BMW se nuwe F 850 GS- en F 900 GS-modelle

Terwyl BMW sy vere reg skud vir die bekendstelling van die langverwagte R 1300 GS aan die einde van die maand, het hy ook verskeie opgraderings aan sy middelgewig-avontuurfiets aangebring.

Tans bestaan die middelslagreeks uit die F 750 GS, F 850 GS en F 850 GS Adventure. Al drie modelle gebruik dieselfde enjin, maar die 750-model lewer minder krag om dit meer beginnersvriendelik te maak. Vir 2024 het BMW die enjin ’n hupstoot gegee en dié is vergroot van 853 cc tot 895 cc. Dit het tot gevolg dat die modelreeks nou die F 850 GS, F 900 GS en F 900 GS Adventure heet. Die nuwe enjin lewer nou ’n gesonde 10 perdekrag meer as die vorige modelle: 105 pk vir die 900 en 87 pk vir die 850. Die wringkrag het feitlik onveranderd gebly, maar die wringkragkurwe is nou heelwat platter. Dit maak die kraglewering meer liniêr en meer bruikbaar op laer toere.

Uit die staanspoor het BMW gepoog om die nuwe F 900 GS slanker en ligter te maak. Die ontwerp kom baie meer sportief voor en dui ook op die fiets se veldryvermoë. Elke paneel is herontwerp en die fiets is ook ergonomies verbeter met die klem op veldry. Die handvatsels is gelig, die voetrusse is laat sak, en die brandstoftenk is herontwerp om die staanposisie so gemaklik as moontlik te maak. Selfs die rathefboom en rempedaal is verstelbaar om jou eie rystyl te pas.

Die elektronika is verbeter en sluit nou as standaardtoerusting sluitwering én tolbeheer in, wat die leunhoek van die fiets in ag neem. Daar is ook verdere Pro-modusse beskikbaar vir die ryers wat hulle avontuurfietse tot die uiterste wil beproef.

Die grootste verandering is egter die gewig. BMW beweer dat die nuwe model sowat 14 kg ligter is as die vorige model. Om dit reg te kry, is verskeie komponente vervang met ligter materiaal. So het hy 4,5 kg se gewig bespaar deur die staalbrandstoftenk met ’n plastiek een te vervang. Die herontwerpte raam het nog 2,4 kg se gewig afgeskud, en ’n verdere 1,7 kg is verloor met die nuwe uitlaatpyp deur Akrapovič.

Die fiets is toegerus met LED-ligte om beter beligting te gee, veral direk voor die fiets. Die flikkers en agterlig is ook LED-eenhede. Die nuwe TFT-skerm bied verskeie koppelings en die 900-reeks beskik alreeds oor ’n monteerstaaf bo die skerm vir die montering van ʼn GPS of aksiekamera.

Die nuwe reeks het natuurlik ’n rits bybehore waarmee jy jou F 900 GS uniek kan maak, so klik gerus hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.