Jan Alleman se motor

Ek en ander motorjoernaliste is gek daaroor om liries te raak oor allerhande vuurwaens en spogmotors – dit is wat die brandstof in ons are aan die vloei hou. In werklikheid is dit egter nie baie lekker om die kinders skool toe te neem in ʼn Mazda MX-5 nie – dis blykbaar onveilig vir hulle om aan die dak vasgemaak te word.

Nou wat is dan ʼn beter oplossing? Altesaam 33% van die voertuie wat die Suid-Afrikaanse publiek koop, is ʼn luikrugmotor. Dink Golf of Polo… My hart spring dan weereens direk na ʼn vuurvretende Ford Focus RS met vierwielaandrywing, ʼn miljoen perdekrag en ʼn handratkas. Nee – nie hy nie.

ʼn Groot gedeelte van die publiek soek ʼn doodgewone luikrug, met voldoende spasie, ʼn billike enjin, goeie brandstofverbruik en ʼn outomatiese ratkas. Ek het onlangs met presies só ʼn buksie rondgerits.

Welkom aan die Kia Rio 1.4 LS outo. Dit is die goedkoopste outo in die Rio-reeks. Hy word aangedryf deur ʼn atmosferiese 1.4-viersilinderpetrolenjin wat 73 kW en 135 Nm bied. Hy kan 6,2 ℓ/100 km haal op die gekombineerde siklus; neem 12,9 sekondes tot by 100 km/h en sal 175 km/h voluit draf. Dit is glad nie te versmaai nie.

Die ontwerp is netjies, maar geensins sportief nie en daarin lê sy sjarme. Hy probeer nie ʼn sportmotor wees nie en dit maak die vering gemaklik. Daar is ook geen nagemaakte koolstofvesel orals geplak nie… dit is net duursame plastiek en betroubare lapbekleedsel op die sitplekke. Die inligtingstelsel bied Android Auto en Apple CarPlay, al wat ʼn mens werklik nodig het; dit en lugreëling.

Op die pad is waar die Rio verder beïndruk. Dit is uiters gemaklik, en lekker lig op brandstof. Ek sal waarsku: tot jy gewoond is aan die ratkas, is dit beslis nie ʼn renmotor nie. Maar sodra jy die ratkas leer ken het, en hy vir jou, dan begin dinge beter gaan. Daar is ʼn tiptronic-funksie – as mens ʼn bult sien, skakel ʼn rat of twee terug met die rathefboom, en die Rio klim kwaai bulte met gemak.

Aan die veiligheidskant is daar twee lugsakke, ABS met EBD en stabiliteitsbeheer. Die ritgehalte is uit die boonste gestoeltes te danke aan die billike grootte wiele en lekker profielbande. Dít saam met goeie vering maak van die Rio ʼn lekker reisgenoot. Padhouvermoë is voldoende vir wat enige eienaar ooit van die Rio sal vereis.

Dit is maklik om die Rio op te som. Dit is inderdaad nie ʼn vuurwa nie, maar hy’t nooit voorgegee om een te wees nie. Dit is ʼn eerlike buksie wat beter spasie bied as ʼn gewone B-segment-luikrug soos die Polo en Fiesta, teen ʼn baie laer prys sonder om enige kwaliteit in te boet.

Die reeks lyk so:

Kia Rio 1.2 LS61 kW/120 Nm5,7 ℓ/100 kmR280 995
Kia Rio 1.4 LS73 kW/135 Nm5,8 ℓ/100 kmR291 995
Kia Rio 1.4 LX73 kW/135 Nm5,8 ℓ/100 kmR306 995
Kia Rio 1.4 LS auto73 kW/135 Nm6,2 ℓ/100 kmR308 995
Kia Rio 1.4 EX73 kW/135 Nm5,8 ℓ/100 kmR319 995
Kia Rio 1.4 LX auto73 kW/135 Nm6,2 ℓ/100 kmR323 995
Kia Rio 1.4 EX auto73 kW/135 Nm6,2 ℓ/100 kmR336 995
Kia Rio 1.4 Tec73 kW/135 Nm5,8 ℓ/100 kmR344 995
Kia Rio 1.4 Tec outo73 kW/135 Nm6,2 ℓ/100 kmR361 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Figo 1.5 Trend outo88 kW/150 Nm6,5 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R256 000
Suzuki Baleno 1.4 GLX outo68 kW/130 Nm5,4 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R274 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.