Enige inperking se teengif

Die Toyota Land Cruiser Namib. Foto: Verskaf

Ek hou daarvan om te dink dat die meeste Suid-Afrikaners reisigers is. Ons is nie mense wat in ʼn piepklein dorpie gebore word, daar leef en doodgaan sonder om ooit die res van die land te verken nie. Ek was nou al bevoorreg om die grootste deel van Suid-Afrika te sien… van hoek tot kant. Daai avontuurlus is in ʼn mens se DNS.

So ook het die meeste Suid-Afrikaners se huishoudings al met die een of ander Toyota te doen gehad. Cressida en Camry was die eerste gekose koets, veral as ʼn mens ʼn woonwa gesleep het. Soos ek ouer geword het en meer met boere te doen gekry het, kom ʼn mens agter daar’s twee boere – die wat Cruisers het en die wat hulle wil hê.

Die Toyota Land Cruiser Namib. Foto: Verskaf

Toyota verkoop elke maand getrou hul rateltaaiste bakkie in enkel- en dubbelkajuitvorm. Daar is ook ʼn stasiewa as ʼn mens nou regtig ʼn hardebaard het. Ek het laat verlede jaar ʼn bietjie tyd met ʼn beperkte uitgawe Toyota Land Cruiser Namib deurgebring. Dit was die eerste keer wat ek ʼn Cruiser gery het. Ek het al met ʼn 200 en ʼn Prado gery, maar nog nooit een van die oorspronklike, regte egte bakkies nie.

Oor die ontwerp gaan ek niks sê nie – die Cruiser is al vir dekades dieselfde met klein opknappings hier en daar. Die binneruim is ook in sy geheel onveranderd. ʼn Mens voel sommer nostalgies as jy so hoog inklouter. Dis nie ongemaklik nie, maar dis beslis oudmodies en definitief nie luuks nie.

Die Toyota Land Cruiser Namib. Foto: Verskaf

Met die draai van die sleutel grom die V8-diesel aan die lewe. Ek’s mal oor die geluid. Die 4.5 V8-turbodiesel bied 151 kW en 430 Nm. Dit klink dalk min, maar daar’s twee redes hiervoor. Die eerste een is die wye kragband. Die wringkrag is beskikbaar tussen 1 200 en 3 200 r/min. Dis bitter laag, én wyd. Die ander rede is die feit dat waar dié Cruisers kom, is daar plaasdiesel. Vuil diesel. 500 ppm-diesel. Toyota sal nie aanbeveel dat ʼn mens dit gebruik nie, maar die Cruiser se enjin sal op 5 000 ppm-trekkerdiesel loop as jy hom vra… meer moderne enjins sal eenvoudig afskakel en vir jou ʼn foutkode gee.

Die rathefboom is pure Toyota, soos ek hom leer ken het. Dit voel sterk en gehard in ʼn mens se hand, en vibreer effe met die geluier van die V8… dís mos ʼn bakkie.

Die Toyota Land Cruiser Namib. Foto: Verskaf

Die koppelaar is lekker swaar ook. ʼn Mens het nie eers die versneller nodig om weg te trek nie – jy  kan net die koppelaar los, en die Cruiser spring aan die gang.

Wat die Namib-weergawe uniek maak is:

  • Namib-aksente
  • Swaardiens-staalvoorbuffer
  • Groot hoë intensiteit LED-helderligte met beskermende bedekkings
  • Buisvormige agterste trappie met geïntegreerde sleepstang
  • Beskermende bak-bedekking
  • Verkoelde paneelkissie
  • Seil sitplekoortreksels
  • Dakgemonteerde konsole met LED-beligting en stoorplek
  • Opgegradeerde veldryvering
  • 265/75/R16 Cooper Discoverer S/T Maxx bande

Die Cruiser is wel nie sonder sy nadele nie. Eerste aan die beurt is die ekwatoriale draaisirkel. Dit voel skoon of ʼn mens die paspoort moet inpak om ʼn U-draai te maak. Ek is hom seker net nie gewoond nie, maar die meeste parkeermaneuvers word ʼn driepuntdraai.

Die Toyota Land Cruiser Namib. Foto: Verskaf

Tweedens is die Cruiser skrikwekkend dors. Toyota beweer 11,3 ℓ/ 100 km. Die Cruiser het ʼn 130 ℓ-brandstoftenk. Lekker groot. Ek dink die brandstofverbruik op die langpad teen 120 km/h gaan meer hier in die 15 ℓ/100 km omgewing wees… so dit gee vir ʼn mens ʼn reikafstand van só 850 km met al daai diesel.

Derdens is dit presies waarvoor die Cruiser gebou is, wat hom onaangenaam in die dorp maak. Die Cruiser is nog van groot, dik yster gemaak. Die dryfstelsel is swaar – ʼn mens kan hoor hoe hy druk en trek en klap. Dit is wat hom so taai maak, maar daai einste dryfstelsel neem bitter baie van die krag in beslag. Die dryfstelselkragverlies in die Cruiser is skrikwekkend. Hy sal uit volle bors nie 160 km/h op die spoedmeter haal nie,maar dis nie ʼn snelwegrenmotor nie.

Die Toyota Land Cruiser Namib. Foto: Verskaf

Die manne wat al met hulle gaan 4×4 het, sê daar is niks anders nie. Ek sal dit self wil beproef, want daai draaisirkel is darem wild.

Maar terug na die punt. Toyota verkoop getrou elke maand al die Cruisers wat hy vervaardig . Die Cruiser is beslis nie vir almal nie, maar diegene wat hulle het, is mal daaroor. Ek verstaan dit, maar hier in die dorp is ʼn Hilux elke dag van die week ʼn beter besluit… al kyk jy met verskriklike hartseer ogies en smag na die Cruiser as jy hom in jou Hilux verbygaan op die snelweg.

Die reeks lyk só:

Toyota Land Cruiser 79 4.0 V6 enkelkajuit170 kW/360 Nm13,6 ℓ/100 kmR593 900
Toyota Land Cruiser 79 4.2D enkelkajuit96 kW/285 Nm13 ℓ/100 kmR631 600
Toyota Land Cruiser 79 4.0 V6 dubbelkajuit170 kW/360 Nm13,6 ℓ/100 kmR673 700
Toyota Land Cruiser 4.2D dubbelkajuit96 kW/285 Nm13 ℓ/100 kmR705 900
Toyota Land Cruiser 79 4.5D-4D LX V8 enkelkajuit151 kW/430 Nm11,6 ℓ/100 kmR722 200
Toyota Land Cruiser 79 4.5D-4D LX V8 dubbelkajuit151 kW/430 Nm11,6 ℓ/100 kmR791 500
Toyota Land Cruiser 79 4.5D-4D LX V8 Namib151 kW/430 Nm11,6 ℓ/100 kmR842 200
Toyota Land Cruiser 79 4.5D-4D LX V8 Namib dubbelkajuit151 kW/430 Nm11,6 ℓ/100 kmR911 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en daar is opsionele diensplanne beskikbaar, afhangend van hul behoeftes.

Die Cruiser het nie ʼn ware direkte mededinger nie, maar ek sal die ander speelgoed hier lys net vir die wis en die onwis. Die kompetisie lyk só:

Isuzu D-Max 3.0TD dubbelkajuit 4×4 LX outo Artic Trucks AT35130 kW/380 Nm8,6 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R805 800
Ford Ranger 2.0Bi-Turbo dubbelkajuit 4×4 outo Raptor157 kW/500 Nm8,3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R849 900
Toyota Hilux 2.8GD-6 4×4 dubbelkajuit GR-Sport130 kW/450 Nm8,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9 dienste met diensplan

R736 100
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI 4Motion dubbelkajuit Extreme165 kW/550 Nm9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R854 300

Elkeen van dié mededingers is lekker speelgoed. Die een wat jy kies, sal afhang van waarvoor jy dit gaan gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.