Die vinnigste Porsche 911 óóit

Die Porsche 911 GT2 RS. (Foto: Brendon Staniforth)

Vir die van ons wat brandstof in plaas van bloed in ons are het, is daar gereeld ʼn hunkering na spoed. Of dit nou tegnies spoed is om ʼn baan, teen ʼn pylvak af in ʼn dragster, in die veld in ʼn tydrenmotor of op die water in ʼn F1-boot – maak nie saak nie, solank dit vinnig is.

ʼn Mens het na skool altyd daai pel met die vinnige tjorrie – wat in jou hoërskoolkring vinnig is, maar op ʼn groter skaal eintlik net ʼn klein windmakerige buksie is wat te veel raas. Waarskynlik ʼn Escort, ʼn Golf of een of ander Opel is… seker ʼn Kadett of toe later ʼn Corsa.

Die Porsche 911 GT2 RS. (Foto: Wayne Young)

Hierdie is nie daai tipe vinnig nie – dit is werklik vinnig. Soos in 342 km/h vinnig. Van 0-100 km/h in 2,8 sekondes vinnig. Van 0-200 km/h in 8,2 sekondes vinnig. Verwelkom die Porsche 911 GT2 RS. Dit is die vinnigste 911 Porsche ooit.

Dit is ʼn GT-Porsche en hy en sy GT3-boetie lyk eenders, buiten die GT2 RS-embleempie. Die enigste verskil tussen die twee is die enjin. Die GT3 RS loop met ʼn atmosferiese 4.0-bokser-sessilinderenjin. Hy spog met 383 kW en 470 Nm.

Die Porsche 911 GT2 RS. (Foto: Brendon Staniforth)

Dit klink dalk goed, maar die GT2 RS lag in sy mou vir die GT3 met daardie syfers. Die GT2 RS het wel ʼn effens kleiner 3.8-bokser-sessilinderenjin, maar daar is ʼn groot verskil. Die 3.8 het twee turboaanjaers aan hom vasgebout. Die resultate is verstommend – 515 kW en 750 Nm. Dít is die sterkste voertuig wat ek al ooit die voorreg gehad het om te bestuur.

Dit is egter nie net die enjin wat verskil nie. Die GT3 RS en GT2 RS se karakters verskil heeltemal van mekaar. Die GT3 was vir my ʼn ballistiese missiel. Vinnig, maar akkuraat op ʼn vlak wat min mense sal verstaan. Sy limiet is ook amper onbereikbaar vir 90% van mense – veral op die pad.

Die Porsche 911 GT2 RS. (Foto: Wayne Young)

Die GT2 RS aan die ander kant is ʼn atoombom. Die GT2 RS laat jou baie vinniger weet jy werk op sy senuwees – iets wat ek glad nie in die GT3 ervaar het nie. Ek sal bieg dat dit waarskynlik as gevolg van my gebrekkige kundigheid is en nie die GT2 RS wat enigsins swakker padhouvermoë het as die GT3 nie.

Die GT2 het die bynaam “Widowmaker” gekry. Ek kan sien hoe ʼn mens net al die tekens ignoreer en in ʼn gru-ongeluk omkom, maar ek het gevoel dat die GT2 RS my laaaaaaaank voor die tyd begin laat weet het dat ek nou aanjaag. Vir diegene wat wonder hoekom albei bestaan – die antwoord is werklik eenvoudig. Die twee karre kon nie meer van mekaar verskil nie. Ek sal die 911 só opsom:

ʼn 911 Carrera is ʼn sportmotor. ʼn GT3 is ʼn supermotor. ʼn GT2 RS is ʼn hipermotor. Die GT2 RS is vinniger tot 100 km/h as ʼn Bugatti Veyron – wat vierwielaandrywing het. Dis verstommend. As ʼn mens nou ʼn Veyron in die hande kon kry, sou hy omtrent R25 miljoen kos. Dan is die GT2 RS ʼn ware winskoop teen ʼn vyfde van daai prys.

Die Porsche 911 GT2 RS. (Foto: Brendon Staniforth)

Die twee vergelyk só:

ModelKrag0-100 km/hTopspoedWaarborgPrys
Porsche 911 GT3 RS383 kW/470 Nm3,2 sek.312 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

Vanaf

R4 200 000

Porsche 911 GT2 RS515 kW/ 750 Nm2,8 sek.342 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

Vanaf R5 511 000

Daar is egter een slegte punt van ʼn paar dae met die GT2 RS. Die eenvoudige feit dat ek moontlik nie weer sulke spoed of krag sal ervaar nie… tot die volgende GT2 RS. Ek kan nie wag nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Ek wou nog altyd so motor besit wanneer ek groot is. Ek is mal oor die motor. As jy met die wa deur ‘n kamera lokval ry bars die kamera se lens. My droom motor.

Johan ·

Die 911 Turbo S is vinniger met 0-100 km/h, wat slegs 2.7 sekondes neem, maar sy topspoed is laer teen 330km/h.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.