Rafa onttrek hom aan Australiese Ope

’n Spierbesering beteken dat Rafael Nadal nie in die Australiese Ope sal afslaan nie. (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Rafael Nadal se terugkeer tot die tennisbaan is deur ʼn besering kortgeknip. Die Spaanse tennismatador het vandag op sosiale media bevestig dat hy ʼn mikroskeur in ’n spier opgedoen het.

Hy sal dus nie aan die Australiese Ope in Melbourne deelneem nie.

Nadal, wat vanjaar 38 kersies op sy verjaardagkoek moet doodblaas, het in sy kwarteindstryd-nederlaag van die Brisbane International-toernooi teen Jordan Thompson mediese behandeling ontvang.

Die wenner van 22 Grand Slam-titels het toe ongemak in sy linkerbobeen ervaar en hy het nou bevestig dat hy ’n baie klein skeur in ʼn spier opgedoen het.

“In my laaste wedstryd in Brisbane het ek ʼn klein spierprobleem gehad en ek was natuurlik bekommerd,” het Nadal op X, voorheen bekend as Twitter, gedeel.

ʼn Heupbesering en daaropvolgende operasie het immers die Spanjaard verlede jaar langs die baan gehou, maar gelukkig is die jongste fiksheidsterugslag nie op dieselfde plek as die vorige besering nie.

“Tog is ek op die oomblik nie gereed om op my maksimum vlak te speel nie. Daarom vlieg ek terug na Spanje om my dokter te sien, behandeling te ontvang en om ʼn bietjie te rus.”

Nadal het sy terugkeer in Brisbane met oorwinnings oor Dominic Thiem en Jason Kubler gevier, terwyl hy ook goed op die baan teen Thompson beweeg het.

Hy was op koers om die kwarteindstryd te beklink, maar hy het drie wedstrydpunte in die tweede stel verbeur om uiteindelik met 5-7, 7-6 en 6-3 te verloor.

“Ek is natuurlik moeg,” het hy ná afloop van die kragmeting gesê.

“Terselfdertyd is ek ook teleurgesteld. Ek het baie geleenthede gehad om te wen, maar hy [Thompson ] het goed gespeel. Ek moet leer om dié dinge te aanvaar; ná ʼn jaar se afwesigheid gaan dit beslis gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.