doen om die voorwiel op die grond te hou, want die M sal bly versnel tot by die 280 km/h-merk. Dit is dan wanneer die elektronika verdere waaghalsigheid sal stopsit. Die M1000R is ’n fenomenale fiets, maar beslis nie vir beginners nie. As jy ’n ryer is wat ernstig is oor verrigting, sal die M jou nie teleurstel nie.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.