Ducati deurkruis weer die land

(Foto: Brian Cheyne)

“As jy vir iemand sy toekoms wys, dan het hy nie ’n toekoms nie. Dan vat jy die misterie weg.” Dié stelling kom uit die rolprent Paycheck en som my gevoel op oor Ducati se Mystery Ride wat ek nou al vir die tweede keer meegemaak het.

Al wat Jos Matthysen van Ducati Suid-Afrika vir die deelnemers deurgegee het, was die afstande wat ons elke dag sou ry. Dan word daar begeesterd geraai en geredekawel oor ons eindbestemming. En tog wou ek nie weet nie. Ek was nou al saam en het geweet dit sal ’n wonderlike ervaring wees, ongeag waar ons eindig.

(Foto: Brian Cheyne)

Die idee van die Mystery Ride is om Ducati-eienaars die geleentheid te gee om die land te verken en die fietse se bene goed te rek eerder as om al in die rondte om ’n baan te ry. Ek was verbaas oor die opkoms vanjaar. Daar was 42 fietse, meestal Multistradas. Daar was ook ’n Diavel of drie, en een brawe siel op ’n 899 Panigale-superfiets. Wat vir my ’n groot riem onder die hart was, was dat daar dié keer ’n vroueryer teenwoordig was. Dit bewys dat dit nie net ’n manneding is nie.

Dag 1 

Ná Jos vir ons ’n gebed gedoen het by Ducati se vertoonlokaal in Centurion, het Richterskale in die omgewing die dreuning van al dié fietse opgevang. Selfs deur my valhelm kon ek die magtige dreuning hoor en die hoendervleis voel.

Ons het in die rigting van Broederstroom gery en toe op na Northam. Daar het die Ducati-trok vir ons gewag en ons kon ’n ietsie eet. Van daar af is ons verder oos in die rigting van Bela-Bela en ons eindbestemming, ATKV se Klein-Kariba-oord. Niemand het dit verwag nie. Ons het 400 km gery om 100 km weg te wees van Pretoria! Alles is vergewe die aand om die braaivleisvuur. Dit is tog waaroor dié soort ritte gaan: die samesyn.

Dag 2

(Foto: Brian Cheyne)

Ná die eerste dag se kinkel in die verhaal het almal baie wyd geraai waarheen ons sou ry, en weereens het Jos ons aan ons neuse gelei. Ons het oos gery en ongelukkig Burgersfort getref op seker die besigste dag ooit. Karre oral het gemaak dat ons uiters versigtig moes ry, en dit is nie waarvoor Ducati’s gemaak is nie. In die dorp het verkeersligte rooi en groen geslaan, maar dit was bloot aanbevelings. Almal ry nes hulle wil.

Ek was verlig toe ons weer die ooptes van die R555 bereik. Die paaie om Ohrigstad ken ek goed, en dan raak mens weer rustig. Toe die konvooi afdraai op die R533 na Rowerspas, toe weet ek dat die pas nou so ’n rapsie gaan styg. Daardie stukkie pad het die lekkerste lang draaie en die Ducati’s het die kranse laat eggo van plesier. Net so op die pad uit Graskop na Hazyview en Witrivier. Ons oornagplek vir die aand was Muluwa-lodge, ’n wonderlike stil plek. My blyplek vir die aand was ’n baie luukse tent. Ons was almal moeg, so die feit dat ons net kon terugsit en die kos word voorsien, was wonderlik.

Dag 3

(Foto: Brian Cheyne)

Almal was dit eens dat ons eindbestemming vir vandag die Drakensberg sou wees, maar weereens het Jos ons verras met kinkels en draaie wat die heerlikste passe opgedis het. Die Ducati’s was in hul element. Naby Winterton het ons weggedraai in die rigting van Cathedral Peak. Ek was nog nooit hier nie, en ons het daar aangekom net toe die son begin sak het. Ek kon myself nie keer nie, die knop in my keel het ’n traan of twee in my laat opwel. Ons woon in so ’n mooi land. As jy net vir twee dae nie die nuus kyk nie, sal jy soveel beter voel oor alles in ons land.

Die Cathedral Peak-hotel sit in ’n ongelooflike mooi kloof. Die aand is een van die ryers aangewys as ’n regter en verskeie “klagtes” is aangehoor. Vir elke oortreding is daar ’n straf uitgedink en alles het in ’n goeie gees afgeloop.

(Foto: Brian Cheyne)

Dag 4

(Foto: Brian Cheyne)

Van Cathedral Peak af is ons in die rigting van Clarens. Jos het ons op ’n rustige ompad deur die Golden Gate-natuurskoon gevat om vir mense wat nog nooit hier was nie ook die park te laat beleef. Ná ’n vinnige koeldrank in Clarens het ons huiswaarts gedraai op die N1.

Hoewel ek nie juis ’n groepryer is nie, bly dié Mystery Rides ’n ongelooflike ervaring. Jy plaas jou vertroue heeltemal in Jos om jou veilig van die een blyplek na die ander te lei. Maar dit is die tussenin wat dit so spesiaal maak. As jy ’n Ducati besit, sal ek so ’n toer hoog aanbeveel.

Die samesyn en kameraadskap is net onbeskryflik. Hou maar dop, want die volgende een word reeds beplan. Ducati is besig, onder leiding van Jos en sy span, om sy produk tot nuwe hoogtes te voer. En as jy die volgende een wil meemaak, is ek seker die span by Ducati sal jou op die regte fiets kan sit!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

Dit lyk lekker verby. As ek nou net jonger was …..

SjN

Baie lekker en opwindend, die sleg is dat dit hard aan jou sak vat as daai fiets gediens moet word.

Chris

As ek eendag groot is wil ek vir my ook een koop. Ek het my dae as motorfietsryer terdeë geniet. Ek het graag alleen en baie keer lang afstande gery. Sal graag weer tyd maak daarvoor. Wat ek wel tot my verbasing ondervind het is dat die taxi manne nogal heel “beleefd” teenoor die motorfiets ryer is. Maar kan ongelukkig nie dieselfde sê oor die mammies in pappie se nutsvoertuie nie. Daar is vir jou ‘n gevaar op die pad.