Husqvarna stel Svartpilen 801 bekend

Pierer Mobility Group, wat onder andere KTM en Husqvarna besit, is besig om links en regs nuwe modelle bekend te stel.

Ek bewonder hulle diversiteit, maar o wee, om kop te hou met hierdie maatskappy verg konsentrasie. Nie net val GASGAS ook onder hulle sambreel nie, maar hulle het ook onlangs ’n beherende aandeel in MV Agusta bekom. Dan is daar ook nog samewerkingsooreenkomste met ander maatskappye. So word die kleiner KTM-modelle deur Bajaj in Indië gebou en CF Moto in China vervaardig die nuwe KTM 790-modelle. Die logistiek is seker ’n nagmerrie!

Terwyl KTM onlangs die nuwe Duke 390, Duke 990 en Super Duke 1390 bekendgestel het, het Husqvarna ook ’n splinternuwe fiets bekend gestel: die Husqvarna Svartpilen 801.

Ek was gaande oor hoe Husqvarna dieselfde meganiese dele van die KTM Duke geneem het en ’n totaal anderse motorfiets daarop maak pas het – die Svartpilen en die Vitpilen. Die Vitpilen was Husqvarna se padfiets, waar die Svartpilen meer ’n stofpadfiets was.  Daardie tradisie duur nou voort met die nuwe 801, maar ons moet eers die kragbron mooi uiteensit. Ek is seker Husqvarna sou graag die nuwe KTM Duke 990 se kragbron wou gebruik, maar hulle het eerder die 799 cc gebruik wat in samewerking met CF Moto ontwikkel is. Dus Husqvarna se grootste padfiets tot op hede.

Die staaltralieraam van die vorige model maak nou plek vir ’n meer tradisionele raam. Die metaal waarvan die raam gemaak is, is op sigself ’n tongknoper. Dit staan bekend as chroom-molibdeen en gee genoegsame stabiliteit aan die fiets. Met ’n enjin wat 105 pk lewer en 87 Nm wringkrag, moet die raam stewig sowel as effe buigbaar wees. Dit behoort die Svartpilen ’n heel opwindende fiets te maak. Die nuwe enjin se diensintervalle is tot 15 000 km verleng.

Die ontwerp van die fiets is getrou aan sy voorganger met ’n minimalistiese ontwerp en dadelik herkenbaar as ’n Svartpilen. Die WP-vering is ten volle verstelbaar, of jy nou verrigting of gemak verkies. Die fiets is ook toegerus met al die nuutste elektronika om jou veilig te hou.

As ek kon kies tussen die KTM Duke of Husqvarna se Svartpilen, sou ek beslis die Husqvarna vat. Die uniekheid is vir my ’n groot trekpleister. Boonop kom hy met Pirelli se MT 60 RS-bande sodat jy darem nou en dan ’n stofpaadjie kan aandurf en groot stofwolke agter jou los.

Die Svartpilen beloof om hope pret te wees met sy eie unieke karakter. Ek sal geduldig moet wees om te sien of hierdie model na Suid-Afrika toe kom sodat ek meer breedvoerig verslag kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.