Kruismodel of sportnuts?

Dit is geen geheim dat daar goeie, en slegte, voertuie daar buite is nie. Daar is goedkoop én duur motors, maar wanneer twee fantastiese voertuie in dieselfde segment teen dieselfde prys meeding – dan raak dinge interessant.

Hier het ons Volkswagen se nuwe T-Roc, en Peugeot se 2008. Kom ons vergelyk die twee:

Ontwerp:

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW DesignPeugeot 2008 1.2T GT
4,5/55/5

Dit is geen geheim nie dat ek dink die 2008 is een van die mooiste voertuie wat in die laaste tyd bekendgestel is. Peugeot se ontwerpers is tans op stryk, en die 2008 is beslis met hul mooiste kwaste geverf. Volkswagen se T-Roc is geen lelike eendjie nie – getrou aan VW se ontwerpstyl net effens meer konserwatief.

Die 2008 se ontwerp is eenvoudig ʼn rapsie voor dié van die VW. Die T-Roc noem homself egter ʼn kruismodel, en die 2008 ʼn kompakte sportnuts. As ʼn mens na die dimensies kyk van die twee is hulle basies presies dieselfde grootte.

Binneruim:

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW DesignPeugeot 2008 1.2T GT
4/54/5

Hier is waar dinge effens moeilik raak vir die Volkswagen. Ek verkies die oop en ruim gevoel van die T-Roc, maar die bougehalte en materiale in die 2008 is beter as die van die T-Roc. Die T-Roc se deurpanele en paneelbord kan plastiekerig voorkom. Albei voertuie se sitplekke is voorwaar gemaklik, maar ek is gemakliker in die Volkswagen en verkies die T-Roc se bestuursposisie. Die klein stuurwieletjie in die meeste Peugeots sukkel ek om aan gewoond te raak.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW DesignPeugeot 2008 1.2T GT
5/54/5

Die T-Roc word aangedryf deur Volkswagen se 1.4- turboaangejaagde viersilinderenjin wat 110 kW en 250 Nm bied. Die enjin is gepaard aan VW se fantastiese 8-spoed-DSG-dubbelkoppelaarratkas. Van 0‑100 km/h neem ʼn ratse 8,4 sekondes en die T-Roc sal aanhou snol tot 205 km/h terwyl hy teen 6,2 l/100 km aan die brandstof teug.

Peugeot se 2008 is aangedryf deur hul 1.2‑ turboaangejaagde driesilinderturbopetrolenjin. Dié enjin bied 96 kW en 230 Nm. Peugeot maak gebruik van ʼn 6-spoed‑ outomatiese ratkas. Die kombinasie versnel die 2008 tot 100 km/h in 9,1 sekondes en hy sal tot 198 km/h voluit hardloop. Waar die Peugeot sy punt hier verloor, is in die verfyning van die dryfstelsel. Die Volkswagen het minder vibrasie en voel rustiger, veral in die dorpsverkeer.

 

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW DesignPeugeot 2008 1.2T GT
4/54,5/5

Die twee voertuie loop hier kop aan kop. Ek sal egter die beter ritgehalte aan die 2008 toeken. Hy loop op ʼn 17”-wiel met ʼn 60 profiel-band. Dit help vir die gestamp deur die onderstel. Die T-Roc is toegerus met die opsionele 18”‑wiele met ʼn 55 profiel‑band. Dit lyk bitter mooi, maar kan deurstamp op slegte paaie en hobbels. Albei voertuie se padhouvermoë is puik vir die segment – en albei het identiese veiligheidstelsels met ses lugsakke, sluitweerremme met remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer met remhulp – die lot.

Waarborg, diensplan en prys:

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW DesignPeugeot 2008 1.2T GT
4/54/5

Peugeot bied ʼn beter waarborg met 5 jaar/100 000 km teenoor Volkswagen se 3 jaar/120 000 km. Die Peugeot bied ʼn 3 jaar/60 000 km‑diensplan en Volkswagen 5 jaar/90 000 km. Die voertuie se prys verskil met R500. Die Peugeot sal jou R489 900 uit die sak jaag, terwyl die Volkswagen joune kan wees vir R489 400.

Opsomming:

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW DesignPeugeot 2008 1.2T GT
21,5/2521,5/25

Ek het die artikel begin met ʼn definitiewe wenner in die oog, maar na ek só na die totale kyk, kan ek nie anders nie as om te sê dat die twee voertuie gelyk is. Die 2008 se binneruim is effens beter, en die T-Roc se enjin en ratkas weer effens beter. Indien jy in die mark is vir dié tipe voertuig – gaan toetsbestuur asseblief beslis albei; jy sal aangenaam verras wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.