Daar was die afgelope paar maande heelwat sporttoerfietse in my motorhuis en dit is nie ’n slegte ding nie. Ek hou van die idee van ’n sportfiets wat ’n gemaklike ryposisie het, want my ou bene wil nie meer so lekker saamwerk op superfietse nie. Daarom is daar fietse soos die Kawasaki Ninja 1000 SX wat poog om die balans tussen gemak en ’n opwindende ryervaring te vind.
Kawasaki het ’n geringe bywerking gedoen aan die 2022-model en jy moet baie mooi kyk om enigsins die verskille waar te neem. Dit is maar hoe die Japannese dinge doen. Klein aanwasveranderinge eerder as iets radikaal nuut.
Die eerste ooglopende verandering is dat die model nie meer Z 1000 SX heet nie, maar Ninja 1000 SX. Die stroomlynkap het geringe herstilering met ’n nuwe windskerm gekry. Die windskerm is maklik verstelbaar deur vier posisies. Dit is egter nie op- en afwaarts verstelbaar soos ek sou verwag nie, maar eerder vorentoe en agtertoe. Dit beteken dat langer ryers ’n ander plan sal moet maak om die wind van hulle valhelm af te kry.
Die uitlaatpyp op die vorige model was ’n kort, dubbele uitlaatpyp wat aan weerskante van die fiets uitgekom het. Die nuwe een is ’n vier-in-een-eenheid en heelwat langer. Persoonlik hou ek meer van die vorige ontwerp, maar die Euro 5-emissiereëls trek sy neus op vir klein, kompakte uitlaatpype.
Die 1 043 cc-enjin het onveranderd gebly en lewer steeds 140 perdekrag teen 10 000 rpm. Dit klink op die oog af nie na baie nie, maar dit is meer as genoeg vir die taak waarvoor die SX aangewend sal word. Die enjin, soos enige in-lyn-vier, verloop seepglad. Daar is vir my net iets spesiaals aan die klank van die Ninja-enjin. Dit klink sommer glad! Ratskakeling is deur middel van Kawasaki se snelskakeling, en hier verloop dinge net so glad.
Die nuwe instrumentasie is seker die grootste verandering aan die SX. Dit is Kawasaki se volkleur-TFT-skerm en baie aantreklik. Daar is twee uitlegte om van te kies, die een bietjie meer sportief as die ander. Daar is selfs ’n aanduiding van hoe ver jy in ’n draai leun. Dit is eintlik nuttelose inligting, want as jy hierdie fiets hard in ’n draai in druk, moet jou fokus op die pad wees en nie op hoe ver jy besig is om te leun nie. Gelukkig onthou die fiets die hoogste syfer. Dit kan ook koppel met Kawasaki se foontoepassing wat jou hele rit opneem en stoor.
Omdat die fiets nou ’n elektroniese versneller het, kon Kawasaki ’n paar ryprogramme op die SX sit. Maar wat my betref, is die grootste voordeel van die elektroniese versneller dat die fiets nou oor snelheidsbeheer beskik. Op ’n fiets waarmee jy groot afstande moet aflê, is dit ’n groot pluspunt. Daar is egter steeds nie verhitte grepe nie.
Op die pad is die SX ongelooflik goed. Die kraglewering is meedoënloos. Die enjin tol maklik tot by 10 000 rpm voor jy die volgende rat sonder moeite kies. Die ryposisie is steeds sportief dog gemaklik en dit hits jou aan om die fiets met oorgawe te ry. Die Showa-vering sorg vir uitsonderlike hantering.
Die Kawasaki Ninja 1000 SX kan maklik omskep word in ’n langafstandtoerfiets met Kawasaki se doelgemaakte bagasie. Ek sal dae lank kan toer op die SX. Ek dink net Kawasaki het doelbewus die naam verander na Ninja omdat hierdie fiets meer sport- as toerfiets is. Ek kon min fout kry met die nuwe Ninja en as jy steeds opwinding soek in ’n praktiese fiets, dan is die Ninja 1000 SX dalk net jou fiets.
Die feite:
Enjin | 1 043 cc-viersilinder |
Gewig (Nat) | 231 kg |
Maksimum kraglewering | 105 kW/140 pk @ 10 000 rpm |
Saalhoogte | 835 mm |
Tenkkapasiteit | 19 ℓ |
Prys | R229 995 |