BMW se jongste koepee beïndruk

Klein tweedeur-BMW’s het al dekades lank ʼn spesiale plekkie in baie Suid-Afrikaners se harte. Vir my het dit by die E30 3-reeks begin. Toe ek ʼn laaitie was, het daar nie ʼn mooier geluid bestaan as die gebrul van ʼn 325i nie.

Die feit dat ʼn 3-reeks nou enorm is teenoor ʼn E30, beteken daar is ruimte vir ʼn plaasvervanger… en dit is die nuutste 2-reeks se koepee. Toe ons die eerste foto’s van die internasionale bekendstelling gesien het, was ons verdeeld oor die ontwerp. Noudat ek die voertuig in lewende lywe gesien het, kan ek regtig sê ek hou daarvan; dit is werklik mooi.

Die binneruim is pure BMW. Die materiale is luuks, en die bougehalte uit die boonste rakke – nes mens van ʼn luukse Duitse handelsmerk verwag. Ek hou veral van hoe die paneelbord om die bestuurder gesentreer is. Die sitplekke kan perfek verstel word, en die stuurkolom vir hoogte en reik. Ek het egter twee kriewels oor die binneruim van die 2-reeks. Eerstens is die feit dat die Apple CarPlay slegs sonder ʼn draad kan verbind – die tegnologie is nie só betroubaar soos wanneer jy die kabel gebruik nie. Tweedens is die uitleg van die digitale instrumente – ek sou graag die opsie wou hê om die ontwerp te verander.

Daar is drie enjins by bekendstelling beskikbaar – 20i, 20d en M40i. Die 20i bied 135 kW en 300 Nm. Die 20d bied 140 kW en 400 Nm en sal beslis my keuse wees tussen die 20’s. Hy bied beter verrigting as die petrol en is baie ligter op brandstof. Die M40i-reeksleier spog met ʼn puik 3.0‑turboaangejaagde inlynsessilinderenjin wat 285 kW en 500 Nm bied. Dié meneer beskik oor vierwielaandrywing om seker te maak al 380 perde sit hul voete mooi op die teer neer.

Ek dink ek en my rymaat het die voertuie in die perfekte volgorde gery. Eers die 20i om ʼn lekker gevoel vir die onderstel te kry, sonder om met die 40i hoef te boks. Dan die 40i, om te sien hoe sterk ʼn 2-reeks kán wees, en dan die 20d om rustig terug te toer lughawe toe. Op die pad bied die aanpasbare vering op die M40i ʼn sagtheid wat die ander twee nie kan bied in sy Comfort-rymodus nie. Verder bied almal puik padhouvermoë en goeie ritgehalte.

Aan die veiligheidskant het die 2-reeks verskeie truuks soos vastrap‑ en stabiliteitsbeheer, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, ses lugsakke en noodremhulp. Indien jy die pakket kies, kry jy funksionaliteit soos blindekol- en baandwaalwaarskuwing, botsingwaarskuwing en dies meer.

Ek kan die 2-reeks koepee soos volg opsom: Dit is ʼn lekker tjor, met ʼn billike kattebak. Dit is uiters stylvol en gemaklik. Ek dink wel daar is ruimte in die reeks vir ʼn 228i met 180 kW en 380 Nm om die gaping tussen die 20’s en 40 te oorbrug.

Die reeks lyk só:

BMW 220i Coupé M Sport135 kW/300 Nm6,3 ℓ/100 kmR771 900
BMW 220d Coupé M Sport140 kW/400 Nm4,8 ℓ/100 kmR819 278
BMW M240i xDrive Coupé285 kW/500 Nm8 ℓ/100 kmR1 062 420

Die reeks word gedek deur ʼn twee jaar/onbeperkte km-waarborg en ’n vyf jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die 2-reeks deurbring en kyk hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.