Ford belê groot om V6-enjin in SA te bou

Die nuwe Ford Ranger word in 2022 bekend gestel.

Ford het nog ʼn reusebelegging van R600 miljoen aangekondig in afwagting van sy nuwe Ranger wat in 2022 bekendgestel word.

Die belegging sal onder meer ook aangewend word om die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha in staat te stel om 42 000 silinderkoppe en 21 000 V6-enjins per jaar te kan vervaardig. Die V6 sal op dieselfde lyn vervaardig word as die 2.2- en 3.2- Duratorq TDCi-enjins waarvan dié aanleg sedert 2011 al 792 000 vervaardig het.

Daar is ʼn ooreenkoms met Volkswagen gesluit dat Ford die volgende Amarok by die Silverton-aanleg in Pretoria sal vervaardig. Die Amarok en Ranger sal ʼn identiese tweeling wees aangesien hulle dieselfde enjins, ratkaste, onderstelle en binneruime sal hê. Daar sal slegs geringe visuele verskille wees.

Een van die opwindendste aankondigings is dat die nuwe Ranger- en Amarok Ford-reeks se 3.0-model V6-turbodieselenjin sal kry. Dis fantastiese nuus. In die VSA bied die V6 186 kW en 597 Nm. Ek’t een van die grootkoppe by Ford gedruk vir syfers, maar hy wou nie swig nie. Ek dink ek’t ʼn glimlag gesien toe ek sê 200 kW en 650 Nm in die nuwe Ranger, maar dit is werklik bespiegeling.

Soos met die 2.0-enkel- en dubbelturbo-lyn sal die jongste tegnologiese gereedskap gebruik word. Dit sluit ʼn kamera en antwoordsender in wat deel vorm van Ford se wêreldwye gehaltebestuurstelsel. Dit stel Ford in staat om rekord te hou van elke stap van die geboorteproses van elke enjin. Dít is van sleutelbelang om die gehalte te bied wat Ford van die aanleg verwag.

Die 2.0-enkel- en dubbelturbo-lyn word ook aangepas om ontwerpveranderings te huisves. Met die nuwe Ranger sal die produkaanbieding meer ingewikkeld wees met 13 weergawes teenoor die huidige nege.

Lees meer oor die volgende Ranger hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Dit is verblydend dat FORD nog vertroue in ons land het. Dankie

Wielspore ·

Dit was nou ‘n poeding berig, die opskrif lyk lekker en inhoud val so lekker op die brein. Ek dink die mense wat kla oor kwaliteit by Ford gaan ‘n ander deuntjie sing as die nuwe Ranger en Amarok bekend gestel word. Daar is ‘n gerug (grondgedagte) dat die nuwe Ranger 7% meer as die huidige reeks gaan kos en dat die nuwe Amarok tussen 4 to 7% duurder as die 2022 Ranger gaan kos. Indien dit die waarheid is word die Aamrok relatief goedkoper as die ouer model.
Lekker ry!

Groen Ghoen ·

Fantastiese nuus vir die Baai! Ou Henry sou besonder trots gewees het – indien ek reg onthou is Ford die uitvinder/ontwerper(?) van die sessilinder enjin.

casper ·

Daar is nie ‘n mark vir die verouderde tegnologie in die VSA en Europa nie.
Die enjins maak nie die uitlaatgasse beperkings nie en is daarom net verspreibaar in 3e wereld lande.
Die subsidies help ook nogal baie om die besoedeling te laat voor duur.

Wielspore ·

Casper, lees die berig mooi, dit is die nuuste tegnologie, hierdie is nie die V6 enjin wat in 1978 in die Ford Cortina XLE was.

andre ·

Dis seker die powerstroke V6 wat in die Discovery gebruik word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.