Geen keer aan Toyota se GR-produkte

Die GR-Supra

Toyota het ʼn geruime tyd terug die 86 hier in Suid-Afrika bekendgestel. Louwarm, maar ʼn ware sportmotor. Toe kom die Supra en Yaris en nou sommer twee gelyk – die Toyota GR-Supra en Toyota GR-Corolla.

Albei is fantastiese motors én met ʼn handrat toegerus. Ons het verskeie aktiwiteite by Zwartkops-renbaan, Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika se tuiste, geniet. Vinnige rondtes in die Supra én die Corolla, ʼn drift-oefening met die Corolla, en aan die einde van die dag resies teen Nathi Msimanga, Michael van Rooyen en Saood Variawa, Toyota se drie GTC-renjaers op die glipbaan.

Die GR-Corolla

As ons na die twee motors kyk, is albei volvet GR-modelle. Albei met sportiewe voornemens, maar met verskillende benaderings. Hulle het egter een spesifieke eienskap gemeen – ʼn handratkas met ʼn rathefboom en ʼn derde pedaal.

Die GR-Corolla bied vierwielaandrywing met 221 kW en 370 Nm uit ʼn 1.6-driesilinderturbopetrolenjin! 0–100 km/h neem ʼn blitsige 5,29 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn elektronies beperkte 230 km/h.

Die Supra bied agterwielaandrywing met ʼn bul van ʼn 3.0-inlynsessilinderturbopetrolenjin wat ʼn enorme 283 kW en 500 Nm bied. Die Supra kan 100 km/h haal in ʼn ratse 4,4 sekondes en sal aanhou snol tot ʼn beperkte 250 km/h.

Daai syfers is egter net ʼn piepklein stukkie van die legkaart. Dit is eerder die klem op die bestuurder wat die ingenieurs by Toyota in ʼn GR-motor kalibreer. Die gevoel van die stuurwiel in mens se hande en die rathefboom onder jou palm is uniek en spesiaal. Meer spesifiek in die Corolla, te danke aan die gebrek aan ʼn BMW-invloed waarmee die Supra sit aangesien hy in ʼn vennootskap met BMW vervaardig is. Ek is gek oor die harder rempedaal waarmee mens op die baan perfek die hoeveelheid remkrag kan moduleer met ʼn lekker ferm pedaal.

ʼn Verdere bewys van hoe taai ʼn GR-motortjie kan wees, is die ses GR-Yarisse wat die afgelope anderhalf jaar in die plaaslike GR-beker deelneem, asook die GR-86-klas waarin ek dié jaar meeding. Die twee motors is padvoertuie met ʼn harder uitlaatpyp, semigladde bande en ʼn rolstaaf. Verstommend dat al 12 motors steeds jaag sonder veel meganiese kwale. Ek is oortuig dat daar moontlik ses GR-Corolla-voertuie volgende jaar in dié klas bygevoeg sal word.

Ons sit dus met padvoertuie wat mens by enige Toyota-handelaar kan koop, maar wat ook tuis is op die land se renbane. Verder kan mens nie die enorme taak ignoreer wat Toyota só maklik regkry nie. Tien jaar terug was Toyota maar vervelig met min produkte wat die hartsnare roer. Nóú is dit heeltemal ʼn ander storie en mens kan reeds sien hoe kinders en jong volwassenes ʼn liefde vir die GR-handelsmerk kweek. Dít wil gedoen wees.

Wat die GR-reeks verder uitbrei, is GR-S-modelle. Dit is geringe bywerkings op die standaardmodelle. Visuele opknappings én beter vering meestal. Ons het reeds in Suid-Afrika GR-S-weergawes van die Corolla Cross, Hilux en Land Cruiser 300.

Toyota se GR-aanbieding lyk só:

Toyota Corolla Cross GR-Sport90e kW/142+e Nm4,3 ℓ/100 kmR533 000
Toyota GR-86174 kW/250 Nm9,5 ℓ/100 kmR755 500
Toyota GR-Yaris198 kW/360 Nm7,6 ℓ/100 kmR840 200
Toyota GR-Corolla221 kW/370 Nm8,4 ℓ/100 kmR841 000
Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 GR-Sport165 kW/550 Nm8 ℓ/100 kmR945 600
Toyota GR-Supra285 kW/500 Nm8,9 ℓ/100 kmR1 488 400
Toyota Land Cruiser 300 3.3D GR-Sport225 kW/700 Nm8,9 ℓ/100 kmR2 060 000
Toyota Land Cruiser 300 3.5T GR-Sport305 kW/650 Nm12,1 ℓ/100 kmR2 095 100

Ons sal weer tyd met die Corolla en Supra deurbring en hulle dán afsonderlik in diepte resenseer en met hul mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.