Haval se Jolion beïndruk, maar…

Ek was in die verlede bitter kwaai met Haval en ek is eintlik steeds. Nie nét oor Haval nie, maar Chinese motorvervaardigers in die algemeen. Die Indiërs het ook deurgeloop toe hul produkte nie van billike gehalte was of aan standaarde voldoen nie.

Haval én Chery se nuwe modelle is baie mooi. Beteken dit die Chinese kon nou regkry wat die  Japannese reggekry het deur goeie gehalte produkte teen billike pryse te lewer? Nee, nog nie heeltemal nie – kom ek verduidelik hoekom.

Die Jolion is werklik ʼn netjiese kar. Eg aan Haval is die binneruim met elke denkbare luuksheid gepeper om die pakket meer aanloklik te maak. Daar is alles – van ʼn raakskerm bo-op die instrumentpaneel, leerinsetsels oral, digitale skerms vir ʼn vale, aktiewe en passiewe veiligheidstelsels soos baanhulp en botsingwaarskuwing, banddrukmonitors – die lot. Nou wat is dan fout? As ʼn eenheid kort die funksionaliteit nog ʼn bietjie afronding. ʼn Mens kan byvoorbeeld as die baanhulpstelsel aangeskakel is nie deur die aanboordrekenaar blaai om jou brandstofverbruik te sien nie. Dit is dalk met opset aangesien die Chinese maar swak is as dit by brandstofdoeltreffendheid kom.

Die Jolion word deur ʼn 1,5 viersilinderturbopetrolenjin aangedryf en dié enjin bied ʼn indrukwekkende 105 kW en 210 Nm. Die enjin gaan gepaard met ʼn 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas. Dit is indrukwekkend maar dit kort ʼn klein bietjie afronding as dit by versnellerkalibrasie kom en die enjin kan grof voel teen hoë rewolusies. Dít gepaard met die brandstofverbruik wat nie te waffers is nie beteken dat Haval nog werk het om te doen. Haval beweer 7,5 ℓ/100 km, maar ons het tydens ons beurt met die Jolion nader aan die 9 ℓ/100 km gehandhaaf. Dis nie fantasties nie.

Op die pad toer die Jolion werklik indrukwekkend. Dit is nóg ʼn voertuig wat ten opsigte van prys in die B-segment meeding, maar eintlik in die C-segment hoort. Teenoor Haval se eie H2 en H6 van ouds is die Jolion ʼn enorme tree vooruit. Die ritgehalte is heel goed en die padhouvermoë in die kol vir dié tipe voertuig.

Dit bring my by die opsomming. Ek is kwaai met Haval oor hul karre want ek glo dit is weens kritiek dat hul produkte só vinnig verbeter omdat hulle aan ʼn hoë standaard gemeet word. Die Jolion is gewis nie ʼn slegte kar nie, maar teen R400 000 vir dié model verwag ek ʼn meer afgeronde pakket. Ek voel hulle moet eerder van die luukse truuks laat vaar en die voertuig eers kalibreer totdat dit perfek is – en voeg dán die speelgoed by. Soos die feit dat daar nie ʼn volumeknoppie vir die draadloos is behalwe op die stuurwiel nie – dit beteken dat passasiers nie die volume kan beheer nie, tot my vrou se spyt.

Die reeks lyk só:

Haval Jolion 1.5T CityR309 900
Haval Jolion 1.5T LuxuryR342 900
Haval Jolion 1.5T PremiumR349 900
Haval Jolion 1.5T Luxury outoR377 900
Haval Jolion 1.5T Super LuxuryR408 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai Venue 1.0T Fluid outo88 kW/ 172 Nm6,9 ℓ/ 100 km5 jaar/150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R388 500
Renault Duster 1.5dCi Intens80 kW/ 250 Nm4,8 ℓ/ 100 km5 jaar/150 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R389 900
Citroën C3 Aircross 1.2T Feel81 kW/ 205 Nm6,5 ℓ/ 100 km5 jaar/100 000 km waarborg

3 jaar/60 000 km diensplan

R399 900
Mazda CX-3 2.0 Dynamic outo115 kW/ 206 Nm6,7 ℓ/ 100 km3 jaar/onbeperkte km waarborg

3 jaar/onbeperkte km diensplan

R417 900
Peugeot 2008 1.2T Allure96 kW/ 230 Nm6,5 ℓ/ 100 km5 jaar/100 000 km waarborg

3 jaar/60 000 km diensplan

R447 900
Volkswagen T-Cross 1.5TSI 110kW R-Line110 kW/ 250 Nm5,5 ℓ/ 100 km3 jaar/120 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R481 700
Kia Seltos 1.4T-GDi GT-Line103 kW/ 242 Nm6,3 ℓ/ 100 km5 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R504 995

Hier is klomp mededingers. Die Jolion kompeteer egter net met die Seltos en Duster in terme van grootte. Die res is B-segment buksies en effens kleiner. Tussen dié mededingers sal ek waarskynlik die Duster koop vir sy brandstofverbruik, en omdat sy waardevermindering bogemiddeld gering is teen die ander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.