Dít is intensiewe vorm van weelde

(Foto: Verskaf)

Toentertyd het fabrikante soos Rolls Royce en Bentley die monopolie op die weelderige segment van die mark gehad. Die Duitsers in die vorm van Mercedes-Benz en BMW was egter ook gretig om hul voet in die deur te kry.

BMW se eerste 7-reeks is in 1977 bekendgestel, met die einste doelwit in gedagte. Ek onthou my oom se E28 733i waarmee my pa soms huis toe gekom het van die werk af. Ek was seker vyf jaar oud. Ek onthou nog presies hoe ons Sondagmiddae by my ouma en oupa gaan eet het in Kempton Park en hoe ek op my pa se skoot gesit het op die snelweg. Dit was ʼn ander era. Ek wonder of dit is waar my liefde vir BMW begin het.

BMW het sopas die sewende generasie 7-reeks BMW in Suid-Afrika bekendgestel. ʼn Asemrowende ryding. Enorm én die ontwerp is nie vir sissies nie. Die nuutste 7 maak omtrent ʼn groot indruk. Ek is nie ʼn kenner nie en gaan dus nie te veel oor die ontwerp sê nie – behalwe dat die sierrooster moontlik lelik lyk op ʼn foto, maar baie aantrekliker is in lewende lywe.

Die binneruim is fantasties. Propvol tegnologie sonder om weelderige luuksheid in te boet. Drie funksies val my veral op: Soos jy na die voertuig beweeg, kan die bestuurder met die druk van ʼn knoppie al die deure elektronies oopmaak, jy kan van links agter al die stellings in die kajuit beheer met ʼn raakskermpie op die deur en indien jy agteroor wil lê, kan jy met die druk van ʼn knoppie die linkervoorste sitplek toevou, jou sitplek skuif en uitskop – presies soos ʼn La-Z-Boy wat jy in ʼn sitkamer sal vind!

(Foto: Verskaf)

Noudat jy gemaklik is, kan jy die 31.3” 8K-skerm oopvou en deur die kar se internetverbinding Netflix of YouTube kyk.

(Foto: Verskaf)

Die ervaring uit die agtersitplek is briljant, maar ek skuif gou agter die stuur in. Ons het twee modelle onder hande gehad: Die volle elektriese i7 en die petrolaangedrewe 740i. Ek’t aanvanklik gewonder waarom jy die petrolaangedrewe model wil koop, aangesien die i7 hope krag het en lieflik stil is. Selfs sy reikafstand van tussen 590 en 625 km is fantasties.

Toe klim ek agter die stuur van die 740i in. Onder die kap klop ʼn turboaangejaagde 3.0-inlynsessilinder hart. Die enjin bied 280 kW en 540 Nm wat die 740i tot 100 km/h in 5,4 sekondes kan laat versnel. Die i7 se indrukwekkende twee elektriese motors kan hom binne 4,7 sekondes van stilstand tot 100 km/h laat versnel, te danke aan 400 kW en 745 Nm – al weeg hy ʼn verstommende 2 715 kg. Dis seker hoekom die ligter 740i teen 2 165 kg so soepel soos ʼn ballerina is. Ek kan nie my vinger op een enkele aspek lê nie, maar ek dink dit is die kombinasie van die vibrasies en geluide van die petrolenjin wat jou agter die stuur van die 740i laat glimlag.

(Foto: Verskaf)

Op die pad toer albei weelde waens verstommend stil en gemaklik. Jy voel die meeste van die tyd glad nie die knikke en hobbels nie en die geraas buite word deur die dubbelglasuursel uitgeskakel. As jy agter sit en bietjie wil teevee kyk, maak jy al die blindings toe. Ek was aanvanklik onseker hoe om dit van die voorste sitplek af te doen, maar toe sê ek eenvoudig: “Hey BMW. Please open all the window blinds.” In ʼn japtrap maak al die blindings oop. Darem is die rekenaar slimmer as ek.

BMW se 7-reeks is nog altyd ʼn baanbreker as dit by tegnologie kom. Dié weergawe is nie anders nie. Die imposante ontwerp sal waarskynlik party afskrik, maar van agter die stuur is dit een van die luuksste ervarings wat ek al ooit in ʼn kar teëgekom het. BMW sal later in die jaar ʼn 740d beskikbaar stel. Vir dié wat dit kan bekostig – geniet elke oomblik!

Die reeks lyk só:

BMW 740i Design Pure Excelence280 kW/540 Nm7,9 ℓ/100 kmR2 172 751
BMW i7 xDrive60400 kW/745 Nm18,4 kWh/100 kmR2 825 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan. Die i7 geniet ʼn 8 jaar/100 000 km-batterywaarborg.

Ons sal weer tyd met die 7-reeks deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Laat ons sien: Twee vir die president, twee vir elke minister, twee vir elke generaal, twee vir elke direkteur-generaal, en so gaan ons aan. Hier op die heel onderste trappie, nie eens in sig van die vreetkrip nie, droom ons nie eens van R2m vir ‘n kar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.