Ford se Everest is in vanjaar in sy afdeling as Motor van die Jaar gekroon – en die boetie waarop hy geskoei is – die Ranger – is aangewys as die Algehele Motor van die Jaar. Dít moet vir jou ʼn idee gee van die kaliber voertuig waarmee ons hier te doen het.
Onder die sewesitplek sportnutsvoertuie (SNV’s) is die Everest beslis die mees afgeronde, gemaklike model. Ons het onlangs die XLT onder hande gehad en dit is die model in die reeks waarop ek my eie geld sou bestee. Ek voel dit bied die beste waarde – maar daar is ʼn “maar”.
Kom ons kyk eers na die Everest en kom dan terug na my voorbehoud.
Die ontwerp is steeds werklik netjies. Die Everest is beslis die grootste onder sy mededingers en bied die ruimte wat jy soek sou jy dié soort voertuig aanskaf.

Onder die sewesitplek sportnutsvoertuie (SNV’s) is die Everest beslis die mees afgeronde, gemaklike model. (Foto: Verskaf)
Die binneruim is netjies uitgelê en die materiale van goeie gehalte. Die bougehalte vang ʼn mens dalk effe onkant, maar dít is ʼn goeie ding. Die Everest voel na ʼn baie luukser produk as enige van sy mededingers. In die XLT-model vind jy steeds heelwat luukshede: leerbekleedsel, ʼn reuseraakskerm, dubbelsone-klimaatbeheer en dies meer.
Onder die kap sit Ford se puik 2.0 BiTurbo-viersilinderdieselenjin. Hy bied 154 kW en 500 Nm. Dit, saam met die 10-spoed outomatiese ratkas, bied ʼn seepgladde ervaring – en indien jy sag met hom werk, is hy werklik billik op brandstof.
Dit is op die pad waar die XLT Everest kop en skouers bó die ander modelle in die reeks uitstaan. Dit gaan eenvoudig oor die 18”-wiele waarop hy loop. Die ritgehalte in die XLT is die beste… die Wildtrak beslis nie sleg nie, maar die Platinum se enorme wiele sukkel op ons vrotsige paaie.
Dit bring my by die “maar”.
Die mees bekostigbare Everest kos R848 300 en kom nog luuks voor. Die mees bekostigbare dubbelkajuit-Ranger kos R510 700.
Hoekom is daar nie ʼn Everest met die enkelturboenjin, 6-spoed-handrat óf outo en sonder ʼn klomp van die elektriese foefies soos ʼn outomatiese kattebakdeur, elektriese sitplekke, sleutellose aan-en-af-knoppie, óf die reuseraakskerm nie?
Ek is oortuig dat daar ruimte in die reeks is vir ʼn 7-sitplek Everest, XL-spesifikasie met lapbekleedsel op die sitplekke wat met ʼn sleutel aansluit en die kleiner raakskerm het. Gewone meganiese sitplekke en dit is omtrent dit.
Ek is oortuig daardie voertuig sou in die mark beskikbaar gestel kon word teen R699 999 en omdat Ford nie diensplanne insluit nie, selfs R650 000. Dit sal die knuppel in die hoenderhok gooi tussen die Isuzu mu-X 1.9 en 2.4 Fortuner.
Die reeks lyk só:
Ford Everest 2.0BiT 4×2 outo | 154 kW/ 500 Nm | 7,5 ℓ/ 100 km | R848 300 |
Ford Everest 2.0BiT 4×4 outo | 154 kW/ 500 Nm | 7,5 ℓ/ 100 km | R913 400 |
Ford Everest Sport 2.0BiT 4×2 outo | 154 kW/ 500 Nm | 7,5 ℓ/ 100 km | R936 000 |
Ford Everest Sport 2.0BiT 4×4 outo | 154 kW/ 500 Nm | 7,5 ℓ/ 100 km | R1 020 300 |
Ford Everest Wildtrak 3.0 V6 4WD outo | 184 kW/ 600 Nm | 8,5 ℓ/ 100 km | R1 104 600 |
Ford Everest Platinum 3.0 V6 4WD outo | 184 kW/ 600 Nm | 8,5 ℓ/ 100 km | R1 168 300 |
Die reeks word gedek deur ‘n 4 jaar/ 120 000 km waarborg. Diensplanne is opsioneel.
Die kompetisie lyk só:
Toyota Fortuner 2.4GD-6 handrat | 110 kW/ 400 Nm | 6,8 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 9 dienste diensplan | R673 100 |
Isuzu mu-X 1.9TD LS | 110 kW/ 350 Nm | 7 ℓ/ 100 km | 5 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R708 000 |
Mitsubishi Pajero Sport 2.4 DI-D | 133 kW/ 430 Nm | 8,1 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R769 990 |
Die mededingers is die goedkoopste modelle in hul reekse. Die Fortuner is met ʼn handrat toegerus maar is in outo of 4×4 beskikbaar. Teen ʼn besparing van byna R200 000 maak dit die lewe vir die Everest moeilik.
Weens Toyota se risiko met die Fortuner sou ek waarskynlik die mu-X koop en weer heroorweeg indien Ford ʼn Everest XL beskikbaar stel teen ʼn meer bekostigbare prys.