2022 Ford Ranger – alles wat jy moet weet

Groot opwinding heers reeds oor die splinternuwe Ford Ranger.

Dit is ʼn heel nuwe model, van die grond af op. Die volgende Ford Ranger en Volkswagen Amarok sal dieselfde bakkie wees en in Ford se aanleg in Silverton vervaardig word, ná ʼn R15 miljard‑belegging in Tshwane.

Die 2022 Ford Ranger is 50 mm langer en 50 mm breër as die huidige bakkie. Dit maak plek vir verskeie enjin- en dryfstelselopsies om die Ranger toekomsbestand te maak. Dit stel ook die laaibak agter in staat om ʼn volgrootte pallet te dra.

Daar is drie dieselenjins beskikbaar – 2.0‑viersilinderturbodiesel, 2.0‑viersilinderdubbelturbodiesel en 3.0 V6‑turbodiesel, met ʼn opsie van ʼn 6-spoed‑handrat, 6-spoed‑outo en 10-spoed‑outo, én Ford se 2.3‑viersilinderturbopetrol‑ EcoBoost-enjin. Die spesifieke enjins sal markverwant aangepas word.

Die binneruim is uiters modern en luuks met die toevoeging van ʼn enorme raakskerminligtingstelsel wat met Ford se eie Sync 4-stelsel toegerus is. Dié stelsel beheer verskeie funksies en sal bykomende nuwe funksionaliteit bied. Die stelsel werk seepglad saam met Ford se Ford Pass-app en die ingeboude modem wat ʼn permanente internetverbinding moontlik maak.

Al die jongste truuks, soos 360 °‑kameras vir parkering en dies meer, sal ingesluit wees. Die nuwe onderstel bied beter ritgehalte en dravermoë. Die nuwe trappie net agter die agterwiel sal help om makliker toegang tot die bak te kry en in sekere markte sal ARB 4×4-bybehore ook beskikbaar wees.

Ons het onlangs berig oor Ford se teikens vir die nuwe Ranger in terme van bougehalte en betroubaarheid. Die teiken van agt foute per 1 000 eenhede gaan taai wees, maar as ek só na die foto’s kyk, is ek uiters opgewonde. Die nuwe Ranger lyk fantasties – en dit beteken dat die volgende Ranger Raptor moontlik ʼn V6‑diesel sal hê. Alles is reg met die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Waarvan praat jy? As jy enige iets abuse sal hy buig en breek.

Wielspore ·

Hierdie belegging en produkte in die vorm van die Ranger en Amarok gaan nuwe kwaliteit standaarde vir Suid Afrikaans vervaardigde motors (Bakkie) skep. Die fabriek is eerste van sy soort in Afrika en gelykstaande aan die nuutste in Europa.
Vir die wat nog kla en wonder, hier kom ‘n wenner in die vorm van die Ranger en Amarok!

Grens ·

Mooi gereedskap op die bakkie, kan nie veel meer van die ding se nie.

Vonkprop ·

Blikemmer maar hy is mooi. Ek het gewonder hoe hulle op die vorige model kon verbeter maar hulle het. Hou baie van hom, maar uit my prysklas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.