Jeep wys vier konsepmodelle  

Kloksgewys van link na regs: Willys Dispatcher, Gladiator Rubicon High Top, Vacationeer en Low Down.

Sekere handelsmerke geniet so ʼn groot aanhang dat dit uiteindelik tot ʼn kultus-handelsmerk verhef word. Jeep is só ʼn handelsmerk… veral as dit kom by die onstuitbare Wrangler.

Meer as 80 jaar gelede, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is die Willys gebore. Die Willys het oor die jare heen gegroei en meer tegnologies gevorderd geword maar die kern van die Willys bly eg.

Dit is nou weer tyd vir die jaarlikse Easter Jeep Safari in Utah in die VSA. By dié byeenkoms kom meer as 20 000 Jeep-aanhangers bymekaar om die taaiste roetes en hindernisse in dié area aan te durf en te trotseer.

Jeep het weer eens sy span interne ontwerpers die vryheid gegee om ʼn paar eenmalige konsep-voertuie te ontwerp en te vervaardig.

Vanjaar het Jeep vier pragtige konsepte uitgedink – elkeen uiters uniek:

Jeep Low Down:

Die Jeep Wrangler Lower 40 het 15 jaar gelede vir groot opwinding gesorg – ʼn Wrangler met 40”-wiele en ʼn reuse V8. Die Low Down Concept is op dieselfde idee geskoei – 42”-bande met beadlock-wiele en nuwe Dana-ewenaars met 4:10-ratte.

Met ʼn pragtige Poison Apple Red-kleur lyk die Low Down Concept werklik pragtig. Die deurskynende enjinkap laat ʼn mens ook wonder oor die 392 kubieke duim V8 enjin wat daaronder wriemel.

Die Low Down

Jeep Willys Dispatcher:

Die Dispatcher Concept put sy inspirasie uit die tydperk net ná die oorlog. Staalwiele met brandmaerbande en ʼn meer doelgerigte ontwerp.

Onder die kap sit ʼn 2.0 viersilinderturbopetrolenjin gepaard met ʼn hibriede dryfstelsel. Jeep noem hom die 4xe-aandrywingstelsel wat 280 kW en 637 Nm bied!

Die Willys Dispatcher

Jeep Gladiator Rubicon High Top:

Hier is waar die Mopar-afdeling hul staal wys. 40”-wiele met groter wielboë gee enorme klaring. Dana 60-aste voor en agter met ʼn 5.38:1-ratverhouding stel die Gladiator in staat om te klim waar ʼn bobbejaan ʼn kierie nodig het.

Onder die kap sit Jeep se getroue 3.6 Pentastar V6 petrolenjin en 8-spoed outokas. Die voorste buffer steek ʼn Warn-wenas weg en Rock Slide Engineering bied rotsglystawe wat mooi oop- en toevou soos ʼn mens dit benodig.

Jeep Vacationeer:

Die ontwerpers by Jeep het hier ʼn oulike nostalgiese element ingesluit – ʼn houtafwerking teen die kant van die Vacationeer laat mens terugdink na die ou Wagoneer wat tussen die 1960’s en die 1990’s so gewild was. ʼn Pragtige daktent op die dak gemonteer, mét klimaatbeheer en toegang vanuit die kajuit.

Onder die kap sit ʼn 3.0 inlynsessilinder enjin met twee turbo’s. 380 kW en 678 Nm is voorwaar sterk, en Jeep se nuwe enjin is heelwat ligter op brandstof as mededingende V8 of turbo-V6 enjins, beweer Jeep.

Die hele oefening is om konsepte en onderdele op die proef te stel. Jeep Performance Parts is ʼn afdeling wat in 2012 deur Mopar op die been gebring is. Dit is na-mark-onderdele vir die 4×4-entoesias om sy Jeep na sy smaak pas te maak. JPP gebruik die 20 000 bywoners as steekproef vir toekomstige idees en onderdele.

Die Vacationeer, Low Down Concept, Willys Dispatcher en Gladiator Rubicon High Top.

Die Willys Dispatcher, Gladiator Rubicon High Top, Vacationeer en Low Down.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.