Luister: Dakar-oorwinning vir Toyota Gazoo Racing

(Foto: MCH Photo/Toyota Gazoo Racing)

Die Toyota Gazoo Racing-jaer Nasser al-Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel, het hul GR DKR Hilux T1+ in die laaste sneltrajek van die 2022-Dakar-veldtydren veilig oor die wenstreep gestuur en die byeenkoms algeheel met 27 minute en 46 sekondes gewen.

Dit is dié jaer van Katar se tweede oorwinning vir die span nadat hy die byeenkoms ook in 2019 vir Toyota gewen het. Terselfdertyd het Henk Lategan en Brett Cummings die krane in die doodsnikke van die byeenkoms oopgedraai en die dag se sneltrajek met 49 sekondes gewen.

Die oorwinning beteken ook baie vir die span wat die nuwe GR DKR Hilux T1+ ontwikkel het. Om die ren met ’n nuwe motor te wen, is bewys van die span se vermoë om voortdurend die grense van ingenieurswese te verskuif en beter motors te bou.

“Wat ’n epiese oorwinning vir Nasser en Mathieu en die hele span,” het Glyn Hall, Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, gesê.

“Om met ons nuwe GR DKR Hilux T1+ Dakar toe te kom en vir die eerste keer te wen, is ongelooflik. Ek wil graag hierdie oorwinning opdra aan die nagedagtenis van dr. Johan van Zyl, wat oor baie jare ’n visioenêre leier en volgehoue ondersteuner van die Toyota Gazoo Racing-Dakar-projek was. Ons is baie trots op wat ons vanjaar hier bereik het, en ek weet Die Dok sou ook gewees het.”

Die 2022-weergawe van die wêreld se moeilikste veldtydren het baie hoogtepunte en laagtepunte vir Giniel de Villiers en sy navigator, Dennis Murphy, opgelewer. Hulle het egter voortgejaag, een sneltrajek volwaardig gewen en ’n welverdiende plek onder die topvyf algeheel aangeteken.

  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.