Nadal wil ‘aanhou droom’

Rafael Nadal vier sy oorwinning in die derde ronde van die Madrid-ope. (Foto: X/Madrid-ope)

Rafael Nadal se kleibaansprokie duur voort nadat hy Pedro Cachin met 6-1, 6-7 en 6-3 geklop het om vir die vierde ronde van die Madrid-ope te kwalifiseer.

Cachin was egter alles behalwe kanonvoer en Nadal kon eers die wenhou ná drie uur slaan.

“Soms het dinge goed gegaan; ander kere weer minder goed. Ek kon egter ʼn manier vind om die wedstryd te wen,” het die 37-jarige Spanjaard gesê.

“In die derde stel was daar ook foute, maar ek kon dinge ʼn bietjie meer onvoorspelbaar op die baan maak en dit was waarskynlik die verskil tussen wen en verloor.”

Nadal gaan die afgelope jaar of twee gebuk onder beserings en hy het die meeste van 2023 se groot toernooie misgeloop, terwyl sy terugkeer vroeër vanjaar in Australië ook kortgeknip is.

“Ek geniet tans my tennis, maar kom ons kyk hoe voel ek wanneer ek soggens wakker word. Ek is dankbaar om op my tuisbane in Spanje te speel; dit beteken ongelooflik baie vir my.”

Die pot goud aan die einde van die Nadal-reënboog is natuurlik die Franse Ope; ʼn toernooi wat hy reeds 14 keer vantevore gewen het.

“Ek doen my bes om aan te hou droom. Om voor julle te speel is ʼn reusevoorreg.”

Hy sal in die vierde ronde teen Jiri Lehecka te staan kom.

Uitslae:

Jannik Sinner klop Pavel Kotov met 6-2 en 7-5

Casper Ruud klop Cameron Norrie met 6-2 en 6-4

Rafael Nadal klop Pedro Cachin met 6-1, 6-7 en 6-3

Daniil Medvedev klop Sebastian Korda met 5-7, 7-6 en 6-3

Alexander Bublik klop Ben Shelton met 3-6, 7-6 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Danielle Collins met 4-6, 6-4 en 6-3

Elena Rybakina klop Sara Bejlek met 6-1 en 6-3

Madison Keys klop Coco Gauff met 7-6, 4-6 en 6-4

Iga Swiatek klop Sara Sorribes Tormo met 6-1 en 6-0

Ons Jabeur klop Jelena Ostapenko met 6-0 en 6-4

Beatriz Haddad Maia klop Maria Sakkari met 6-4 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.