Goedkoopste Hyundai ʼn wennertjie

Die Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Hyundai het ʼn tydjie terug sy nuwe Atos bekendgestel. Die Atos word in die groep se Indiese fabriek vervaardig, en die eindproduk is oulik. ʼn Bekostigbare buksie wat op die goeie naam van sy voorganger kan bou. In Suid-Afrika het Hyundai oor die jare derduisende Atos-modelle verkoop, en dít het in ʼn mate Hyundai gevestig as ʼn betroubare handelsmerk in Suid-Afrika.

Die nuwe Atos is beslis mooier as sy voorganger. ʼn Oulike ontwerp met aantreklike kleure om van te kies en te keur. Die binneruim is breër as voorheen en die skouerlyn baie laag, so mens het ʼn fantastiese aansig van wat buite aangaan.

Die Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Die Atos het kragstuur, lugreëling, elektriese vensters, outomatiese slotte en ʼn raakskerm-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto. Ek mis wel ʼn agterste ruitveër en verhitte glas. Aan die  veiligheidskant is die Atos met twee lugsakke asook ABS en EBD toegerus.

Die Atos word aangedryf deur Hyundai se atmosferiese 1.1-viersilinderpetrolenjin. Die enjin bied 50 kW en 99 Nm. Waar die meeste mededingers driesilinderenjins het, is die viersilinder in die Atos merkbaar glad en egalig.

Die Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Van 0–100 km/h neem 14,4 sekondes en die Atos sal aanhou draf tot ʼn sterk 155 km/h. Krag en 0–100 syfers is nie die Atos se troefkaart nie – maar eerder sy brandstofverbruiksyfers. Hyundai beweer ʼn gemiddeld van 5.7 ℓ/100 km. Ek het beter as dit gehandhaaf tydens ons toets as mens rustig ry. As jy die Atos ry asof jy hom gesteel het, klim dit tot so 7 ℓ/100 km.

Ritgehalte is nog een van die Atos se sterkpunte wat my betref. Hy ry lekker sag sonder enige wilde bakrol. Hy voel ook lekker standvastig op die pad – nie soos sy voorganger wat verskriklik nou gevoel het nie. Padhouvermoë is in die kol vir dié klas voertuig.

Die Atos is ʼn motor van die jaar-finalis. Dis ʼn oulike tjor en sy ratwisselingaksie is een van die bestes in die segment. Dis ʼn getroue handelsmerk en ʼn naam wat almal vertrou. Daar is net die een model in die reeks:

Hyundai Atos 1.1 Motion50 kW/99 Nm5.7 ℓ/100 kmR159 900

Die Atos word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg en ʼn 1 jaar/15 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

 

Suzuki S-Presso 1.0 GL50 kW/ 90 Nm4.9 ℓ/ 100 km2 lugsakke

ABS

EBD

5 jaar/200 000 km- waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R134 900
Mahindra KUV100 Nxt 1.2 G80 K2+61 kW/ 115 Nm5.9 ℓ/ 100 km2 lugsakke

ABS

EBD

3 jaar/100 000 km- voertuigwaarborg

5 jaar/150 000 km- dryfstelselwaarborg

Diensplan opsioneel

R142 999
Renault Kwid 1.0 Expression50 kW/ 91 Nm4.7 ℓ/ 100 km2 lugsakke

ABS

EBD

5 jaar/150 000 km- waarborg

Diensplan opsioneel

R144 900
Datsun Go 1.2 Mid50 kW/ 104 Nm5.5 ℓ/ 100 km2 lugsakke

ABS

6 jaar/150 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R162 300
Kia Picanto 1.0 Start49 kW/ 95 Nm5.0 ℓ/ 100 km2 lugsakke

ABS

EBD

5 jaar/onbeperkte km-waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R168 995

Tussen dié mededingers is die Suzuki S-Presso ongeëwenaar teen sy prys en sal my keuse wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.