EICMA – ’n Fees van nuwe modelle vir 2020

Die BMW F 900 R. Foto: Verskaf

Dit woel behoorlik in die motorfietswêreld! EICMA is seker dié belangrikste motorfietsskou van die jaar. Dit word elke November in Milaan gehou.

Met sosiale media en vrylike toegang tot inligting raak dit al hoe moeiliker vir vervaardigers om hulle nuwe modelle geheim te hou, maar hierdie jaar het reeds vir ’n paar verrassings gesorg.

BMW

Die eerste verrassing was by BMW. Hulle het die opvolger van die F 800 R aangekondig en dié fiets het nou gegroei tot ’n 895 cc en staan bekend as die F 900 R. BMW het ook die S 1000 XR opgradeer. Hy is gebaseer op die nuwe S 1000 RR en behoort ’n merkbare verbetering op die huidige model te wees. BMW het boonop die XR-konsep verder gevoer en ook ’n F 900 XR bekendgestel. Hierdie liggewigfiets met sy regop ryposisie behoort baie pret te wees.

Ducati

Die Ducati Streetfighter. Foto: Verskaf

Ducati het hulle modelle al voor EICMA by ’n spesiale geleentheid in Rimini, Italië, bekendgestel. Soos verwag, het die V4 Streetfighter al die aandag getrek. Die Streetfighter is ’n kaalfietsweergawe van die Panigale V4. Die Panigale V4 self het nou splinternuwe aërodinamiese bybehore wat ontwikkel is in hul MotoGP-program. Dit help met stabiliteit en die voorste deel van die raam is nou ook heelwat stywer. Alles dra by om die Panigale V4 makliker te maak om te ry. Verder het hulle die V2-enjin laat herleef in die splinternuwe Panigale V2. Dit is Ducati se middelgewig superfiets met ’n 955 cc-enjin.

Harley-Davidson

Die Amerikaanse maatskappy het by hulle oorspronklike belofte gehou en die nuwe Pan America vir 2020 bekendgestel. Die 1250 cc-V2-enjin is waterverkoel en volgens Harley lewer die enjin 145 pk. Dis vreemd, want Harley-Davidson is nie bekend daarvoor dat hulle kraglewering uitgee nie.

Honda

Die Honda CBR 1000 RR. Foto: Verskaf

Honda het vroeër vanjaar al die nuwe Africa Twin bekendgestel. Hy is ligter, kragtiger en reg vir nog groter avontuur. Hierdie model word later hierdie maand aan die plaaslike media gewys, en dan sal ek meer breedvoerig oor hom kan berig. Die ander groot nuus is die nuwe CBR 1000 RR Fireblade. Met ’n yslike sprong in kraglewering en aërodinamiese vlerkies is die Fireblade doelgemaak vir die World Superbike-reeks.

Husqvarna

Die Husqvarna Norden 901. Foto: Verskaf

Husqvarna het ’n konsepmotorfiets vertoon, die Norden 901. Al is dit net in hierdie stadium ʼn konsep, het Husqvarna tog die gewoonte om hulle konsepte ’n werklikheid te maak. Onthou die Vitpilen was ook eers net ’n konsep. Hierdie Husky lyk reg vir die langpad.

Kawasaki

Kawasaki het nog voor EICMA en voor Ducati hul Z H2 aan die wêreld gewys. Hierdie fiets is, net soos die Ducati Streetfighter, die kaalfietsweergawe van Kawasaki se imposante H2. Die resultaat het my mond laat water. Kawasaki het die Z toegerus met ’n volkleur TFT-skerm en ek hoop dat ons al hoe meer Kawasaki’s gaan sien met hierdie skerms.

KTM

Die grootste nuus van KTM is hul opgegradeerde Super Duke en die splinternuwe 390 Adventure. Die 1290 Super Duke R is basies dieselfde fiets as die huidige model, maar is nou 6 kg ligter en die raam is nou aansienlik stywer. Die verbeteringe is gering, maar dit is wat gebeur as jy met ’n goeie produk begin. Die 390 Adventure is die kleiner boetie van die uiters bekwame 790 Adventure. Hy lyk ook net soos sy ouboet. Nou moet sy prys net reg wees!

Suzuki

Die Suzuki V-Strom 1050. Foto: Verskaf

Suzuki het hulle lank in die tand V-Strom ook nou ’n totaal nuwe baadjie aangetrek. Hy trek sterk op die oorspronklike 1988 DR Big. Die versneller is nou uiteindelik elektronies, wat beteken dat Suzuki die fiets kon toerus met spoedbeheer, iets wat al lankal kort op hulle sporttoerfiets. Die enjinkapasiteit is ook vergroot na 1050 cc, en die instrumentasie is nou ’n digitale eenheid.

Triumph

Dié Britse vervaardiger het ’n paar bykomende opgraderings gedoen op hulle modelreeks. Die Thruxton RS kry nou ’n ligter enjin en snelskakeling. Met Triumph se gladde ratkaste is hierdie byvoeging amper oorbodig. Verder is daar ’n paar spesiale weergawes van die Bobber, T100 en T120 uitgebring.

Yamaha

Die Yamaha Tracer 700. Foto: Verskaf

Yamaha se reeks is meestal net opgekikker, maar die Tracer 700 is ’n verbetering op die MT-07. Ek het die MT-07 baie geniet en die Tracer lyk amper meer volwasse. Ons sal moet oordeel as hy hier is of hy nog sy lawwe streek het.

Net soos verlede jaar sien ek baie uit na die nuwe modelle wat kom. Ek kan veral nie wag om die klein KTM-avontuurfietsie hier te sien nie!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vraagteken ·

Ek is nie persoonlik ‘n Honda-man nie maar shoe, daardie Fireblade is sexy!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.