Hibriede Hilux dalk gou in SA

Toyota bied al geruime tyd hibriede voertuie in Suid-Afrika aan. Voertuie soos die Prius en Lexus CT200h was die voorlopers, maar Toyota se hibriede Corolla Cross is beslis een die gewildste modelle wat tans hier beskikbaar is, én op eie bodem vervaardig word.

Die volgende sleutelmodel wat hier op eie bodem met ʼn hibriede dryfstelsel vervaardig sal word, is die Hilux.

Toyota het vroeër vanjaar tydens die Safari Rally in Kenia ʼn voorsmakie van ʼn konsep‑ hibriede Hilux gegee. Besonderhede oor die hibridiese weergawe van die Hilux is egter nog vaag, maar ek vermoed dat dit op die 2.8-weergawe gebaseer sal wees.

Die hibriede stelsel sal ʼn wesenlike brandstofbesparing bied, en ʼn bruikbare wringkragaanvulling wanneer ʼn mens dit nodig het. Die koolstofdioksied-uitlaatgasse sal ook heelwat verminder word, veral in kwaai dorpsverkeer. Dié hibridiese dryfstelsel bied die beste van alle wêrelde. Jy het geen reikafstandangs nie, maar geniet wel die brandstofbesparing.

As ons na die ander hibriede modelle in Toyota se aanbieding kyk, kan mens ʼn brandstofbesparing van minstens 25% verwag – en met die brandstofprys wat eersdaags weer die hoogte inskiet, is dit opwindend.

Die bekendstellingsdatum van die hibriede Hilux is nog onbekend, maar as ons na Australiese tendense kyk, kan ons hom moontlik al volgende jaar op eie bodem verwag.

Toyota het ʼn wyle gelede vir Maroela Media meer inligting gegee oor die maatskappy se wêreldwye strategie vir die volgende dekades.

Dit kom basies op ʼn meervoudige benadering neer waar Toyota nie teen 2030 al sy eiertjies net in die elektriesevoertuig-mandjie gaan plaas nie, maar eerder vyf verskillende tegnologieë ontwikkel.

Dit sluit in hibriede (HEV), inprop-hibriede (PHEV), battery‑ elektriese voertuie (BEV), waterstof, waterstofbinnebrand-ombouings, en koolstofneutrale brandstof. Met dié benadering kan Toyota verskeie tegnologieë beskikbaar stel in verskillende markte oor die wêreld afhangend van wat die behoefte daar is.

Toyota is werklik kenners in nuwe energie-voertuie en het verlede jaar wêreldwyd ongeveer 2,73 miljoen geëlektrifiseerde motors verkoop. Verlede jaar was 3% van Toyota Suid-Afrika se verkope ʼn nuwe energie-voertuig. Hy wil 10% in 2025 behaal en 20% teen 2030.

Toyota Suid-Afrika glo dat hibriede voertuie ʼn enorme deel van ons toekoms hier in Suid-Afrika sal wees. Dit bied die beste balans tussen prys en reikafstand sonder die reikafstandangs wat saam ʼn BEV kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grens ·

Hierdie bakkie gaan baie gewild wees, maar ek vemoed ook so bietjie aan die duur kant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.