Kyk hoe hop so ʼn weeldewa

Nee, dit is nie vir bendebase nie – al het die jongklomp op TikTok dit dalk só laat lyk …

Die nuwe Mercedes-Benz GLS se sogenaamde hop-funksie het ʼn doel, en ʼn belangrike een: die hoppende vering help ʼn Mercedes óf Maybach om uit die sand te wip, sou hy vasval.

In ʼn land waar die Mercedes-Maybach GLS600 jou R4,5 miljoen uit die sak gaan jaag, gaan jy waarskynlik nie die veld daarmee invaar nie. Maar die superrykes in ʼn plek soos Dubai gaan dalk van jou verskil.

Die Mercedes-Benz GLS is sy weelderigste SNV. Die S staan vir S-klas en GL vir die vervaardiger se sportnutsreeks. Die langste, slapste, luuksste van almal. Werklik ʼn imposante buks.

Die model waarmee ons tydens die bekenstelling gery het, is die GLS 450d. ʼn 3.0-inlynsessilinder-turbodieselenjin wat 285 kW en 750 Nm bied, is die kragbron wat aandrywing aan al vier wiele stoot.

Tussen die enjin en ratkas sit Mercedes se aansitter-opwekker. Dié elektriese motor word gebruik om die enjin aan te skakel en krag op te wek wanneer jy spoed verminder. Dit bied 15 kW en ʼn indrukwekkende 250 Nm. Dié word ontplooi in die toerestrek soos nodig as wringkragaanvulling om egalige kraglewering te bied. Die 450d-kragbron is ʼn juweel; lekker sterk en nie dors nie.

Binne voel die GLS katedraalagtig. Enorm, met drie rye sitplekke, sewe in die geheel. Elke sitplek verstel elektries en kan verhit, verkoel en masseer indien jy die opsie kies. Die reuseraakskerm vertoon alle inligting en die vermaakstelsel in hoë resolusie. Dit is mooi leesbaar en presies waar jy dit sou verwag.

Op die pad is waar die jongste GLS ʼn reusetransformasie ondergaan het. Die GLS raak sy massa en grootte baie makliker baas en die vering is ʼn fees. Dit lewer ʼn soepel rit sonder enige lawwe bakrol wat jy dalk van so ʼn groot voertuig sou verwag. Met nege lugsakke en elke denkbare veiligheidstelsel dink ek die GLS is ook net so veilig soos ʼn katedraal.

Ek sal die GLS só opsom. Persoonlik sal ek eerder ʼn S-klas-sedan in my oprit parkeer, maar talle mense soek die hoër bestuursposisie, groter grondvryhoogte en die idee dat sy bande bestand is teen slaggate. Indien jy die pitte het … is die kool beslis die sous werd.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLS 450d 285 kW/750 Nm 8 ????/100 km R2 304 700
Merceds-Benz GLS 580 380 kW/730 Nm 13.5 ????/100 km R2 840 600
Mercedes-Maybach GLS 600 410 kW/770 Nm 13.9 ????/100 km R4 500 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer met die GLS rondry en hom daarna met sy mededingers vergelyk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.