Dié Audi hop oor hobbels

Tegnologie beweeg deesdae teen só ʼn pas dat dit voel asof daar min innovering is. Já, daar is nuwe dingetjies hier en daar, maar niks voel rewolusionêr nie. Ek is heeltemal bewus daarvan dat groot, luukse sedanmotors nie meer so gewild is soos hulle eens was nie – maar elke keer as mens agter die stuur van een inskuif, besef jy oombliklik hoekom hulle só gewild in ʼn stadium was.

Audi se S8 het in ʼn pragtige blou kleur by die kantoor opgedaag. Die wiele lyk enorm, maar dit is egter ʼn S8, nie ʼn A8 nie. Audi se S-modelle is louwarm en hul RS-modelle natuurlik vuurwarm.

As mens die deur oopmaak, groet ʼn ruim, uiters elegante binneruim mens. Ek self sou nie die ligte leer gekies het nie, maar dit laat die kajuit lig, luuks en groot voel. Die paneelbord se bougehalte is verstommend en die leerbekleedsel uit die boonste gestoeltes. Daar is drie skerms en van hulle bied haptic feedback – ʼn klein vibrasie soos mens die “knoppie” druk om jou die gevoel te gee dat jy fisieke knoppies druk. Slim.

Onder die kap sit Audi se fantastiese 4.0-V8. Hy het twee turbo’s en bied ʼn allemintige 420 kW en 800 Nm. 0–100 km/h neem ʼn ratse 3,8 sekondes en hy sal aanhou snol tot ʼn elektronies beperkte 250 km/h.

Dis eers op die pad waar die S8 vir my uitboul. By die eerste spoedwal, soos ek spoed verminder nét voor die hobbel, voel ek hoe die vering voor lig. Soos ek oor die walletjie ry, voel dit asof die bakwerk van die kar absoluut gelyk bly. Nou is my brein deurmekaargekrap. Ek wil weet watse toordery is dít!? By die volgende hobbel let ek spesifiek op. Die Audi S8 lig sy bakwerk met lugvering en dan is dit asof hy sy wiele perfek oor die hobbel tel! Ek stap in by die huis en gryp vir Google nader. Predictive active suspension noem hulle dit. Wat ʼn fees.

Verder, wat die rit betref, is dit niks minder as wat mens verwag nie. Lieflike soepel rit met ʼn tjoepstil kajuit. Ongelukkig, met die stand van Gauteng se paaie tans, kan die yslike 21″-wiele hier en daar stamp waar mens doodeenvoudig nie die slaggate kan vermy nie. Padhouvermoë is indrukwekkend, maar die S8 maneuvreer op ʼn tiekie te danke aan die vierwielstuurstelsel.

Om mens se veiligheid te verseker bied die Audi alles. Daar is agt lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Dan, aan die aktiewe kant is daar baandwaal- en blindekolwaarskuwing, asook aanpasbare spoedkontrole met baanbeheer. Indien daar moeilikheid is, is daar botsingwaarskuwing met noodremhulp.

Ek sal die S8 só opsom: Die kattebak is enorm, die klankstelsel fantasties en die groot sedan voel baie meer soepel en delikaat as enige sportnuts-mededinger. Dit is ʼn pragtige motor.

Die reeks lyk só:

Audi S8 quattro420 kW/800 Nm10,5 ℓ/100 kmR2 841 800

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Sy mededingers lyk só:

Mercedes-Benz S500 L 4Matic320 kW/520 Nm8,1 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R2 976 979
BMW M760e xDrive420 kW/800 Nm2,2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km- voertuigwaarborg

8 jaar/100 000 km- batterywaarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R3 090 000

Tussen dié mededingers het die Mercedes my hart. Dis vir my die mees elegante opsie, maar dit sal waarskynlik vir elke ou verskil. Indien jy bevoorreg genoeg is om in dié klas te speel – toetsbestuur almal, een sal besonders voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.