Dís mos ʼn Landy…

(Foto: Verskaf)

As ek terugdink … in die dae voor Toyota, was daar net een hardebaard 4×4. ʼn Gaan-orals-en-doen-alles-4×4 – en dit was die Land Rover Series I en II wat toe later die Defender geword het. Jeeps en Toyota se Land Cruiser het eers later gewild geraak. Die vorige Defender was egter stokoud teen die einde van sy lewensiklus en die wêreld het getreur oor die einde van die Defender.

Baie mense was egter glad nie lief vir die Defender nie en het hom gedoop as “die ongemaklikste voertuig op aarde” terwyl ander weier om in enigiets anders te reis.

Land Rover moes ʼn keuse maak. Bou hulle die volgende Defender presies soos die ou een, of slaan hulle ʼn nuwe rigting in? Ek kan nie sê wat die perfekte oplossing sou wees nie – maar die nuwe Defender is beter as waarmee ek vorendag sou kom.

Ons het al baie tyd met die Defender spandeer. Aanvanklik het ons karavaan gesleep met die fantastiese P400– turbopetrol weergawe. Ek vermoed egter die D240-weergawe gaan meer gewild wees onder Defender-kopers, weens die belofte van beter brandstofverbruik. Land Rover bevestig dat daar, in hierdie stadium, groter aanvraag is vir dieselmodelle as vir die petrolweergawes.

Die ontwerp en binneruim is presies dieselfde soos op die P400-weergawe. Dit is ʼn groot, sewe sitplek sportnutsvoertuig. Die kajuit is duursaam, dog modern. Daar is laaiproppe en USB-poorte vir ʼn vale. Die digitale instrumente en raakskerm is voorwaar modern en werk puik.

Dit is egter onder die kap waar dinge verskil. Die D240-weergawe word aangedryf deur Jaguar Land Rover se 2.0 viersilinderturbodieselenjin. Die masjien bied 177 kW en 500 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn billike 9,1 sekondes, en die D240 sal 188 km/h haal. Die diesel se voordeel bo die petrol is brandstofverbruik. Land Rover beweer 7,7 l/100 km op die diesel en 9,9 l/100 km op die petrol. Ons het tydens ons sleeptog met die P400 nader aan 17 l/100 km gehaal.

Op die pad is enige Defender ʼn fees. Dit is uiters gemaklik en spog met ʼn enorme sleepkapasiteit van 3 500 kg. Weens sy sleepkapasiteit sal ek egter een van twee modelle kies. Die D300- sessilinder diesel waarmee ek nog nie gery het nie, of die P400. Die D240 sal heeltemal die mas opkom, maar die prysverskil tussen hulle is egter piepklein en die D300 sal nóg beter brandstofverbruik bied as die D240 – veral as hy bietjie moet werk.

Land Rover het onlangs pryse bekendgemaak van die lang verwagte Defender 90-kortasafstand. Ek moet bieg dat ʼn Defender 90 D300 S moontlik ʼn plekkie in my droommotorhuis sal vind.

Die reeks lyk nou só:

Land Rover Defender 90 D240 S177 kW/500 Nm7,6 l/100 kmR1 141 966
Land Rover Defender 90 P300 S221 kW/400 Nm10,1 l/100 kmR1 145 968
Land Rover Defender 110 D240 S177 kW/500 Nm7,7 l/100 kmR1 174 004
Land Rover Defender 110 P300 S221 kW/400 Nm10,2 l/100 kmR1 178 282
Land Rover Defender 90 D300 S221 kW/650 Nm7,6 l/100 kmR1 232 752
Land Rover Defender 90 P400 S294 kW/550 Nm9,9 l/100 kmR1 264 430
Land Rover Defender 110 D300 S221 kW/650 Nm7,6 l/100 kmR1 265 452
Land Rover Defender 110 P400 S294 kW/550 Nm9,9 l/100 kmR1 298 830
Land Rover Defender 110 P400e S297 kW/640 Nm2,8 l/100 kmR1 554 600

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg én omvattende instandhoudingsplan.

Ek lys hier slegs die S intree spesifikasievlak. Elke enjin en bakstyl, 90 of 110 is beskikbaar in S, X-Dynamic SE, X-Dynamic HSE, en X.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Land Cruiser 76 4.5D-4D V8 LX151 kW/ 430 Nm11,6 l/100 km3 500 kg3 jaar/100 000 km waarborgR859 700
Toyota Land Cruiser Prado 2.8GD-6 VX-L150 kW/ 500 Nm7,9 l/100 km3 000 kg3 jaar/100 000 km waarborg

9 Dienste diensplan

R1 150 500
Nissan Patrol 5.6 V8 LE 4WD298 kW/ 560 Nm14,4 l/100 km3 500 kg6 jaar/150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R1 571 700
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D V8 VX-R195 kW/ 650 Nm10,2 l/100 km3 500 kg3 jaar/100 000 km waarborg

9 Dienste diensplan

R1 606 600
Mercedes-Benz G400d243 kW/ 700 Nm9,6 l/100 km3 500 kg2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 892 840

Tussen dié mededingers is die Prado waarskynlik die naaste. Die Cruiser 76 is meer ʼn ou Defender mededinger, maar vir 4×4 vernuf is hy nog rateltaai. Die Cruiser 200 word binnekort vervang deur die Cruiser 300. Nissan se Patrol voel al egter baie oud, en vir die G400d se geld kan mens twee Defenders koop. My keuse hier is die Defender en die Prado.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Nee regtig Landrover, het julle dan ‘n ontwerper uit Rusland gekry om die bak te ontwerp, die nuwe model lyk soos ‘n aftreksel van die Lada Niva.

Anoniem ·

Selfs al gee hulle vir my 1 verniet, ruil ek hom gelykop vir ‘n Toyota.

JohanCzu ·

Voertuie se pryse het heeltemal belaglik geraak. Wat kos dit die eienaar aan R/km op die ou end?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.