Die ander minibusse kan gaan slaap

(Foto: Verskaf)

In Suid Afrika het ons groot geword met kombi’s, of te wel Volkswagen Micro-busse. Dis wat ons ken. Maar ek onthou uit my kinderdae hoe ons altyd in flieks vir die Amerikaanse “minivan” só gekyk en gewonder het.

Daar was al ʼn klompie sulke MPV’s beskikbaar in Suid-Afrika, waarvan die gewildstes seker Chrysler se Grand Voyager en Kia se Carnival was – wat vir ʼn tydjie die Sedona naam gedra het.

Daar is eintlik niks mini aan die nuwe Carnival nie. Hy is bitter lank – maar sy ontwerp is uiters modieus, stylvol – en selfs luuks. Dit gebruik die Amerikaanse “minivan”-resep. Nie ʼn bus nie – maar met dieselfde plek in die binneruim. Die Carnival spog met drie rye sitplekke, twee voor, twee in die middel en drie heel agter. Sewe sitplekke – met enorme ruimte vir almal – en ʼn reuse kattebak.

Die binneruim is ontsettend luuks. Daar is leerbekleedsel, verhitte en verkoelde sitplekke – sonskerms op elke venster, drie-sone klimaatbeheer, laaiproppe vir ʼn vale – ʼn werklike toerbus vir die gesin.

Onder die kap sit Kia se briljante 2.2 viersilinderturbodieselenjin. Hy bied ʼn fris 148 kW en 440 Nm. Die krag word deur Kia se puik 8-spoed outomatiese ratkas na die voorwiele gestoot. Die krag is genoeg om dié kolos van stilstand tot 100 km/h te laat versnel in ʼn ratse 10,7 sekondes en hy sal aanhou draf tot 190 km/h.

Dit bring ons by die Carnival se troefkaart. Twee troefkaarte eintlik. Wanneer ʼn mens rustig toer is hy besonders lig op brandstof. Ons het gereeld rondom 6 ℓ/ 100 km gehaal. Die tweede troefkaart is sy ritgehalte. Die Carnival toer soos ʼn droom – en ʼn mens voel amper geensins die gestamp en stoot weens die afskuwelike toestand van Gauteng se paaie nie. Gewoonlik kom sulke sagte rit met ʼn nare bakrol en onvoldoende padhouvermoë – maar nie in die Carnival se geval nie. Hy trap perfek in sy spoor – amper so lig op sy voete soos ʼn sedanmotor. Ek weet eenvoudig nie hoe Kia dit reg kry nie.

Wat veiligheid betref bied die Carnival ʼn sterk veiligheid-suite. Daar is sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en vastrap- en- stabiliteitsbeheer. Dan is daar aktiewe stelsels soos blindekolwaarskuwing, baanhulp en botsingwaarskuwing met noodremhulp.

Dit is bitter maklik om die Kia Carnival op te som: In ʼn segment waar alle bussies werklik duur is staan die Carnival se prys mooi mededingend. Ek sal die Carnival in die selfde kategorie plaas as Mercedes-Benz se V-klas, en teen hom is die Carnival ʼn ware winskoop. Die feit dat die Carnival nie só hoog is soos ʼn Caravelle nie, én meer soos ʼn sedanmotor voel as ʼn bus tel in sy guns. Die minibus-resep is perfek en indien jy ʼn behoefte het aan ʼn bussie – gaan toetsbestuur beslis ʼn Carnival – jy sal nie spyt wees nie.

(Foto: Verskaf)

Die reeks lyk só:

Kia Carnival 2.2CRDi EX outo 7-sitplekR799 995
Kia Carnival 2.2CRDi EX+ outo 8-sitplekR879 995
Kia Carnival 2.2CRDi SX Limted outo 7-sitplekR999 995
Kia Carnival 2.2CRDi SXL outo 7-sitplekR1 024 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ onbeperkte km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Quantum 2.8 LWB 6-seater VX Premium115 kW/ 420 Nm8,7 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R1 064 400
Hyundai Staria 2.2D Luxury130 kW/ 430 Nm8,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 0000 km dryfstelselwaarborg

7 jaar/ 105 000 km diensplan

R1 104 900
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI 146kW Highline 4Motion146 kW/ 250 Nm8,2 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 282 800
Mercedes-Benz V250d Avantgarde140 kW/ 440 Nm7,4 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

Instandhoudingsplan opsioneel

R1 648 815

Onder dié mededingers is die Carnival die bekostigbaarste – en voel waarskynlik die luuksste – selfs in die Merc se geselskap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.