Ford Mustang – karakter en nostalgie

Daar is min dinge op aarde wat so mooi klink soos ʼn lekker brullende V8. Nóg minder ʼn platvlak-krukas V8 waarvan die toere opgejaag word.

Ek was egter nie altyd die grootste Ford Mustang-liefhebber nie. Die soliede dryfas agter op die vorige model met ʼn stokou ratkas het die voertuig bitter lomp laat voel.

Toe kom die opgeknapte weergawe. ʼn Onafhanklike dryfas agter, ʼn tienspoed outo en beter padhouvermoë het die nuwe Mustang wonderbaarlik verbeter. Ek het toe ʼn kort tydjie met die lekkerste Mustang van hul almal deurgebring… die Bullitt.

Die Mach 1 Mustang is meer in die Bullitt se rigting. Die remme en vering is verder opgeknap om die padhouvermoë verder te verbeter. Dié is my eerste ervaring met die tienspoed outo, en ek sal sê – op seevlak trek die Mach 1 soos ʼn haas waarvan die stert aan die brand gesteek is! 0 – 100 km/h in die outo neem 4,4 sekondes en die handrat sal aanhou hol tot 267 km/h.

Die ontwerp is pure Mustang. Dit is bitter mooi. Nie modern mooi nie – nostalgies mooi. Die silhoeët het al kenmerkend Mustang geword. Dit is regtig mooi. Die binneruim is grootliks onveranderd, behalwe vir die bounommerplaatjie op die paneelbord.

As ʼn mens die aansitknoppie druk brul die 5.0 V8 aan die lewe. Skielik is alles reg in die wêreld. Soos ons in die Kaap by ʼn wynplaas oor ʼn duisend spoedhobbels uitry is dit opvallend hoe soepel die Mustang geveer is. Uiteindelik kom ons by die N2, rigting Grabouw en ek kan vir die eerste keer die versneller begrawe.

Toe die toere vir die eerste keer bó 4 500 r/min klim, begin die hoendervleis soos warm water teen my rug af spoel. Ek en my reismaat begin allerhande aardige geluide maak en glimlag soos die Mustang brul en blaf. In elke klein dorpie fluit die kinders en tieners en hits ons aan om te raas. Tot die groot mense se koppe draai, mans en vroue.

Ná middagete is die twee Mach 1’s saam-saam uit Hermanus. By ʼn verkeerslig is ons saam en draai terug op die N2 en begrawe die versneller. Die geraas is asemrowend. Ek is oortuig dít is hoe die lewe sou klink as ek ʼn cowboy in Texas was met ʼn paar stewels en ʼn Stetson, en ʼn Jack Daniels in die hand.

Ongelukkig is al 90 Mach 1’s wat Suid-Afrika toe kom reeds verkoop. As jy ook ʼn stukkie van die Mustang-nostalgie wil hê, sal dit ʼn 5.0 GT moet wees. Ek persoonlik sou ʼn handrat bestel – net omdat die Bullitt my met daai kierie betower het.

Die reeks lyk só:

Ford Mustang 5.0 GT fastback331 kW/ 529 Nm12, ℓ/ 100 kmR1 044 200
Ford Mustang 5.0 GT convertible331 kW/ 529 Nm12,5 ℓ/ 100 kmR1 114 900
Ford Mustang Mach 1 5.0 V8 handrat338 kW/ 529 Nm12,1 ℓ/ 100 kmR1 182 100
Ford Mustang Mach 1 5.0 V8 outo338 kW/ 529 Nm12,1 ℓ/ 100 kmR1 203 800

Die reeks word gedek deur ʼn vier jaar/ 120 000 km waarborg en ses jaar/ 90 000 km diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek hou nie eens van die goed nie, maar ek respekteer die feit dat Ford na die verbruikersaanvraag geluister het. Toe ek vir GM vra of hulle die Camaro (dink aan Bumblebee van Transformers) wil invoer, toe lag hulle basies vir my en se niemand sal dit wil koop nie. So daarom reken ek Ford verdien om duisende van die Mustang te verkoop.

MakersMark ·

Kyk die motor klink fantasties en is seker nie stadig nie. Maar 1970 tegnologie verpak in ‘n moderne baadjie vir > R 1.2 m prys……bietjie te dik vir ‘n daler.

koos10 ·

MakersMark, 1970 tegnologie??????
As jy in 1970 kar bestuur het, is jy duidelik te oud om die kar en sy moderne tegnologie te verstaan en geniet.

Spandeer nog sowat R700 000.00 op die kar by Roush en dan het jy ‘n ding wat Porch, Ferrari en Lambos pakslae kan gee. Glo my ek het al een van die bestuur. Oor die 500kw.

Dink mooi daaroor.

R1.2 vir die kar is ‘n winskoop, kyk bietjie wat jy vandag vir R1.2 kan koop, en wat kos nog duurder. Maar skuus jy is nog seker ook by 1970 se pryse?

MakersMark ·

Hi Koos, nee nie by 1970 pryse nie maar by 2021 tegnologie en performance. Ek bestuur nie ‘n 1970 kar nie maar ‘n 2020 SUV 427 kw standard issue. Menings verskil en ek stem saam dis nie ‘n slegte kar of prys nie maar cutting edge …..beheer, vering, elektronika ens? Dink nie so nie.

Boerkind ·

Lyk net te groot en lomp… Die Chev Corvette vertoon indrukwekkend teen die Mustang.

Belinda ·

nouri dag per ongeluk so klein “dice”opgetel met so tipe mustang… my bike het sy gat geskop en dis maar net n Suzuki SV1000… ek sal maar die kar skip en eerder n fiets koop…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.